Plaaskinders
Plaaskinders
Plaaskinders kan op ‘n myl uitgeken word. Die seuns se hare is gewoonlik kort en hulle hemde is ingesteek. Die meisies is onopgesmuk met blosende wange en vellies aan hulle voete – selfs met hulle matriekafskeid. Hulle stap fier en regop en het goeie maniere. Hulle toon respek teenoor ouer mense en hulle sê dankie en asseblief.
Plaaskinders word selfstandig gebore. Van kleintyd af leer hulle van die lewe en van dood en van oorlewing. Hulle verstaan dissipline en roetine en respekteer die natuur. Hulle kleuterskool juffrou is hulle ma’s, en daar is geen kwaaier onderwyseres as ‘n ma nie. Hulle weet dat plig voor plesier kom. Wintermaande kan hulle uitgeken word aan blou heupbene en gekneusde knieë van agter op die bakkie staan tydens jagtyd. Hulle weet jy skiet om te eet en nie vir plesier nie. Hulle verstaan baie goed dat as jy wil saam eet, moet jy saam werk. Hulle gril nie vir rou vleis nie. Hulle weet hoe voel dooie vingers van yskoue vleis wat verwerk word vir biltong en droëwors vir die koskas. Hulle kan ‘n derm se punt blitsvinnig vasvat as dit by worsstop kom. Hulle weet waar die Suiderkruis en Orion is en lê saans op die gras en soek satelliete. Hulle weet hoe lyk die maan as mens sê dat hy water uitgooi. Plaaskinders is lief vir diere, behalwe vir jakkalse en vlakvarke. Hulle weet hoe stilte klink en hoe donker donker is wanneer dit donkermaan is. Hulle eet saam met hulle gesinne aan ‘n tafel en hou saam huisgodsdiens. Plaaskinders weet hoe om krag en water te spaar, aanvaar dat vakansies op die plaas deurgebring sal word en dat die kersboom heel waarskynlik ‘n droë doringboom sal wees.
Plaaskinders weet hoe proe springbokniertjies wat in die veld gebraai word. Hulle kan van kleins af help skaap trek en hulle weet wat die verskil tussen bloudraad en binddraad is. Hulle kan vinnig agter ‘n wegbreekdorper aanhardloop en haar terugkeer na die trop toe en weet hoe dit voel om hulle nerwe af te val oor klippe agter ‘n halstarrige bok aan. Hulle ken die verskil tussen ‘n uierooi en ‘n gusooi. Plaaskinders weet hoe dit klink as Ma, Pa en Sus die enigstes is wat veels geluk met jou verjaarsdag vir hulle sing. Hulle het al duisende kilometers op ‘n grondpad bestuur voor hulle die plesier van ‘n teerpad ervaar. Plaaskinders weet wat ‘n burdizzo is. Hulle weet hoe dit voel om koshuisbrakke te wees en ken van bruinbrood en louwarm rooibostee saans tydens studietyd se pouse en aanvaar dat hulle moet kamers deel. Plaaskinders kan in vyf minute alles inpak wat hulle vir die komende week nodig sal hê. Hulle doen hulle eie huiswerk en take – gewoonlik deur die week, sodat hulle naweke in die veld kan wees. Wanneer jy vir ‘n plaaskind vra wat sy vir haar agtste verjaarsdag wil hê, sê sy ‘n “bokooi wat klaar by die ram was”. Hulle verstaan waar lammertjies vandaan kom en ken die storie van die blommetjies en die bytjies lank voor iemand dit aan hulle hoef te verduidelik. Plaaskinders ken die silklus van die maan en windrigtings en besef die waarde van ‘n noordewind in die somer.
Plaaskinders ken die plaas en jy kan hulle stuur om lek uit te ry en windpompe los te maak. Hulle maak sommer self gou die gat in die draad reg en kyk met oë wat raaksien en kom rapporteer die ooi wat sonder haar lam by die krip staan. Hulle kan spoorsny. Hulle staan soggens vroeg op om vir die hanslammers bottel te gaan gee en hulle ken die gevoel van verlang en ver van die huis af wees. Plaaskinders gee nie om om hulle ouer broer of suster se klere te dra nie. Hulle het ‘n kas in hulle kamers by die huis wat altyd vol plaasklere is, al bly hulle later op ‘n ander plek. Plaaskinders kan die beste vir reën bid en hulle geloof en vertroue is die sterkste. Hulle bel gereeld huis toe om te hoor of dit al gereën het en wanneer die tyding goed is, is hulle die volgende naweek daar om die reuk van nat plaasgrond te kom inasem. Hulle ken die intense lekkerte van in ‘n vol pan swem wat na jare se droogte vol gereën het en put eindelose genot daaruit om reëngoggas in die veld te soek. Hulle slaap graag met oop vensters. Hulle het sagte harte en sterk hande. Hulle is beginselvas en fluks en het waardering vir die vet jare, want hulle leer van kleins af hoe die maer jare voel. Die plaasgrond vloei deur hulle are.
Plaaskinders verlang altyd huis toe. Hulle neem verlof by hulle werke om self hulle diere te kom werk en reël voer en medisyne van ver af. Hulle weet wat die vleispryse is en spaar vir ‘n stoetram waarop hulle hulle oog het by die volgende veiling. Hulle woon kursusse by en leer van vroeg af om ‘n dier te klas en die beste eienskappe raak te sien. Hulle is oplettend en werk spaarsamig met geld. Hulle aanvaar dit wanneer daar gesê word dat daar nie nou geld is nie en dat hulle tekkies nog moet hou vir die nuwe sportseisoen. Plaaskinders besef lánk voor die meeste ander mense dat om ryk te wees niks met geld te doen het nie.
Plaaskinders kan goed skiet en weet hoe om ‘n wapen veilig te hanteer. Hulle het respek vir alle lewende wesens en ken die name van die grasse en bosse op die plaas. Hulle weet hoe dit voel wanneer jy in ‘n Prosopisdoring trap – dat jy vandag bloei en môre brand. Hulle is nie bang vir swaar weer nie en as jy hulle vra wat is vir hulle die lekkerste reuk, sal hulle sê reën. Plaaskinders is opreg en eerlik en plaasmeisies hoef nie een tree terug te staan vir plaasseuns nie. Hulle kan boer én bak. Hulle hande staan vir niks verkeerd nie en help graag in die kombuis tydens vergaderings en die boerevereniging se funksies en met die bak vir die kerk en die basaar. Hulle kan alles doen wat plaasseuns doen.
Plaaskinders wil altyd weer eendag teruggaan plaas toe. Na daar waar hulle bloed, sweet en trane in die sand gedrup het.
© Hester Steenkamp
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2024 – OOP projek