Oomblikke van kindwees (Goud) 409 woorde
Jy kyk na die wêreld met optimistiese oë, luister daarna met gretige ore, drink dit in met al jou sintuie. Ek wens ek kon die sorgvryheid van kindwees vir jou iewers bêre waar dit kan groei tot iets wat sal sorg dat jy nie die belangrike dinge in jou lewe verlore sal laat gaan nie. Mý sorgvryheid het ek verloor, iewers in ons onverantwoordelike, onvergenoegde samelewing.
Die tevredenheid wat soms uit jou oë straal, wil ek vasvang tussen my twee hande en dit saggies voel fladder teen my vel. Ek wil op ‘n kombers onder ‘n wilgerboom neersak en voel hoe dit stilraak, so asof dit my vertrou en besef ek wil dit nie skaad nie, net ‘n paar oomblikke daarmee deel. Wanneer ek my hande eers op ‘n klein-klein skrefie, en later heeltemal oopmaak, moet dit bly sit en nie van my wegvlug, half dronkerig van my sweterige hande, al verder van my af nie.
Jou vrolike laggie speel wegkruipertjie met my. Dit loer vir my wanneer ek naderkom, maar dartel my ver vooruit. Dit laat my bakhand agterna hardloop, grypend daarna, net om dit weer om die volgende hoek te sien verdwyn. Wanneer ek dan eindelik die aftog blaas, weerklink dit vir oulaas nog guitig in my ore. Wanneer ek dit eendag vang, wil ek dit in die skatkis van kindwees bêre, sodat jy dit weer kan uithaal om jou grootmenstrane mee af te droog.
Wanneer jy met jou Superman-uitrusting voor my staan, wens ek daar wil ‘n bietjie van jou vryheid om te wees wie jý wil, in my pretensieuse litte kom inkruip. Jy slaap in jou Supermanklere, gaan winkel toe daarin. Jy het geen vrees dat iemand vir jou gaan lag of jou gaan spot nie. Wie is ek dan om altyd te wil wees soos ander mense my wil hê, te sê wat hulle graag wil hoor, te doen wat hulle graag wil sien?
Waar ek eindelik ná ‘n lang dag voor jou bedjie tot stilstand kom, vind ek myself in die onskuldige lyne van jou gesiggie. Wéét ek net dat ek eens soos jy was. Dat ek ook net die mooi in alles gesien het en gedroom het oor eendag. Wanneer jy omdraai in jou slaap en “mamma” prewel, weet ek dat jy verstaan. Dat jy my lankal vergewe het vir al my ongedurigheid, my alewige haas, my afskeepdrukkies en omkoopgeskenkies. Dat jy weet my ouerlike ontoereikenheid se naam was eens Onskuld.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir April 2024 - Uit die oog van 'n kind projek