Oor groenigheid en goeters (silwer)
Dis vaalwarm in die Boesmanland, my blom
die wind het weer vandag
soos gister en die dag daarvoor
die wolke uit ons hemel weggewaai
en nog net bid bly oor
maar toe die son netnou se kant
aan die westerkim sy lêplek kry
bring die aandwind so ‘n koeltetjie
wat doeksag teen my aan kom vly
en ek weet nie of ek my verbeel
dat ek jou ‘n bietjie meer verlang
as skemer saans sy bontjas
oor oudag se skouers hang
want jou menswees hou die mooi belofte
van ‘n blomseisoen
en ten spyte van die reën se weglam,
‘n handvol immergroen
©️Elize Kruger
4 Maart 2023
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2023 OOP projek