Op ou Treinspore (brons afdeling)
ek wil “eendag” vang en wegbêre
wil dit in ‘n kardoesie toemaak
en dit iewers gaan wegpak
dit hou vir die “môre” wat kom
saam met jou wil ek spore los
in bergstroompies gaan plas
en spoelklippies laggend opraap
dit hou vir die “môre” wat kom
ek wil saam met jou op ou treinspore loop
hand-aan-hand wonder oor “gisters” wat was
op nat strande wil ek jou vashou
ons lywe warm ineen met seewinde koel
terwyl seesproei se nat vingers ons streel
en nuwe drome op branders uitspoel
wanneer die volmaan weer bolwang glimlag
wil ek saam met jou onder die sterre staan
soos ‘n venus en saturnus in die nag
om grootoog die son in te wag
ek wil saam met jou op ou treinspore loop
hand-aan-hand onthou van “treine” wat verby is
dan wil ek die kardoesie gaan haal
oopmaak, en nuwe “môres” daarin sit
en dit saamdra sonder hink
na waar nuwe horisonne wink
©callie 2018
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2018 - OOP projek