Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: NO REGRETS, IN AFRIKAANS

Deur GhwarriegatQueen
Datum gepubliseer: 8 Januarie 2020 Aantal woorde: 1193 517 Kere gelees 18

NO REGRETS, IN AFRIKAANS

Weet nou nie of dit iets te doen het met die anderster manier waarop my Bloudruk gekoppie en pasta (copy and paste, mos☺️) is binne-in hierdie wise-ass hart van my nie; maar ek is nie lief vir ‘n inkopiesentrum met winkel tot winkel mense wat soos ‘n verlore Egiptiese plaag my rede en vrede uitdaag nie – tog…. Tog, doen dit iets vir my gees se pieniekmaak in die wegverloor van my menswees om in daai einste inkopiesentrum iewersters my staan of sit te kry en met my siel-hande die kontoere van elke verbyganger se gesig, se voetspore-maak, ag sommer hul kleredrag aan te raak. Dan voel dit of ek saam met Liewe Jesus sit en mens-kiekies kyk.
Enne van kiekies gepraat, nê – so is ek nou die ander dag saam met ‘n vriendin in een van daai ‘Egiptiese’ winkelplekke – so hol sy by ‘n kiekieplek in en so besluit ek om buitekant vir haar te wag…… en ek kyk mens-kiekies saam met Liewe Jesus.
Vriendelik. Bot. Nors. Joviaal; blaai ‘n Sho’t Leftengeltjie die foto-album oop.
Daar staan ek heel ordentlik (okay – feitlik-ordentlik☺️) daar voor die kiekie winkel, en soos hulle op goeie Afrikaans sal sê: Minding my own business, soortvan nou; toe ‘n tante met een van daai alfabet-hemde (t-hemp, man… tsk) met ‘n spoed verby my gevlie kom⚡ En op daai swart alfabet-hemp staan in sulke GROOT letters geskryf: DEFEAT DAY ZERO.
Net vir so afbreek-stukkie van ‘n sekonde oorweeg ekke dit om agter haar aan te vlie – ek meen nou maar net, nê; Bokkie my babie, as sy weet van die een of ander vyand wat op pad is, sal ek bitterbaie graag wil weet wat ek sal moet doen om te wen. Per dalks sal so titseltjie bos-karate werk; ek ken hoeka ‘n paar netjiese maneuvers. Maar sê nou dis een van daais waarvoor ek liewersters voor moet weghol? Dan sal ek dit darem met die nodige finesse en piëteit wil doen – ek glo nou maar eenmaal ‘n vrou moet styl hê. Styl, jy het dit of jy het dit nie. ‘n Vrou het darem haar trots, mos!
Ewentewille…. Terwyl ekke nou so tussen besluite is of ek nou die tante moet inhol of nie; kom ‘n half (net so halfies) dikbek man verby gestap, sy alfabet-hemp so ietwat styf oor sy… ê, sy borskas wat afgesak het. Maar dis sy agterkant (eintlik sy hemp s’n) wat nogal storiemaak waardig is. Daar staan ewe spoggerig geskryf dat jy Salon RipCurl moet besoek – dis nou vir die beste resultate sou jy wou hare perm (ja, Bokkie my babie, ek weet dis golf; maar die oom se alfabet-hemp was Ingels), en dis vir ‘n oomblik vir my heel prysenswaardig dat die man nou bereid is om helder oordag sy lyf advertensiebord te hou vir ‘n geliefde se besigheid….. Maar.
Maar toe ek my twee oë RipCurl na sy kop, verloor ek net daar tydelik my vertroue in my ewenaaste. Sien, die man het net ‘n klein bietjie hare wat oor sy Kojak-kop gerangskik is, soort van nou – en dis so kort gekeer soos Gordon Ramsey se humeur.
Niks, ek oordeel nie sy voorkoms nie; maar sien nê – per dalks is dit my wise-ass hart se skuld… Net vir ‘n stukkie minuut kan ek myself nie help nie; sien ek daai man mos met ‘n welige boskaas; in my verbeelding sien ek hom inloop by Salon RipCurl en…. Of kom ek stel dit so – ek sien hom daar inloop met ‘n André Agassi haredos (soos voor hy nou ter wille van die gewete gebieg het dat dit eintlik ‘n pruik is) en so in Faikonta sien ek hom weer daar uitloop – nadat hy geRipCurl is – met ‘n half baster Kojack haarstyl, duidelik ‘n flop! So sy alfabet-hemp is mos misleidende advertensie; jinne.
Hoe ookal – die man met sy jokmond-hemp raak wegverloor tussen die ander mense enne….. Skielik vang my oog so half slap verby ‘n vrou wat potte of iets probeer verkoop, daar staan vonkel in die oog kinder(speel)goeters. Joh, Bokkie my babie, daar staan ‘n motorfiets – so blinke; nes David Essex se ‘Silver Dream Machine’. En vir ‘n windverflenterde oomblik oorweeg ek dit om langs daai droommasjien te gaan staan: ‘I have a dream, a silver dream machine’ – en dan vra ek sommer die sekuriteitman daar naby om ‘n kiekie te kliek……Eish.
Net betyds onthou ekke dat ek nie sexy of mooi is nie en dat daai kiekie nie baie goed gaan lyk nie; nie eers in Faikonta nie.
Maar gepraat van Faikonta – ek is darem steeds (min mense weet dit) Laika, Faikonta se eie persoonlike koningin; en voordat ek my polse kan afbyt oor my gebrek aan sexy en mooigeit, toe sien ek langs die dream machine staan ‘n ougat motorkarretjie met ‘n breëbek glimlag en twee lag-oë… Driving miss Daisy, of miss Liza🚘 Daarvoor is sexygeit mos nie nodig nie.
So, terwyl ek vir KleinVolla terug glimlag, sien ek die veelkleurige unicorn langs hom staan; en amper kestamper waai ek vir haar – omdat en oordat sy baie lyk soos Matilda, koningin Laika se tower unicorn in Faikonta.
Ek gee een treë vorentoe, nog ene; en dan weer terug (lyk omtrent of ek Cha-Cha) – ‘n kiekie in KleinVolla of amper beterder; ene bo-op Matilda se rug, dit sal mos nou marvelstruct wees! Al sal die ander mense ook nou dink: we found the cuckoo who flew over the nest, allright😎…. Ek wik. En ek weeg; en ek Cha-Cha – sal ek of sal ek nie… Cha-cha.
Cha… Ek voel die ligte tikkie op my skouer, my vriendin is klaar in die kiekieplek. Ons koers weg van die vonkel in die oog kindergoeters af; besluit om ‘n bietjie koffie te gaan vat by Wimpy. En dis so in die loop wat ek nie andersters kan as om te lees wat op die meisiekind (wat lyk asof sy reg op my afgestap kom) se alfabet-hemp gegraffiti is: NO REGRETS… Ek voel sommer om aspris aan die tjank te gaan.
Dink dis wat Paulus bedoel het toe hy gesê het dat hy die wedloop klaargemaak het, die goeie stryd gestry het, en die geloof nie laat gaan het nie – No Regrets!… Ek het ‘n paar regrets, in Afrikaans, al is die woord in Engels. Eintlik het ek helemal te veel, meer as wat rêrig-êrig nodig is te veel. En hier het ek vandag nog ene bygekry – jinne, Bokkie my babie; ‘n honor bright kiekie van Laika op Matilda se rug sou mos meer mooierste gewees het as net ‘n Faikonta ene! Nouja, dis die ou lewe vir 1pond7…. Maar die dans gaan aan; en wie weet – per dalks aspris per ongeluk kry ek die jaar die Cha-cha verruil vir die vlam en die vuur van die PasoDoble.

Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; en mag jy ook aan die einde van hierdie jaar met oorgawe kan sê: Ek het no regrets in Afrikaans, al is die woord in Engels.
©Liza Daniells




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 78
Kommentaar telling: 24

Vergun my net so n skeutjie se agtergrond; seblief - Ek sal dit kort hou. Ek was vir 26 jaar (van ouderdom 8 jaar) vasgevang in prostitusie, delms, satanisme; ens. Ek sal jou nie opsaal met die detail nie. Ek is nou al 21 jaar deur God se genade vrygemaak van daai boeie van die verlede; maar ek ervaar steeds baie vervolging en verwerping van kerk en Establishment. En - verloor om n laaang storie kort te maak, ek het net mooi ALS - letterlik en figuurlik verloor. Hoeveel maal in die winter moes ek fisies op straat slaap; enne is nou een keer gegangrape......nou sit ek met serviks kanker. Maar dis nie die punt nie. Nie nou nie, in elk geval. Ek wil nie chemo of n hospitaalbed he nie. Ek wil weer die seesand onder my voete voel; die see sien. Ek is onherroeplik mal vir die see; vir mooi, ou Kaapland. Ek wil waag om te glo in die gebeur van n wonderwerk. Weer geluk vind; liefde. Ek wil LEWE!!!

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

SOLIDARITEIT – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 97 gaste aanlyn

Bydraes – Argief