Nie
Nie
(Brons)
1240 woorde
Woorde kan ‘n mens maak of breek. Woorde kan soms misverstaan word en dit veroorsaak soms baie ongelukkigheid. Dan is daar ‘n hele rits woorde wat deesdae algemeen gebruik word in die gewone omgangstaal, woorde wat jare gelede as taboe in enige ordentlike geselskap beskou is. So is daar baie woorde wat andere aanvaarbaar vind, maar waarvan ek glad nie hou nie en die kinders met wie ek werk weet ook hoe ek oor daardie spesifieke woorde voel. Vloekwoorde, gekruide woorde, kragwoorde, maar ook neerhalende, verkleinerende woorde. Deesdae is al wat film is deurspek met, na my mening, ontoepaslike en ongepaste woorde en dit maak dit byna onmoontlik om dan nog na sulke films te kyk. Lastering van die Here se naam, seksuele terme en uitdrukkings en die absolute walglike afkraking van mense en selfs rassistiese en seksistiese woorde waarmee mense dikwels probeer skok of dalk iets probeer bewys. Dalk is dit juis hoekom baie van hierdie woorde kragwoorde genoem word. Maar dan is daar vir my die ooglopend dood onskuldige drieletterwoordjie wat ons almal elke dag gebruik, wat amper meer taboe is, of in elke geval behoort te wees, as hierdie genoemde walglike woorde. Tereg kan dit ook as ‘n kragwoord beskou word, want die uitspreek daarvan is ‘n vernietigende en verdoemende krag. Ek praat van die woordjie ‘nie’ So kort, maar tog so veelseggend. Dit verander soms die hele gesindheid en atmosfeer van ‘n gesprek. Dit verander soms mense se hele persoonlikheid en omstandighede.
“Ek sal …”
“Ek sal nie.”
Stel jou voor jy vra vir jou tienerseun om vir jou die gras te sny. Of vir jou dogter om die kombuis vir jou skoon te maak. Of jy vra bloot net vir jou effens jonger seun of dogter om vir ‘n rukkie langs jou te kom sit. Of, as jy ‘n dame is, vra jy dalk vir jou eggenote om saam met jou winkel toe te gaan. (Ons hou gewoonlik nie daarvan nie) Dan is een van die twee opsies hulle antwoord. Die eerste antwoord toon bereidheid en ook respek en vra soms selfs ‘n bietjie opoffering Die tweede antwoord toon die teenoorgestelde, amper ‘n soort van opstandigheid. Jy hoor amper die antagonisme in sy of haar stem. Net een woordjie, tog maak dit so ‘n groot verskil.
Ons lees in Exodus 3 en veral 4 van Moses se roeping. Telkemale bevestig God aan Moses dat Hy hom roep, toerus en uitstuur, maar elke keer reageer Moses deur te sê hy kan NIE. Die volk gaan nie luister nie, hy kan nie praat nie, hy weet nie wat om te sê nie, ens. Eers toe hy die nie uit sy spraak haal, verander dinge en lei hy die volk die beloofde land binne.
Dan is daar die lewensveranderende effek wat hierdie woordjie impliseer. Ek werk nou al vir die laaste amper dertig jaar elke dag met kinderhuiskinders, seergemaakte, vernielde kinders. Wanneer ek met daardie kinders gesels, hoor ek dikwels:
“Ek kan my ouers nie vergewe NIE” of
“Ek sal myself nooit kan vergewe nie”
Daardie nie vernietig, want sonder vergifnis kan geen mens gelukkig wees nie. Dat die kinders so voel is verstaanbaar, maar vernietigend, want ek kan nie in die lewe aanbeweeg as ek nog haat of verbittering in my ronddra nie, ongeag wie of wat die omstandighede is. Erger nog is wanneer ek hierdie woordjie gebruik wanneer ek na myself kyk en myself oor iets nie kan vergewe nie. Skuldgevoelens oor dit wat ek dalk lank gelede in my lewe aan myself gedoen het, of iemand anders aangedoen het of dit wat ek dalk in ‘n onbesonne oomblik aan iemand gesê het. Of dit wat ek dalk nie gedoen of gesê het toe ek dit moes doen nie. Soveel huwelike beland vandag in die egskeidingshof oor die afwesigheid van daardie een woordjie – ek vergewe jou … Soveel jong seuns en dogters pleeg daagliks selfmoord as gevolg van die aanwesigheid van daardie een woordjie.
