
Onvoorwaardelik te laat
“Hoe kan ek liries raak oor iemand wat dit aan my gedoen het? Dis al klaar swaar genoeg dat ek moet gaan, nou moet ek nog maak asof ons na aanmekaar was. Asof die liefde nog daar was. Tog…sy was my ma. Sou dit anders gewees het as ek by haar was toe sy dood is? Sou ek haar kon vergewe? Sou sy jammer vir my gesê het? Sy sou my ooit daar wou gehad het? Vyf jaar. Vyf jaar wat sy my nie gesien het nie. Hy – my sogenaamde pa – is al drie jaar gelede oorlede. Kon sy my nie intussen probeer opspoor nie? Ek was nie by sy begrafnis nie. Hóm sou ek, en sal ek nóóit vergewe nie. Mense moet seker nie die haat hier binne hou nie. Dit maak jou siek. Maar my moeder…”
Skielik vloei die trane.
Ek kan dit nie keer nie. Soos die dam se wal wat breek. Vir vyf jaar het ek die krake toegesmeer met kleefband en volstruiskop, maar hierdie was die kraak wat die hele spul laat ingee het.
* * *
Dit was vreemd om weer by die huis waar ek groot geword het, in te stap. Dit was asof ek ‘n vreemdeling was. Zelda, my suster, het ‘n opgewonde gil gegee toe sy my sien, my stormgeloop en omhels.
“Dankie dat jy gekom het! Sy sou…” ‘n Skaduwee het oor haar gesig geval, maar sy het probeer opgewonde bly. “Kom! Danie en die kinders is in die sitkamer.”
Ek het haar gevolg na die sitkamer toe – asof sy ‘n vreemdeling gelei het, al het ek 18 jaar hier gewoon.
Dit is asof die huis vasgevang was in ‘n tydkapsule. Niks het verander nie. Behalwe vir een ding: daar was nie ‘n enkele foto van Pa op die mure nie. Daar was wel nog steeds foto’s van my as kind oral teen die mure en op tafeltjies. Kind. Sorgeloos. Onskuldig. Geliefd.
In die sitkamer het Danie opgestaan, sy hand uitgesteek en “hallo” gemompel. Ek kon die koue in sy hand voel. Asof emosie ‘n letterlike temperatuur was. Toe raak hy weer kamma besig met sy selfoon. Pa se kind, deur en deur.
Na die koffie, en die “vertel my wat gaan in jou lewe aan” het ek deur die huis geloop. Ou herinneringe opgeroep wat my laat glimlag het. Maar meer seer herinneringe wat van voor af wonde wat lank in donker hoeke van my geheue weggesteek was, in die lig gesleep het.
Ek het in die kombuis gaan staan, reg voor die oond. Hier waar sy haar dae vertoef het om die lekkerste gebak op te tower. Vrolik, in haar element, met ons gesels het. Hier waar ons as sy nie gekyk het nie, ‘n konfyttertjie uit die pan gegryp en in ons monde gedruk het, en dan het die vuurwarm konfyt omtrent blase gebrand op ons tonge. Sy het altyd gemaak asof sy nie die vermiste tertjies opgemerk het nie. Maar nou dat ek teruggedink het, onthou ek die ondeunde glimlag wat sy probeer wegsteek het. Dit was die mooi van my kinderlewe. Die lekker. Ek het weer besef hoe eenvoudig, tog skaars geluk is: ‘n koppie koffie, ‘n warm konfyttertjie, ‘n ma se ondeunde glimlag en ‘n liefdevolle soen op die voorkop. Geluk is ‘n ervaring wat net ‘n kind ten volle kan ervaar. Sonder die skade en wonde van die lewe, is daar net die onskuldige geluk van die kind. Tog, het ‘n kind geen waardering of konsep van wat hy het nie. As ek maar net een dag weer…
Ek het die gang afgestap en in my ou slaapkamer se deur gaan staan. Alle tekens van my bestaan was uit die kamer verwyder. Geen teken dat hierdie die eens veilige hawe van ‘n tienerseun was nie. Ek weet nie wat ek verwag het nie. Dat die kamer steeds sou lyk soos die dag wat ek hier uit is? Gereed vir die oomblik wanneer die verlore seun sou terugkeer?
Alhoewel die vertrek anders gelyk het, het die emosie nog swaar in die kamer gehang. Soos bloed wat ‘n wit hemp gevlek het – jy kry nooit weer daardie vlek uit nie.
Dit was in hierdie vertrek wat alles verander het. Dit was hier waar Ma gewys het vir wie sy die meeste omgegee het. Dit was nie vir my nie.
* * *
Dit was seker die grootste – belangrikste oomblik van my lewe. Ek het hulle vertrou met my lewe deur hulle die teerste deel van my siel te wys. Die oomblik van kwesbaarheid het baie, baie moed geverg. Hulle moes respek gehad het vir die oomblik. Vir my. ‘n Goeie ouer sou dit dalk aanvaar het as ‘n geskenk. Ek is gebore uit húlle liefde vir mekaar. Húlle het my lewe gegee. Sy het my gedra vir nege maande en my die wêreld ingebring. Op daardie oomblik wat hulle my die eerste keer vasgehou het, moes hulle – of ten minste Ma – oorweldigende, onvoorwaardelike liefde gevoel het? Liefde. Dit is al wat ek gevra het op daardie dag – daardie oomblik. Onvoorwaardelike liefde.
Ek het na hulle toe gekom, uitgeput deur die ondraaglike innerlike sielsangs, hoopvol dat hulle my weer so styf sou vashou soos die eerste keer wat hulle my vasgehou het. Dit was ‘n eens-in-‘n-leeftyd oomblik. Hulle het net een kans gehad om daarop te reageer. En hulle het gefaal. Ek is nie verbaas dat Pa gefaal het nie. Maar Ma? Niks sê nie, net daar staan, is ook ‘n reaksie
Ek het ‘n duisend keer besluit nóú gaan ek hulle vertel, maar die vrees het altyd gewen. Vrees vir die pyn wat saam met afsku en verwerping sou kom. En my vrese was op die ou einde geregverdig. Soos ‘n nagmerrie wat jy het, net om wakker te skrik en te besef dis eintlik die realiteit. Ek het hulle liefde nodig gehad om my te beskerm teen die res van die wêreld – teen die samelewing. Maar hulle was deel van die wêreld. Die “hulle” teen wie my ouers my eintlik moes beskerm.
“Moffie!”, was Pa se eerste reaksie. Geweld was sy tweede reaksie. “Ek fokken bliksem die mof uit jou uit! Geen pissie seun van my gaan my verneder deur sy kak besluite nie!” Hy het dreigend nadergekom, en ek het geretireer. Ma het ook geretireer. Sy het ingekrimp agter hom gaan staan asof sy aan sy kant was. Asof sy hom woordeloos van agter af aangepor en opgesweep het. Sou ‘n ander ma – ‘n liefdevolle ma – nie tussen ons kom staan het nie? Haar kind probeer beskerm het nie?
Pa se plathand het my wang getref soos ‘n sweep. Ek het emosieloos probeer staan, maar ek kon die trane vlak in my oë voel. Ek het in sy oë gestaar. Smekend.
“Dis nie iets wat mens besluit nie, Pa! Dis liefde, Pa! Hoe is liefde verkeerd, Pa? Weet jy ooit wat is liefde?” Dis wat ek wou skreeu, maar al my moed was opgebruik.
Toe ek nie reageer op die klap nie, toe maak hy ‘n vuis, en sit al sy woede en teleurstelling in daardie hou. Ek moes ‘n oomblik my bewussyn verloor het, want toe ek weer by my sinne kom, toe sit-lê ek teen die muur. Pa was weg. Ma het vir my gestaan en kyk, in trane. Toe, sonder om ‘n woord te sê het sy kopskuttend omgedraai en verdwyn. Min het ek geweet dit sou die laaste keer wees wat ek haar sou sien. Daardie aand het ek die vreemde van die nag ingevlug. Enige plek sou beter wees as dáár – my ouerhuis.
* * *
Die oorweldigende emosie jaag my by die kamer uit. Ek loop haastig na die agterplaas toe om te ontsnap. Ek voel weer soos daardie aand. Asof ek wil hardloop en bly hardloop. Toe ek in die tuin kom daal ‘n rustigheid oor my neer. Ma se tuin was haar trots. Regdeur die jaar – enige seisoen – was daar iets wat geblom het. Ek stap van bedding tot bedding en bewonder elke plant, wat met soveel sorg en liefde vertroetel is.
“As sy maar net haar kinders met soveel sorg en liefde vertroetel en beskerm het”, dink ek bitter.
“Dit was altyd haar tweede grootste trots,” praat Zelda skielik agter my.
“O,” sê ek sonder om om te kyk, “en wat was haar grootste trots nogal?” Ek probeer hard om nie sinies te klink nie.
“Haar kinders…”
Ek lag kliphard en draai om om te sien of Zelda sarkasties is. Hoekom sal sy wees? Sy het al die nodige liefde en aanvaarding ontvang wat ‘n kind toekom, want sy was ‘normaal’.
Die skaduwee val weer oor haar gesig. “Ma het dié vir jou gelos,” sê sy en druk ‘n koevert in my hand, voor sy die huis in verdwyn.
Ek draai die koevert om en om in my hande. Dit voel asof ek ‘n bom vashou. Voorop is my naam in Ma se elegante handskrif geskryf.
Christiaan.
Ek skeur die koevert bewerig oop, en haal ‘n opgevoude papier uit. Ek ruik die reuk van Ma se White Diamonds parfuum, maar is nie seker of dit my verbeelding is en of dit van die brief af kom nie.
‘n Brief van Ma af.
My liewe Tiaan.
Ek weet nie of jy hierdie woorde ooit gaan lees nie. Ek weet nie of jy die woorde wíl lees nie. Ek kan maar net hoop en bid dat hierdie woorde ‘n weg sal vind tot by jou.
Jammer my liewe Tiaan. Jammer sal nooit genoeg wees nie, maar weet dat ek opreg jammer is.
Ek wens ek kon daardie oomblik weer oor doen. As ek maar net geluister het na wat jy wou sê. Maar dit was vreemd vir ons. Onverwags. ‘n Skok. Ons het grootgeword in ‘n wêreld waar gay mense ‘n afskuwelike ding was. Dis by ons geïndoktrineer dat hulle sondaars is, wat net so erg as verkragters en moordenaars is. Ek weet, dis nie ‘n verskoning nie. Ek is jammer. Ek is so, so jammer, my kind, dat ek jou nie kon help of red nie, dat ek nie deur die vrees en selfhaat gesien het wat jy leef nie. Ek kan myself nie indink hoe dit moet voel om te probeer leef in ‘n wêreld wat jou verafsku nie. Nóg erger, ‘n ouer wat jou verafsku. Wat met jou gebeur het is my grootste en diepste hartseer.
Ek het nie ‘n oomblik ophou wonder waar jy is nie. Waar het jy die eerste aand geslaap? Hoeveel aande het jy sonder kos gaan slaap? Wat het jy gedoen om te oorleef? As dit nie vir jou suster en haar Facebook gedoente was nie, sou ek seker nooit die vrede gehad het om te weet dat jy nog leef en gelukkig is nie. Ek wou jou sus al gevra het om vir jou ‘n boodskap te gee van my af, maar die skaamte was so groot. Hoe kon ek my liewe kind weer in die oë kyk na wat ek daardie aand toegelaat het?
Daar was nie ‘n dag wat verbygegaan het wat ek nie aan jou gedink het nie. Ek het gedink hoe trots ek altyd op jou was, en steeds is, dat jy so ‘n wonderlike mens is. ‘n Bedagsame en liefdevolle seun. My kind wat sensitief is vir die wêreld om hom, en altyd sy bes doen om ander mense se seer minder te maak. Dit was nie net ek wat jou lief gehad het nie, ander het ook so baie van jou gedink, opreg gesê wat ‘n ongelooflike mens jy was. Min wetende dat jy self so groot kruis gedra het.
Ek moes jou gehelp het daardie aand. Ek moes hóm met die vuis geslaan het. Hy wat jou so veroordeel het, was nie ‘n tiende so goeie mens, so ‘n man as wat jy is nie. Ek het besef hoe min ons regtig weet van die mense vir wie ons lief is in ons lewens, maak nie saak hoe naby aan ons aan mekaar leef nie. En die ironiese ding is dat jy altyd so aandagtig na ander luister en hoe oplettend jy is vir ander mense se gevoelens.
Jy was so dapper daardie aand, my seun. Om jou hart oop te maak vir jou ouers, en dan breek hulle jou hart in ‘n duisend stukke. Ek het oomblikke later eers besef wat gebeur het, wat eintlik gebeur het, en ek het dadelik teruggegaan na jou kamer toe om jou styf vas te hou en te beskerm. Maar jy was weg. En my hart het ook in ‘n duisend stukke gebreek. Ek was ontneem van soveel wonderlike oomblikke saam met my wonderlike kind. Wat ons nog alles kon praat. Watter mooi herinneringe ons saam kon maak.
Sal jy my vergewe my liewe Tiaan? Onthou, behalwe vir daai oomblik van swakheid – van verwarring – het ek jou lief met alles wat ek het. Onvoorwaardelik. Ek is jou ma. Jy is my kind. Niks kan ooit daai liefde wegvat nie.
Ek mis jou.
Jou ma.
* * *
Die begrafnisgangers het met afwagting na my gestaar. Hier en daar was ‘n snik en ‘n neus wat geblaas word, wat die stilte gebreek het. Ek het gewonder hoeveel van ‘hulle’ het geweet ek was die verlore seun. ‘Hulle’ het seker almal gedink ek het geen reg gehad om iets te sê oor my ma nie. Hoeveel van ‘hulle’ het my verafsku vir dit wie ek was.
Ek was nie daar om met ‘hulle’ te praat nie. Ek was daar om met Ma te praat.
Hoe raak jy liries oor iemand wat jou vir net enkele oomblik in ‘n leeftyd teleurgestel het? Met liefde. Sy het my aanvaar vir wie ek is, want ek is haar kind. Ek vergewe haar vir haar foute, want sy is my ma. Ek is self nie sonder foute nie, so wie is ek om nie te vergewe nie?
Ek het my keel skoongemaak en na die groot foto van my ma gekyk. Ek het my verbeel dat sy voor die oond staan met haar stoute glimlag.
“My liewe Ma. Hoe sê mens totsiens vir iemand? Iemand wat my hele lewe daar was vir my. My geskraapte knieë gedokter het, my op die voorkop gesoen het as ek opgewonde was oor iets en my ‘n stywe druk gegee het as ek hartseer was oor iets. Hoe sê mens totsiens vir iemand wat jou die verskil tussen reg en verkeerd geleer het? Iemand wat jou onvoorwaardelik lief gehad het. Jy’t my my naam gegee. Jy’t my die kleur van jou oë gegee. Ek sien jou gesig elke keer as ek my eie gesig sien.
Ek – ons – is hartseer oor die dood van ‘n goeie mens. Dit is uit hierdie hartseer dat ‘n gevoel van dankbaarheid na vore kom. Ek voel geëerd om jou as ‘n ma te gehad het. Jou dood herinner my dat my tyd op hierdie pragtige planeet beperk is en dat ek elke geleentheid moet aangryp wat ek het om te vergewe, te deel, te verken en lief te hê. Ek kan aan geen beter manier dink om Ma te eer as om só te lewe nie. Ek vergewe jou. Ek vergewe myself.”
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2022 Liriese projek