Jongste aktiwiteit:

Oktober 2024 – Afrikaanse woord projek – Kommentaar en uitslae

Baie geluk aan hierdie 10 lede!
Wenners:
Gedigte:
BRONS:
1ste – NO. 5 Coenie Horak met Verootmoediging
2de – NO. 18 Retha van Deventer met Stofpad
3de – NO. 7 Coenie Horak met Lankmoe ( r )digheid

SILWER:
1ste -NO. 14 Hester Steenkamp met Vuurvonke
GEEN

GOUD:
1ste – NO. 9 Andries Fourie met Reën
2de – NO. 15 Elize Kruger met Kleinteater
3de – NO. 10 Elmarie Nienaber Van Kampen met Poësie

Menings:
1ste – NO. 1 Ano met Hups
2de – NO. 2 Marlene Erasmus met Epikuris
GEEN

Rubrieke:
1ste – NO. 5 Marlene Erasmus met Vakansie
2de – NO. 2 Hennie du Toit met Nie
GEEN

Artikels:

1ste – Pieter Mostert met Liefde

Verhale:
1ste – NO. 1 / Marthie Joubert met Dollarnoot
2de – NO. 2 / Retha van Deventer met Bloedspoor
GEEN

KOMMENTAAR

BRONS:
3. Snoesig
Ek hou in besonder van jou nuutskepping. Die sonnet versvorm is korrek. Die konstruksie van die vers is egter sonder die nodige vloei. Kyk hoe kan jou oktaaf maklik aangepas word sodat dit lees soos ons praat. Die weglating van lid- en koppelwoorde maak die lees daarvan baie moeilik.
“Ek strek myself vroeë oggend na ses
in `n nuwe dag as geskenk
en spring op sodat die strale my drenk
geklee in `n sonjas as snoesige nes.
Met `n wilgertak gevleg as koelteband
wanneer die son té warm is lawe dit my
vou knus om my siel te bevry
as die strale gena’loos neerbrand.”
Ek het so paar aanpassings gemaak. Onthou dat elke woord wat jy oorweeg vir insluiting behoorlik geëvalueer moet word. Jy kan nie lukraak woorde uit die lug gryp net om óf `n rympatroon te voltooi óf om sinne vol te maak nie. As jy dig soos jy daagliks praat sal jy vind dat dit baie natuurliker gebore word.
Die titel en die inhoud staan wat my betref mooi in verband. Baie mense sal dink dat snoesig slegs kunsmatige hitte voorstel, soos onder `n kombers in die winter, maar nee; snoesig in sy breë definisie beteken ook “warm” “erg warm” ens. tydens die somermaande.
Let op onnodige herhaling in jou digwerk. Daar is eenvoudig net té veel sinonieme in die Afrikaanse leksikon sodat ons as skrywers nie nodig het om monotoon te klink nie. Buiten die paar uitdagings wat ek uitgewys het, voel ek steeds dat jou vers vermaaklik is en dat jy jou goed gekwyt het.

5. Verootmoediging
Laat ek eerste begin by die titel en die inhoud. Dit hou sterk verband met mekaar, en ek haal my hoed af vir jou om so `n gewigtige tema (woord) te kies, en dit dan met soveel oorgawe en “liefde” te behandel. Jy het `n merkbare gawe om met woorde, hul vorm, orde en bruikbaarheid om te gaan. Konsepte soos: “dwarsdeur die pekel van pyn te beur” ; “my vol kwota tongstorms onbely” onder andere, is eenvoudig onoortroffe taalkuns. Jou sonnet voldoen aan al die vereistes met `n ABBA ABBA rympatroon in die oktaaf en `n CDC DCD patroon in die sekstet. Ek is in my menswees geroer deur die eerlikheid hierin. Daar is ook `n duidelike verandering (volta) in die perspektief en toon tussen die oktaaf en sekstet. Ek het geen kritiek hierop nie. Dit is lieflik en Afrikaanse loflikheid.

7. Lankmoe(r)digheid
Daar is so baie om uit te pak in hierdie gedig. Kom ons doen dit kronologies:
a. Jou titel: dit is `n interessante infleksie (verbuiging) maar ek het `n reserwe of dit werklik tog korrek is. Lankmoerigheid sal sonder die “d” geskryf word. Selfs al is dit `n nuutskepping moet dit steeds gebruiklik wees en lankmoerdigheid sal nie wees nie al verbuig jy paar spelreëls.
b. (L1 P1) “onnederige onverdraagsaamheid”? Ek besef jy gebruik die “on” om te allitereer, maar daar bestaan nie so `n term in Afrikaans soos “onnederig” nie. Dit kan natuurlik oor die hoof gesien word onder die vaandel van digterlike vryheid, maar ek moet jou daarop wys.
c. Jy dui “proselitisme” aan as “sterk bekeringsywer” (wat korrek is), maar dan verstaan ek nie of dit in jou vers betrekking het op die pendulum al dan nie.
d. Die inhoud van jou gedig is vir seker baie boeiend en kleurryk. Ek sal nie beweer dat ek elke nuanse verstaan nie, maar ek kan genoeg daarin snap om die gedig te geniet.
e. Wat my egter verder opval is dat ek nie `n werklike verandering (ommeswaai / volta) in jou sekstet optel nie. In ‘n Italiaanse sonnet behoort die oktaaf `n “probleem” te identifiseer en dan moet die “oplossing” in die sekstet aangebied te word.
f. Ek hou egter baie van jou vers wat slim woordverbuigings gebruik om `n aandagtrekkende gedig aan te bied. Die innerlike geveg tussen “lankmoedigheid” en “moerigheid” word baie goed geprognotiseer.

13. Genade
Jammer maar die reëls meld duidelik dat die versvorm streng geëvalueer sal word. Jou oktaaf is nie `n oktaaf nie. Jy het 9 sinne in jou paragraaf. Ek kan dus nie jou vers oorweeg nie.

16. Kringsmart
Die opdrag was dat jy jou gunsteling Afrikaanse woord moet gebruik en daaróm `n sonnet skryf. Die opdrag het nie `n nuutskepping uitgesluit as tema nie, daarom kan ek jou nie daarvoor kwalik neem nie. Ek wonder egter: is kringsmart jou gunsteling woord?
Ek verstaan die innuendo in jou vers maar ek vind die gedig in geheel ordeloos en verwaaid. Dit is asof jy woorde ingesluit het slegs om te rym en wat nie werklik bevorderlik is vir die geheel nie. Stuur vir my `n epos na inkmoderator@gmail.com indien jy verkies dat ek jou met die redigering help.

18. Stofpad
Pedanterie (ydelheid/vertoon) is vir my so `n pragtige woord. Wie sou dink dat daar iewers in die uithoeke van Suid Afrika `n digter sal wees wat “stofpad” as `n gunsteling woord koester. Heerlik!
Sito-sito is `n lieflike sinoniem vir rats en behendig en omdat dit beide allitereer en assoneer maak dit `n besonderse en gepaste keuse vir `n vers. By die gebruik van “klapperbos ‘n aalwyn” behoort daar darem `n spasie te wees waar die (‘) in plek van die (e) van “en” staan. Ek dink die sagteware waarin jy skryf het die woorde outomaties gebind. Waak daarteen.
Ek dink die volta gebeur vroeg in jou vers. Ek kan smakies daarvan reeds in jou oktaaf optel. Streng gesproke moet die “probleem” in die oktaaf bespreek word en die “oplossing” in die sekstet, maar ek weet nie of dit enigsins die trefkrag van jou vers verbloem nie. Ek persoonlik dink jy het in jou sonnet geslaag. Jou rympatroon is korrek en die beelde in jou vers is waarlik aangrypend. Al drie die neologismes is raak en mooi. Welgedaan.

SILWER:

1. Liefde
Die sonnet moet uit `n oktaaf en `n sekstet bestaan. Jy het twee kwatryne en een sekstet gebruik. Die opdrag was duidelik: selfs die kleinste fout sal jou diskwalifiseer. Ek kan dus nie jou vers krit en oorweeg nie.

2. Heimwee
Die sonnet moet uit `n oktaaf en `n sekstet bestaan. Jy het twee kwatryne en een sekstet gebruik. Die opdrag was duidelik: selfs die kleinste fout sal jou diskwalifiseer. Ek kan dus nie jou vers krit en oorweeg nie.

4. Oorlog
Is “oorlog” werklik jou gunsteling Afrikaanse woord? Wie sou dit verwag? Nietemin, in versmaak is digterlike vryheid `n gegewe en bly dit `n individuele keuse.
Die inhoud van jou vers verwar my. Kom ons kyk daarna:
In die skadu van die oorlog se vlam,
waar drome breek, en hoop in rook verdwyn,
is liefde gebroke, maar steeds, ‘n soet jam,
wat hartseer dra, soos ‘n siel se wyn.
[Na watter gebroke liefde verwys dit? Hoe sou “jam” uitgespreek word? Is “jam” slegs gebruik om die rympatroon te voltooi? Konsepte soos hartseer wat gedra word in die siel se (wyn?) omdat liefde gebroke is in die skadu van gebroke drome in die skadu van oorlog? Dit maak glad nie sin nie]
Die kreet van mans, van vrouens se gebed,
te midde van die gewere se gedruis,
word passie wat die geluk van vrede red,
maar elk is vasgevang in die stryd se huis.
[Die krete van gebed tydens die “oorlog” is duidelik genoeg, maar hoe red jy geluk van vrede? Is vrede nie juis geluk nie? Die “stryd se huis” het geen betekenis nie, en is slegs gebruik om te rym.]

In vlam en vuur, die reënboog se verlore,
is geluide van ‘n tyd wat niemand ken.
Die aarde ween, sy seergemaakte spore,
en tog, ten bate van oorlewing, wen
die mens se gees, meer sterk as swaar gewig,
om liefde te vind, selfs onder die dig.
[Lees weer hierdie sekstet en kyk of dit optimaal lees.]
Jy meld `n nuutskepping in jou voetnota maar jy gebruik die woord nie eens in jou gedig nie?
Jy het in `n strik getrap deur na woorde te gryp om aan die rympatroon getrou te bly maar wat nie in konteks sin maak nie. Kontak my gerus op inkmoderator@gmail.com

6. Dagmerrie
Die konstruksie van jou sonnet is korrek. `n Belangrike kenmerk van die Italiaanse sonnet is dat die digter ‘n “probleem” in die oktaaf aanspreek en dan daarvoor `n oplossing vind in die die sekstet. Jou sonnet lees asof jy hierdie konsep omgeruil het. Ek vind ook dat jy woordkeuses gebruik en idees gevorm het SLEGS om re rym. As een voorbeeld is die “veer in die hoed”: dit het geen betrekking op die vers nie, en selfs as metafoor skiet dit tekort. Alhoewel die vers tipografies korrek is, ia ek bevrees jy het die bal laat val.

8. Seebries
Ek wil eerste die neologismes aanspreek wat jy aangedui het. Nie een daarvan is `n nuutskepping nie. Al 4 woorde is reeds erkende woorde wat in een of meer woordeboek(e) opgeneem is.
Jou sonnet is tipografies korrek en die rympatroon werk. Die verpersonifisering van kenmerke en item uit die oseaan maak jou vers interessant. Ek verstaan nie ten volle of die ode hierin aan die oseaan, die seebries of `n geliefde is nie. Dit is egter ook nie vir my nodig om te begryp om die vers te geniet nie. Ek moet net noem dat `n Itakiaanse sonnet volgens streng reëls `n “probleem (uitdaging)” in die oktaaf bespreek en dan met `n duidelike volta (ommeswaai of verandering in toon) die “oplossing” in die sekstet bied. Ek ervaar nie `n duidelike oorgang in jou vers nie want die sekstet borduur voort op wat jy as digter in die oktaaf begin het. Ek kan sê dat ek baie hiervan hou maar die opdrag het duidelik genoem dat ek streng gaan krit. Vir daardie rede sal jy nie die podium haal nie.

14. Vuurvonke
Jy het `n baie geslaagde sonnet geskryf. Jy het getrou gebly aan die tipografiese, die rympatroon, die oktaak, die sekstet, die volta en `n georkerstreerde inhoud. Die toonverandering (oplossing of verandering) in jou sekstet wat voorspruit uit die “probleem” in jou oktaaf is meesterlik. Die leser ervaar saam die digter die vreugde wat “die pronkerige groen terug bring”. Mooi gedoen.

19. Tjienkerintjee
Ek kan dink dat hierdie jou gunsteling woord is. Dit was nog altyd vir my persoonlik ook `n oogappel.
Wat jy vers betref: jy het nie die voorskrifte van die sonnet nagekom nie. Jy het 2 koeplette en 2 tersette in jou gedig. D
Hierdie sonnet vra vir `n oktaaf en `n sekstet. Jou rympatroon is ook nie korrek nie. Ek kan daarom nie jou vers beoordeel nie. Dit is jammer.

20. Droomvanger
Die vers is nie `n sonnet nie.
Wat jy vers betref: jy het nie die voorskrifte van die sonnet nagekom nie. Jy het 2 koeplette en 2 tersette in jou gedig. D
Hierdie sonnet vra vir `n oktaaf en `n sekstet. Die nuutskepping is nie nuut nie, dit is reeds in die Afrikaanse leksikon opgeneem. Ek kan daarom nie jou vers beoordeel nie. Jammer.

GOUD:

9. Reën
Ek dink vir baie, veral dié wat plant en oes, is reën juis `n groot gunsteling in hul woordeskat. Jou sonnet is netjies en voldoen aan al die voorskrifte. Waarvan ek baie hou is die ritmiese opbou hierin. Dit is soos `n simfonie wat die afwagting laat toeneem en dan in ekstase ontplof wanneer elke instrument in harmonie saamwerk om die maestro se werk e volbring. Die volta in jou vers is subtiel maar duidelik. Jy het mooi geskryf. Welgedaan.

10. Poësie
Die sonnet is getrou aan die voorskrifte en die rymptroon is lieflik. Ek vind die ritme, veral in die oktaaf, effe uitdagend. Kom ek bespreek dit gou:
“laat my ontvlug na my eie hartsplek
[ritmies]
waar God se kwistige kwas my siel laat ontwaak
[ritmies]
om my woorde werklik te laat mooi maak
[om my woorde werklik mooi te maak]
om my pen te laat leeg loop in poëtiese bestek
[om my pen te ledig in poëtiese bestek]
laat my aansit om sonder woordgebrek
[ritmies]
my wese te ledig en verse te bemaak
[my wese in verse te bemaak]
aan húlle wat dors om die dieper aanraak
[ritmies]
van dig-vakmanne se hartsverse te ontdek
[ritmies]
Met slegs `n paar klein veranderinge (soos bo aangedui) kan jy die ritme herstel.
Jou sonnet is heerlik en geslaagd.

11. Anna
Toe ek die titel van jou sonnet sien, dink ek dadelik dat hierdie Anna moet baie spesiaal wees as dit die gunsteling woord is. Ek hou hiervan. Die ritme kort aandag op sekere plekke maar in geheel is dit keurig. Die neologismes is nie almal werklik nuut nie, soos skitterwit en diepseer is reeds in die Afrikaanse leksikon en Anna-mens kan nie werklik as `n neologisme gereken word nie. Die vers sluit ook effe stomp. Keurig nietemin.

12. Rieldans
Die titel en inhoud hou geensins verband met mekaar nie. Die sonnet handel nie oor `n rieldans nie maar eerder oor heimwee. Die konstruksie van die sonnet is korrek en die rympatrone klop. Die vers is keurig.

15. Kleinteater
Dit is `n besonderse teer en mooi sonnet hierdie. Ek is beïndruk. Netjiese konstruksie en rympatroon. Die inhoud is lieflik emosioneel en beeldryk. Die neologisme is interessant maar ek dink dit is effe lomp. Onthou `n nuutskepping moet oorweeg word in die lig van allergdaaglikse gebruik. Jou sonnet is geslaagd en lees heerlik. Welgedaan.

17. Genade
Alhoewel ek hiervan hou weet ek nie of jy `n “probleem” in jou oktaaf belig en die “oplossing” in die sekstet gevind is nie. Dit voel asof die teenwoordigheid van genade en sy werking vanaf die eerste sin bespreek word. Jou konstruksie en rympatroon is geslaagd. Ek het voorbehoud oor die neologisme óók. Jou vers is egter keurig.

21. Oorlog
Jy het die funksie van die oktaaf en sekstet in jou vers omgeruil. Jy het egter ook nie van `n sekstet gebruik gemaak nie maar eerder twee tersette gebruik. Dit is opsigself klaar rede vir diskwalifikasie. Ek wil egter bietjie hieroor gesels. Die sonnet behoort `n probleem in die oktaaf te belig en met `n volta in die sekstet daarvoor `n oplossing te bied. Jy het hierdie twee funskies omgeruil. Ek moet egter ook by die reëls bly en jou diskwalifiseer omdat jy nie `n sonnet geskryf het nie.

MENINGSTUKKE:

1. Hups
Jou definisie is vir seker korrek. Ek kan aan ten minste 10 sinonieme dink en 99% daarvan is presies wat jy sê. Ons moet onthou dat baldadig `n sinoniem vir speels is wat ook ongetem kan beteken. En vermoed, omdat dit ook fiks en fris is dit vleeslike en wellustige gedrag as bybetekenis gekry het. In die volksmond (sover my kennis strek) was dit nog altyd so effe van `n stouterige verwysing na die vleeslike. Ek hou van die manier waarop jy jou woordmening uitgespreek het op die rug van `n persoonlike ervaring. Netjies geskryf en keurig aangebied.

2. Epikuris
Ek hou van jou aanbieding en waardeer jou mening. Wat Epikurus wel ook in sy filosofie laat blyk het is dat absolute plesier onderandere die afwesigheid van pyn en vrees moet wees. Hy was ook `n advokaat vir `n “ongekompliseerde lewe”. Alhoewel jy daarop wys dat jy balans geïdentifiseer het, ek voel dat `n lewe totaal sonder pyn en vrees gevaarlik kan wees. Ons kan lekker hieroor gesels as jy vir my `n epos stuur na inkmoderator@gmail.com. Wat jou aanbieding betref is dit netjies gedoen. Jy het jou gemening gegee en gestaaf en dit maak dus jou inskrywing suksesvol en keurig.

RUBRIEKE:

1. Liefde
Jy plaas jou skrywe onder die rubriek banier en dan skryf jy `n artikel. Jy noem dit self ook `n artikel. Die verskil tussen `n rubriek en `n artikel (wat ek reeds telkemale verduidelik het) is doodeenvoudig. Die een is `n waarnemings/ervarings-opinie met die skrywer se eie benadering en emosies daarin verweef, terwyl `n artikel `n feitlike aanbieding is wat met bronne en verwysings gestaaf kan word. Jy het dus `n artikel hier beet wat onder die rubriekbanier geplaas is.

2. Nie
Ek het lekker hieraan gelees. Dit is keurig. Dankie vir jou deelname.

3. Depressie
Die “verhaal” wat eintlik `n rubriek moet wees, voel vir my bekend. Ek voel of ek die oorlog gedeelte hiervan reeds voorheen in `n projek raak gelees het. Ek mag dalk verkeerd wees. Die “rubriek” is eintlik net `n lang lewensverhaal en as leser het jy nie my aandag geboei nie.

4. Mos
Dankie vir jou deelname.

5. Vakansie
Netjies en keurig. Ek het lekker hieraan gelees.

ARTIKEL:

1.Liefde

Die inhoud is natuurlik artikel-gedrewe. Jy begin jou artikel deur liefde as kontroversieël te bemark. Wat jy egter nié in die artikel behandel nie (of hierdie stelling verdedig nie) is die rede hoekom jy so `n standpunt inneem.
Jy moet jou stelling ondersoek en vanuit verskillende oogpunte daarna kyk en in jou artikel rapporteer.
Jy gebruik `n Bybelse inslag, en dit is geoorloof (want ek neem aan dit is jou peraoonlike ervaring) maar jy moet poog om balans te kry. Indien jy natuurlik hierdie artikel vir `n Christelike dagblad geskryf het, sou dit in geheel aanvaarbaar wees, maar, indien jy sou wou uitreik na die nie-Christen, sou dit uitdagend wees.
Jy kan ook nie ellelange skrifplasings insluit nie. Lesers mag dit as skrywers-luiheid ervaar.
Gesels gerus verder hieroor as jy wil.

VERHALE:

1. Dollarnoot
Alhoewel die karakters mooi ontwikkel is hierin, sluit die storie baie stomp. Die ontwikkeling van die storie na die aanval op die een karakter, is té snel en maak dit daarom gebrekkig. Nietemin is dit `n heerlike leesverhaal. Ek het lekker hieraan gelees.

2. Bloedspoor
Alhoewel die storie interessant is, is die ontwikkeling van die storielyn nie altyd goed nie. Die ontsluiting van die verhaal is optimaal.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed