Jongste aktiwiteit:

Ontsnaproete vir jou siel

September 2018 opdrag – Spyse vir die siel

Ontsnaproete van jou hart

“Marietjie, Mariet, Merraai…kom sê vir jou ou man koebaai…” Kobus se vrolike stem weergalm deur die stil huis. Hy is al weer oppad na een van sy vele visvang naweke saam met Jan van Niekerk en Petrus van Zyl.

Marita staan moeisaam op. Hoewel sy weet dat al die biere nog veilig in die koelsak is klink Kobus al reeds of hy ‘n paar agter die blad het. Sy opgewondenheid oor ‘n naweek saam met twee ander mans langs ‘n rivier of by die see kon sy nooit verstaan nie, tot sy hom eendag direk gevra het.

“Wat sloer jy so ou vrou, daardie vissies gaan nie vir ewig vir ons wag nie…”
“Hier is ek Kobus. Het jy jou warm jas gevat? En daardie goed vir die muskiete?”
“Ja vrou, dis darem nie my eerste trippie na die viswaters toe nie.”

Marita moet op haar tone staan om haar man te soen, maar nog voor sy behoorlik kan bykom lig Kobus haar van haar voete af en plak ‘n natbek soen op haar lippe.
Terwyl Marita voor die venster staan en vir haar man wuif skud sy haar kop – na dertig jaar van saamwees leer sy nou eers vir Kobus ken.

Marita keer terug na haar studeerkamer en gaan sit weer agter haar rekenaar met die doel om die kortverhaal waaraan sy werk klaar te maak, maar haar gedagtes dwaal terug na haar man. Kobus staan ‘n volle ses voet twee in sy sokkies, is ‘n ingenieur en mede-eienaar van sy firma. Aan die begin van sy loopbaan het hy amper dag en nag gewerk maar toe die kinders opdaag het hy ook plek en tyd vir hulle ingeruim. By die werk is hy ‘n streng baas, maar tuis was dit meestal sy wat dissipline moes toepas.

Daar was ‘n tyd in hulle huwelik dat sy gevoel het dat hulle niks in gemeen het nie. Hy is luidrugtig en sosiaal, ‘n kenner van elke sport denkbaar, netjies en presies en sy was stil, ‘n regte huishen, kunstig en ten spyte van haar loopbaan as onderwyseres, soms verstrooid. Vir ‘n paar jaar het Marita onvergenoegd gevoel met haar lewe en gedink dat haar huwelik slegs in naam bly voortbestaan. Sy het egter niks gesê nie en Kobus was te besig om enige iets agter te kom.

Twee jaar nadat die laaste kind uit die huis uit is en enkele dae na haar vyftigste verjaarsdag het Marita aangekondig dat sy uit die onderwys gaan tree. Kobus se eerste reaksie was om haar te vra wat sy dan gaan doen om haarself besig te hou en net daar bars die opgekropte emosies in Marita los. Haar woede het oorgekook en sy kon die speeksel wat saam met haar woorde by haar mond uit gevlieg het nie keer nie.
“Magtag Kobus, is dit al wat jy van my dink? Dat ek net ‘n ma vir jou kinders en juffrou vir ander se kinders kan wees? My liewe man, kyk vir my, ek is ook ‘n vrou, ‘n vrou met talente en belangstellings, nie die bleddie outomaat wat al vir jare elke aand ‘n bord kos voor jou neersit nie…” Marita het begin huil en vir ‘n oomblik was Kobus stil, toe staan hy op, neem haar in sy arms en druk haar nat gesig styf teen sy borskas vas.
“Ek is jammer Marita, so jammer. Ek het dit nie so bedoel nie, ek het nie gedink voor ek gepraat het nie. Natuurlik gun ek jou die tyd om weer aandag aan jouself te gee. Ek is werklik jammer, dis nie dat ek nie weet van jou belangstelling in kuns en hoe graag jy ‘n boek wil skryf nie, dis net dat ek gedink het dat jy gelukkig is…”
Snikkend het Marita na haar man opgekyk.
“Ek kort spyse vir my siel Kobus, ek is leeg binne…”

Die einde van daardie termyn het Marita opgehou skoolhou. Haar huwelik het daarmee saam ‘n omwenteling begaan. In plaas van elke aand sit en boeke merk het sy en Kobus begin fliek, teater toe gegaan en kon sy hom selfs met ‘n bord kos by sy gunsteling restaurant omkoop om haar na ‘n ballet uitvoering te vergesel.

Ja, alles het verander, behalwe vir een ding, Kobus se visvangery. Een aand terwyl hulle snoesig in die bed lê draai Marieta na Kobus.
“Kobus, wat is daar aan die dekselse visvangery wat jou so aantrek?”
“Dit is daardie spyse vir die siel waarvan jy gepraat het Marita, jy weet, daardie ‘na waters waar rus is’ ding…”

Kopiereg Lynne Lexow 2018
757 woorde




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed