Namibsreën
Reën in die Namib is ‘n rare verskynsel, iets wat ons kusbewoners uiters selde beleef en waarna ons uitsien met ‘n anderse gevoel as na reën in ons droë binneland. Ons verwag dit nie eintlik nie, maar ons smag daarna en ons waardering daarvoor is soveel groter juis omdat dit ons nie eintlik toekom nie.
Sy kan kom in vele gedaantes. ‘n Deurnagreën waarvan jy slegs bewus is as jy dit op jou dak hoor, soos die wind se fluistering, sag, gerusstellend. Soos daardie Paasnaweek in Maart 1999. Ons het die wolke sien opbou en toe dit laat die Donderdagmiddag begin reën, deurdringend, maar sonder groot geskal, het dit eers weer Maandag opgehou…. en ons gelaat met dakke wat lek, modderpaaie, maar ook die Omarururivier wat in ‘n dun stroompie die see bereik, ‘n Omdeldam vol water en die woestyn wat soos ‘n blomtuin lyk.
Of daardie keer in Januarie 2000 toe ons haar by die Spitzkoppe gaan kry het. Van vêraf het ‘n dik mislaag oor die koppe gehang, asof toegevou in ‘n wasige bruidsluier, voor die storm… ‘n behoorlike stortbui wat met ‘n dringendheid emmers water oor die koppe uitgooi sodat dit soos watervalle teen die gladde graniet afstroom en die poele in sekondes vol loop. Honderde paddatjies wat oombliklik van nêrens af hul verskyning maak en die lewe met jare se opgekropte energie aangryp en saam met ons jubel oor die reën.
Maar soms kom sy met mening om die droogte in ons dor woestyn ‘n punt te wys. Soos die keer in April 2006. Donker, dreigende persblou donderweer het van die ooste af aangekruip al met die Swakoprivier langs. En jy wonder nie meer nie, jy wéét hier kom ‘n ding en ‘n klein bietjie bang kom sit in jou gemoed want jy is nie meer sulke weer gewoond nie. En hier is nie stormwaterafloop nie – want dit reën mos nie teen die kus nie…
Dit donder en blits dat hoor en sien vergaan en dit stortreën op Shoprite se dak. Al wat ‘n hol ding is word van die boonste rakke afgehaal om onder die strome water te pak wat deur die dak lek en dreig om die winkel te oorstroom. Twintig minute staan ons op die winkel se stoep en beskou dié spektakel en kyk hoe die water voor die straat soos ‘n rivier opstoot. ‘n Volle duim, 25mm, het dit in daardie kort tyd gereën – dit is die strome van seën waarvan ons kleintyd gesing het. Die Swakoprivier kom in ‘n siedende bruin watermassa af see toe, ‘n rare gesig en vir weke lank lê die see soos ‘n modderdam weerskante van die rivier se inloop met opdrifsels op die strand tot by die kaai.
Meesal kom sy skugter met ‘n sagte voetval oor die gruisvlaktes van die Namib, ‘n stille lafenis vir ligeen en soutbos en die klein diertjies van die veld. Sy loop ons vooruit in die ry na die een of ander afgeleë wegkruipplekkie in die woestyn waar ons haar voetspore gaan soek. En meteens soos met die swaai van ‘n towerstaf is alles rondom ons grasgroen. Die vlaktes wat nounet nog swart en doods vertoon het, het skielik in ‘n groen tapyt verander, ‘n tapyt van sagte groen ligene wat onmiddellik met die geringste voggie hulle sagte “blaartjies” oopkrul om te fotosinteer. ‘n Rare geskenk aan haar veldkinders.
Die grootste skouspel is egter donderweer oor die see met weerligstrale wat die donker nag in skerwe sny en helder ligstrale oor die see speel. Daar vind ‘n atmosferiese verandering plaas, die akoestiek verhoog en die seegedruis weergalm oorverdowend asof die branders op jou voorstoep breek. En die reuk van reën wat in die lug hang verplaas my na ‘n ander tyd op ‘n ander plek waar reën amper net so skaars was en net so ‘n groot wonder in die gemoed van ‘n jong kind of ‘n geharde boer wat ‘n traan kon stort oor die blydskap en uitkoms wat dit sou bring.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.