Jongste aktiwiteit:

‘n Ondersoek na wysheid in onskuld.

‘n Ondersoek na wysheid in onskuld.

In ons gejaagde wêreld waar volwassenheid gereken word as ‘n maatstaf vir wysheid en insig, is dit so maklik om die sagte fluisteringe van ‘n kind se siel te mis. Maar wat as ek sê dat die ware kern van wysheid soms in die eenvoudige, onskuldige beskouing van ‘n kind gevind kan word? Ja, jy hoor reg, deur die oog van ‘n kind kan ons soms die mees pittige en suiwerste insig verkry.

Wanneer ons na die wêreld kyk deur die lens van kinders se verbeelding, ontbloot dit dikwels ‘n onskatbare bron van waarhede. Kinders sien die wêreld net heel anders, hulle kyk sonder die vertroebelde bril van vooroordele en vooropgestelde idees. Vir hulle is ‘n blom nie net ‘n blom nie, dit is ‘n wonderwerk van kleur en vorm, ‘n wonderwerk in hul wêreld. ‘n Plas water word vir hulle die wye oseaan. Die son kom op soos ‘n groot, goue bal. Die wêreld draai vir hulle soos ‘n kleurvolle tol, elke draai dui vir hulle ‘n nuwe avontuur aan.

Vir ‘n kind is daar meer as net die eenvoudige skoonheid van die natuur. Uit die mond van ‘n kind kan daar ‘n oorvloedige fontein van wysheid vloei. Hulle huiwer nie om die vrae te vra waarvoor volwassenes bang is om te vra nie. Hulle sien dikwels die antwoorde wat ons miskyk. Hulle is altyd gereed om te ontdek en dinge te bevraagteken.

Angela Schwindt het eens gesê: “Terwyl ons ons kinders leer van die lewe is dit dikwels ons kinders wat ons leer waaroor die lewe gaan.”  Dalk is dit waar die kern van wysheid lê – nie in die versameling van kennis nie, maar in die behoud van kinderlike verwondering en opregte nuuskierigheid.

Daarom, mag ons nie blind wees vir die lesse wat ons uit die oog van ‘n kind kan leer nie. Laat ons eerder hul spontaneïteit omarm, hul onbevange beskouing van die wêreld waardeer, en onsself herinner aan die eindelose moontlikhede wat voor ons lê, as ons net bereid is om te kyk deur die oë van diegene wat ons dalk as die “kleinste” beskou.

Op ‘n dag, terwyl ek in Namakwaland was, het my jong dogter na ‘n ou oom staan en kyk wat met ‘n ‘n treurige uitdrukking op sy gesig voor hom sit en staar het. Sonder om te huiwer het sy nader gestap en gevra, “Oom, is oom hartseer?” Die ou man het verbaas gelyk, duidelik nie gewoond aan die aandag nie. Hy het gesê, “Wel, ek mis my vrou. Sy is nie meer by my nie.”

My dogter het geglimlag en gesê: “Oom, as jy na die blomme kyk en die mooiste een uitkies, kan jy maak asof dit sy is, en dan is sy by jou.” Die eenvoud waarmee my kind die oom getroos het, het hom duidelik geraak. Hy het opgekyk na die blomme voor hom, ‘n glimlag het op sy gesig verskyn, en vir ‘n moment het hy van sy hartseer vergeet. Die gebeurtenis het my diep geraak en ek het besef hoe kragtig die onskuld van ‘n kind kan wees.

Dit laat my wonder oor die ervaring wat kinders het van die wêreld, maar dalk moet ons net vir ‘n oomblik dink hoekom kinders so opreg en vreugdevol is. Ons lees in Markus 10:15 hierdie woorde: “Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

Kinders kyk beslis met ander oë na dinge, hulle leef vol vreugde omdat hulle weet hulle ouers sal voorsien so ver hulle kan. Hulle is so opreg omdat die wêreld met al probleme nie ‘n uitwerking op hulle het nie. Hulle is opreg en nederig in hulle optrede omdat hulle nie beperkings het nie.

Laat ons die lewe nie langer ervaar as ‘n las nie, maar eerder as ‘n geskenk. Mag ons anders na die wêreld kyk omdat ons weet dat daar ‘n Vader in die hemel is wat ook na ons omsien. Miskien, net miskien, sien ons ook die wonderlike wêreld soos deur die oë van ‘n kind.

©MarleneErasmus




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Wilma het n geregistreerde lid geword

  • Carlien Lid se profiel foto het verander

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak