Jongste aktiwiteit:

Operasie Kaktus

Hannes van Wyk trek sy asem op as hy voor die groot plaashuis stop. Die donkerrooi mure en donkergrys dak maak ‘n indrukwekkende prentjie teen die groen grasbekte tuin rondom. Op die stoep staan verskeie ou ploegskare en ander plaasvoorwerpe. Alhoewel dit lyk of dit byna argeloos daar neergesit is, weet hy met ‘n absolute sekerheid dat alles presies so neergesit is om hierdie prentjie te skep.

Dis doodstil. Daar is geen beweging rondom die plaashuis nie. Hy weet dat dit netnou hier sal begin lewe. Hierdie is nie net ‘n gewone plaashuis nie. Volgens inligting word gedeeltes van hierdie plaashuis as ‘n winkel en plaasrestourant, Pad Opstal gebruik. Hier teen 11h00 is daar ‘n miernes van bedrywighede, wanneer die tafeltjies en stoele op die grasperk uitgepak word en piekniekkomberse beskibaar gestel word. Middagetes word dan bedien of mense kan op die gras piekniek hou. Die winkeltjie verkoop ook vars produkte.

Hy loop na die landerye toe. Die inligting het dit duidelik gestel. Daar is drie jong mense wat hier boer. Die samestelling van die boerdery is uniek. Daar is stroke groentebeddings waar hulle omtrent al die groentes onder die son kweek. Die groentes vorm deel van die etes wat hier verkoop word. Daar stroke mielies sowel as koringlande. Aan die voet van die koppie is daar ‘n paar beeste, varke, skape en hoenders. Hulle noem dit ‘n laslappie mikro boerdery waar alle vars produkte teen ‘n bekostigbare prys te koop is.

‘n Meisiestem trek sy aandag. ‘n Aanvallige blondine is besig om die groente beddings te bewerk. Sy waai vir hom en hy waai terug. Die prentjie flits deur sy geheue en hy sien die feite soos dit op papier staan. Ronel Barnard, 25 jaar oud en verantwoordelik vir die groente tuine. Dis ook sy wat die spyskaart vir die middagetes opstel. Hy stap nader en stel homself voor. “Ek is Hannes van Wyk, bly te kenne.” “Aangename kennis Hannes van Wyk. Ek is Ronel. Wat dwaal jy so vroeg hier rond? Ons bedien slegs middagetes van so 11h00 af.”

Hannes kies sy woorde versigtig. Die meisiekind mag nog jonk en onskuldig lyk, maar hy weet dat sy nie dom is nie. Hy het nie verniet sy navorsing gedoen nie. “Ek is oppad na die Kaapstad toe en ‘n vriend het my van julle unieke Plaas Opstal vertel. Ek weet ek is baie vroeg, maar sal graag wil rondkyk en sommer net vertoef tot middagete.” Hy wys na die kamera om sy nek. “Ek sal ook graag ‘n paar foto’s van die omgewing wil neem, as jy nie omgee nie? Dit is so mooi en die boerdery enig in sy soort. My vriend het my vertel van hierdie laslappie mikro boerdery van julle.”

Hy hou haar fyn dop vir enige reaksie van haar kant af, maar sy glimlag onverstoord en antwoord oënskynlik spontaan. “Jy is welkom om rond te kyk en paar foto’s te neem, solank ek nie op die foto’s verskyn nie.” Sy lag vrolik. “Is jy ‘n joernalis of iets? Ons plasie is baie spesiaal en ‘n bietjie publisiteit kan net goed wees vir ons.” Hannes gebruik die gaping wat haar woorde laat. “Ja jong, ek is ‘n vryskutjoernalis wat juis artikels oor moderne en veral mikro boerderye doen. Ek verstaan die opset hier is baie uniek. Ek gaan jou nie langer pla nie. Ek gaan bietjie rondstap.”

Verder in die plaaspaadjie af sien hy die jongman wat op die gebaalde hooi sit. Sy fotografiese brein flits die feite af. Ben Barnard, 29, Ronel se broer, verantwoordelik vir die graanproduksie en die plaasdiere. Dis nie al nie. Die leer sê ook, koel, berekend en skerpskutter van formaat. Hy is nie seker waar die mannetjie sy opleiding as skerpskutter gehad het nie. Dit het hy heel toevallig uitgevind. Dit beteken die jongman is ‘n gedugte kalant. Nadat hulle albei hulle self voorgestel het gebruik hy Ronel se “alibi” wat sy onbewustelik vir hom gegee het. Hy verduidelik oor sy werk as vryskutjoernalis en kry ook Ben se toestemming om foto’s van die plaas te neem. Ben sal tydens middagete met hom gesels en vrae oor die boerdery antwoord.

