Jongste aktiwiteit:

‘n Skatkis vol heimwee

(Brons)

Kaalvoet staan jy met jou hele wese ontbloot, terwyl die brander’s jou saggies omsingel. Die koel seelug briesie wat jou hart en siel kom skoonwas. Die brander’s wat jou toevou so asof hulle jou wil beskerm teen al die aanslae van die lewe.

Die Namakwaland Nasionale Park se kus, dis waar ek my hart verloor het. Dis waar ek my sielskos kry. Ongerepte natuur wat jou vasvang in ‘n plek waar geen tyd bestaan nie, net jy en jou Skepper en die groot oseaan. Wit strande hier en daar en kristal helder water wat soos ‘n skatkis lyk, gevul met helder kleur klippies en skulpe en die natuur is opgetooi in die mooiste blommeprag. Daar is sonsondergange wat jou hart vir ewig sal vasvang.

Die stilte terwyl die see se brander’s saggies soos ‘n fluistering oor jou gees kom spoel. Hoe jy voel hoe jou siel skoongewas word elke keer wanneer die brander’s terug trek en jou verlate agterlaat en dan om net weer terug te kom en weer oor jou siel te was.

Waar jy een word met jou Skepper, Sy liefde voelbaar in elke asemteug wat jy in neem. Hoe die klam seeluggie jou gesig kom omvou en oor jou wange kom streel… jou Skepper wat jou met Sy liefde soos ‘n wol kombers kom toevou, veilig en beskut.

Kaalvoet staan jy terwyl die see sy brander’s terugtrek, jou voete diep gewortel in die seesand wat jou gevangene hou en waar jy verwese wag vir die branders om jou weer te kom bevry. Die gedruis in die agtergrond waar die brander’s breek, ruk jou siel tot stilstand en verwonderd staan jy in Sy Grootheid terwyl die koel seebries oor jou gees kom streel, waar jou siel tot op die wortel ontbloot word voor jou Skepper.

Die see fluister sy hartsgeheime aan jou terwyl die brander’s om jou breek. In die verte speel ‘n paar dolfyne en dan uit die bloute verras ‘n walvis of twee jou. Jy staan verwonderd oor hierdie klein bederf terwyl ‘n glimlag aan jou mondhoeke pluk. Jy voel weer die koel seebries wat oor jou hare speel en jy weet hier staan jy nie alleen nie, hier is jy een met jou Skepper, veilig toegevou in Sy arms.

Jou hart voel lig en vry terwyl die brander’s om jou speel. Jy voel hoe die geluk uit jou binneste borrel, soos ‘n fontein wat oorloop en jou siel kom bevry. Jou kom skoonwas van alle seer en bekommernis. Hierdie pragtige plek wat soos ‘n skatkis lê en wag, hierdie prag plek is kos vir my siel en my hart!

Soms het mens net ‘n bietjie nodig om alleen met jou Skepper te wees. Om net stil te raak en Sy Grootheid in als om jou raak te sien. Die fluistering van Sy stem in die koel seelug bries. Die rustigheid wat oor jou spoel met die branders wat in die agtergrond breek. Om net weer mens te wees en als om jou te waardeer, die lewe is so kosbaar!

©Madzi




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed