Jongste aktiwiteit:

Net voordat jy gaan

(ek weet …
dit klink dalk als ‘n bietjie deurmekaar)

en ek wéét ek praat te veel
ek sien jy’s haastig om te ry,
maar
ek wil net hê jy moet verstaan

net voordat jy gaan;

my Boland berg lê blou
die kwikstert het ‘n nes gebou
en drie eiertjies gelê
in die middel van my tuin is daar ‘n boom
soms …
soms sal ons in skadu’s woon

die môre-son se straal is sag
wyl lelies oopbek vir haar lag
(ek wou jou dit net sê)

die maan hang in die hemel rond
maar wolke reën tot op die grond
en water maak mos alles nat
maar ek hou van hoe die druppels
teen die ruite van my houthuis spat

almal kry soms seer
wat verby is
is verby
mense sê vaarwel
maar vaarwel’s te swaar vir my

baie dinge laat my huil
ek voel die traan wat in jou skuil
maar pyn kan ook genesing bring

ek begeer geen goue ring
of skitterende diamant
al wat ek jou ooit sal vra, is
wys my soms jou sagte kant

die wêreld lê vir ons en wag
maar ons het eintlik
net vandag
die toekoms blý maar ongebaan

ag, ek weet ek praat te veel
(soms
wil ek maar net my denke deel)
en ek hoop jy sal verstaan

net …
net voordat jy gaan

© Carma Shaw
14 Oktober 2014




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed