Goue Herinneringe van Upington.
Die son luier op die horison van Upington en met sy goue strale vang dit klein stofdeeltjies vas. Die dorpie is geklee in ʼn goue sluier. Lien Meiring staan langs haar rooi Mini en kyk uit oor die vaal, verlate stofstrate. Haar hart voel vol weemoed as sy om haar rond kyk na bekende tonele voor haar. Die stilte van die platteland dring deur tot in haar siel, en vir ‘n oomblik voel dit asof die wêreld saam met haar asem inhou. Met ‘n sug stap sy na die voordeur van die bekende blou huisie op die hoek. Die geur van petunias hang in die lug. Met elke tree wat sy gee neem dit haar terug in tyd, na die plek waar haar lewe begin het.
Sy plaas haar tas in die spaarkamer van haar ouma se huis. Sy stap na die kombuis en ‘n golf van nostalgie oorval haar as sy die bekende reuk van vars gebakte brood ruik. Die eenvoudige kombuisie is nog net soos sy dit onthou het – die blink kombuiswasbak, die sagte getik-tak van die horlosie teen die muur en die warmte wat die vertrek vul.
Met ‘n sagte sug gaan sit Lien en laat haar hande oor die gladde oppervlak gly.
***
Eensklaps is Lien weer die sesjarige klein blondekopdogtertjie wat by ouma Lilly kuier.
Ouma Lilly glimlag sag terwyl sy die kookmelk geduldig staan en roer. Kling-klang, kling-klang. Die sagte klanke van die metaallepel teen die pot vul die kombuis en bring ‘n rustige atmosfeer na die vertrek. Sy kyk na Lien met liefde in haar oë en sê:
“Is jy reg vir jou kookmelk, my skat? Jy weet mos dat kookmelk kleine meisies sag na droomland vat?”
Lien knik opgewonde en kyk met groot oë na die pot op die ou geel koolstoof.
“Ja, Ouma! Ek hou van kookmelk, dit maak my magie so lekker warm van binne.”
Ouma Lilly lag sag en skink vir Lien ‘n bietjie van die warm melk in ‘n klein rooi erdebeker in.
“Hier gaan jy, my engel. Pas op dat jy nie brand nie, dit is nog bietjie warm.”
Lien neem die beker met beide hande vas en blaas saggies oor die oppervlak om dit af te koel. Die kookmelk se velletjie dans op die bokant van die warm melk.
“Dankie, Ouma.” Sy neem ‘n stadige slukkie en blaas weer saggies oor die melk voordat sy nog ‘n klein slukkie neem.
Ouma Lilly sit oorkant Lien. Sy kan haar verkyk aan die opgewonde klein mensie voor haar.
“Hoe was jou dag, Liefie?”
Lien glimlag breed met die wit melksnor op haar bo-lip. “Dit was baie lekker, Ouma. Ek en my maatjies het lekker gespeel by die ou pakhuis.”
Haar oë blink van opwinding soos sy oor haar dag gesels.
Ouma luister baie aandagtig na haar as sy vertel van feetjies en vlinders by potblou waterpoele.
***
Sy neem die ou album in haar hande. Sy dink terug aan haar kinderjare, aan die drome wat sy gehad het en hoe anders haar lewe uitgedraai het. Terwyl Lien deur die ou foto-album blaai, sien sy foto’s van haarself as ‘n jong dogtertjie, vol drome en ambisies oor wat sy eendag wil wees. Sy onthou hoe sy altyd ‘n vlieënier wou word, om hoog bo die wolke te sweef en die wêreld van bo te sien.
Nou, jare later, is sy ‘n suksesvolle argitek wat die vliegdrome vir groot geboue verruil het. Die vryheid wat sy in die lug gesoek het, vind sy nou in die skep van ruimtes wat mense se lewens verbeter. Maar nou het die lewe haar teruggebring na Upington.
***
Die geklop aan die voordeur trek Lien terug na die hede. Sy staan op en gaan maak die voordeur oop. Sy kyk verbaas na die halfbekende gesig voor haar. Herkenning flits deur haar oë as sy opkyk na die groot figuur voor haar.
“Klein Ben?” fluister sy uiteindelik. Die ongeloof slaan deur in haar stem.
Die man glimlag sag, sy blou oë straal van vriendelikheid.
“Dit is ek, Lientjie,” sê hy sag, sy stem so vrolik soos van ouds.
Emosies spoel oor Lien. Klein Ben, haar maatjie van jare gelede, die seun met wie sy ure deurgebring het om die geheime van die dorpie te verken, is nou ‘n sesvoet man! Sy herken nog die gelaatstrekke wat sy so goed kan onthou, die vonk van avontuur dans in sy oë.
“Ek kan dit nie glo nie,” sê Lien.
“Hoe lank is dit nou al?”
“Kom binne, kom sit.”
Klein Ben glimlag en volg haar na binne.
“Ek is so jammer oor jou ouma, sy het nooit ophou praat oor jou nie. Sy was baie trots op jou.”
Lien sit langs Klein Ben in die voorhuis en gesels tot die skemer hulle omring.
Hulle onthou een spesifieke dag toe hulle skelmpies in die kanaal gaan swem het. Die atmosfeer is gelaai met opwinding en nostalgie as hulle gesels.
“Ek kan nou nog die yskoue water onthou,” sê Lien, haar oë skitter met die herinnering.
“Ja, en die vreugde van vryheid terwyl ons soos visse deur die kanaal swem.”
Klein Ben lag sag. “Ja, en onthou jy toe ons amper deur jou pa betrap is?”
Lien skaterlag. “O, ek sal dit NOOIT vergeet nie. Ons het soos die wind gehardloop, albei sopnat! Ek hoor nog sy kwaai stem tussen die riete.”
Terwyl hulle herinneringe deel, herleef Lien ‘n stukkie van daardie onskuldige jare as ‘n kind. Dit is soos om ‘n vergete skat te ontdek in die stof van die verlore tyd. Vir ‘n oomblik voel dit weer asof die wind deur haar hare waai terwyl sy saam met Klein Ben deur die veld hardloop, sonder om aan môre te dink.
Die geselsie met Klein Ben bring die vryheid van vergete jare terug, laat haar toe om vir ‘n oomblik net weer die kind te wees was sy was.
Die aand val stadig om hulle, maar vir Lien voel dit asof die tyd vir ‘n oomblik stilstaan. Haar hart is vol, gereed om die wêreld in die oë te kyk as sy môre vir Ouma Lilly gaan groet.
Toe die Aandster aan die hemel verskyn het Lien opgestaan. Sy het geweet dit was tyd om afskeid te neem, nie net van Klein Ben nie, maar ook van die kind wat sy eens was. Sy het na haar ouma se kamer geloop, die vrou wat haar geleer het kindwees.
“Tot weersiens, Ouma. Jou liefde sal altyd my gids wees.”
Met ‘n hart vol dankbaarheid val Lien Meiring die volgende dag in die pad. Upington sal altyd deel van haar wees, maar nou was dit tyd om haar eie pad te loop, met die sekerheid dat die liefde en onskuld van kindwees haar sou dra waar sy ook al gaan.
©MarleneErasmus
22/04/2024
(1137 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir April 2024 - Uit die oog van 'n kind projek