‘n versie vir jou (silwer)
‘n versie vir jou
jy is my asem en my hartklop
al die onthou se prentjies in my kop
‘n dapper ridder en my hoop
die een wat altyd langs my loop
jy is koue bier en vonkelwyn
my gunstelingliedjie se refrein
‘n noordewind wat reën sal bring
die lig wat donkerte verdring
jy is my anker en my kompas
jy hou my hart in jou hande vas
jy is Orion en Suiderkruis
my roetemerker en my huis
jy is die Bybel langs my bed
die een wat my telkemale red
die oggendgroet van die kelkiewyn
soggens vrolik in my tuin
jy is my uitgerekte winterstrui
al my sondes wat ek bely
my spieël en my klankbord
jy is alles wat ek graag wil word
©Hester Steenkamp
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2023 OOP projek