“Die lewe is NIE die moeite werd NIE”
Dink een oomblik aan die volgende sinnetjies en die effek daarvan op jou wat dit moet aanhoor.
Ek vertrou jou (nie)
Ek glo (nie) jy kan (nie)
Jy sal dit (nie) maak (nie)
Jy is (nie) goed genoeg (nie)
Hoeveel maal maak ons as volwassenes ons nie skuldig aan die misbruik van hierdie soort van opmerkings teenoor ons kinders nie en ons besef nie watter negatiewe uitwerking dit op hulle het nie. Kom ons luister na die boodskap van 1 Korinthiers 13, die verhaal van die liefde, maar kom ons luister daarna as die “nie” nie daar is nie.
Die liefde is jaloers, praat groot en is opgeblase. Die liefde handel onwelvoeglik, soek sy eie belang, word verbitterd, reken die kwaad toe. Die liefde is bly oor ongeregtigheid.
Klink dit reg? Nee, beslis nie. Is dit nie juis die rede vir soveel mislukte verhoudings nie? Jaloesie, bitterheid, grootpraterigheid! Hierdie afwesigheid van nie vernietig en maak dood. Dit dryf mense weg van mekaar af en maak van hulle eensame mense. Ek wil nie saam met iemand leef wat die hele tyd opgeblase, jaloers, grootpraterig en verbitterd is nie.
Helaas, is dit gelukkig net die een kant van die muntstuk. Net soveel negatiwiteit as wat in hierdie woordjie opgesluit kan wees, net soveel positiewe elemente is egter ook daarin opgesluit en dit kan bevrydend wees. Kom ons luister na die volgende stellings:
“Ek is (nie) bang (nie)”
“Ek is (nie) ‘n mislukking (nie)”
“Alles is (nie) verlore (nie)
Met die nie, is ek ‘n verloorder, maar sonder die nie is ek ‘n oorwinnaar. Ek het vroeër in hierdie skrywe melding gemaak van die kinders in die kinderhuise saam met wie ek nou al so lank ‘n pad loop en soveel van hulle wat hulle ouers nie kan vergewe vir dit wat hulle aangedoen is nie. Hulle is gewoonlik die moeilikheidmakers, die moeilik aanpasbares en hulle word dikwels verbitterde volwassenes. In die meeste gevalle loop hulle maar dieselfde paadjie as hulle ouers. Vir geslagte lank beland die kinders in alternatiewe sorg. Baie maal sweer die kinders dat hulle nooit soos hulle ouers sal word nie en dat hulle kinders nooit in die kinderhuis sal beland nie en tog gebeur dit. Hoekom? Want die nie, het die sterkste en die oorheersende faktor in hulle lewens geword. Die nie het ‘n lewenswyse geword. Die nie het hulle negatief gemaak. Daar is egter ook talle verhale van sukses, van kinders wat , ten spyte van kinderhuisplasing, bo hulle omstandighede uitgestyg het en bo uitgekom het, talle van hulle suksesvolle besigheidsmanne en -vroue. Weereens kan ons vra – hoekom? Want hulle het geleer om te vergewe. Hulle het die kuns van die afwesige nie bemeester.
“Ek kan jou … vergewe …”
As daar een ding is wat die lewe my geleer het, is dit dat die negatiewe nie nie ‘n opsie is nie. Dalk is jy ook vandag een van daardie mense wat nog te veel beheer toelaat aan die woordjie nie en wat dan ook vir jouself sê jy is nie goed genoeg, slim genoeg, sterk genoeg of mooi genoeg nie. Doen jou vanaand die guns om vir jouself in die spieël te bekyk en dan met jou self te praat, maar sonder die negatiewe nie.
Ek is mooi.
Ek is sterk
Ek is slim
Ek is kosbaar
Ek is goed genoeg
Ek is tot alles in staat
Ek is ‘n oorwinnaar
Ek is ‘n koningskind
Ek is spesiaal.
Ek kan!
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Oktober 2024 – Afrikaanse woord projek