Hy stap verder aan. Die voëls kwetter en sing vrolik en die gebulk en geblêr in die verte, versterk die idilliese prentjie van plaaslewe. Hy weet, die inligting wat hy het is betroubaar. Hy weet dat daar ook ander bedrywighede hier plaasvind. Hy drentel verder rond maar kan niks kry wat sy aandag trek nie. Hy moet die plante vind! Meer nog, hy moet die konsentraat wat van die plante onttrek word, vind. Dit is lewensbelangrik! Hy het nie verniet twee botteltjies in sy sak nie. Hy het bietjie van die konsentraat nodig! En waar is die derde en laaste persoon? Sandra Pieterse, 29 jaar oud en die meesterbrein agter die konsentraat. Sy is die een wat al die navorsing gedoen het.

Teen middagete het Hannes niks verder gevorder met sy ondersoek nie. Hy het verskeie foto’s van die plaasopstal en die plaaslewe afgeneem en letterlik elke stukkie grond gefynkam, versigtig, sonder om aandag te trek. Daar is net mooi niks wat afbreek doen aan hierdie perfekte beeld van plaaslewe nie! Daar is nou verskeie tafeltjies uitgepak en ook komberse oopgesprei vir die mense wat eerder piekniek wil hou. Hy gaan sit by een van die tafeltjies wat ‘n uitsig oor die hele area verleen. Die plek is duidelik gewild! Dis ‘n miernes van bedrywighede en meeste tafeltjies word stelselmatig gevul.

Die spyskaart bestaan uit een van twee keuses, ‘n bord boerekos of ‘n piekniekmandjie met kouevleise, kase en broodjies, sowel as ‘n verskeidenheid van slaaie om van te kies. Ronel kom neem sy bestelling. Hy besef dat al die ander mense vooraf bespreek het en hulle keuses gemaak het, maar sy glimlag. “Daar is altyd ietsie ekstra om vir een of twee onverwagte gaste voorsiening te maak. Geniet jy maar jou boerekos! Ben het gesê dat hy netnou by jou sal aansluit.” Dan sien hy die rooikopmeisie en trek sy asem in. Fokus, Hannes! Jy kan nie nou jou koel verloor nie!

Sandra stap glimlaggend tussen die gaste deur. Sy gesels hier en daar, maar hy weet instinktief dat daar iets doelgerig in hierdie optrede is. Dan staan sy voor hom. Sy stel haarself voor en verduidelik dat die ander twee haar reeds ingelig het oor sy besoek. Hannes kies sy woorde nou baie versigtig. Hy vertel haar oor hoe beindruk hy met die hele plaasopset is en wys vir haar die foto’s wat hy geneem het om die beeld van joernalis te versterk.

Onder die vaandel van joernalisme begin hy meer uitvis oor haar rol op die plaas. “Ek verstaan Ronel is verantwoordelik vir die groenteboerdery en Ben vir die res van die boerdery. Waar pas jy in?” Hy wag vir haar antwoord. “Ek help Ronel met die etes hier by die Plaas Opstal en met die groente verkope.” Haar glimlag bereik nie haar oë nie. Hannes aarsel. Moet hy? “My vriend sê dat julle ook ‘n baie besonderse boerdery beoefen met ‘n relatiewe omstrede plant. Ek het niks vreemds of ongewoon gesien nie. Steek daar enige waarheid in?” Sy frons en Hannes weet hy het haar onkant gevang met die vraag. “Wie is die sogenaamde vriend van jou?” Daar is ‘n kilheid wat in haar stem ingesluip het.

Hannes sit rustig terug in sy stoel. Vaagweg is hy bewus van Ben en Ronel wat ook in die omtrek huiwer. “My vriend se naam is Herman Lategan.” Hy hou hulle gesigte fyn dop. Hy sien hoe Ben nader aan Ronel staan. Sandra se gesig bly neutraal maar haar stem is ysig en koud. “Wag net hier.” Dis nie ‘n versoek nie, maar ‘n bevel. Sy verdwyn in die opstal in en kom terug met ‘n kaktus in die hand. “Vat dit!” Hy sien die ontsteltenis op Ben en Ronel se gesigte. “Vat dit en loop! Gee pad van die grond af!” “Nee!” Hy kyk na die ander twee en sê vir hulle. “Gaan help die ander gaste en kom terug as julle klaar is. Ek sal hier wag totdat almal weg is. Dan kan ons rustig gesels.” Hy eet sy kos asof botter nie in sy mond kan smelt nie.

Nadat die laaste gaste weg is kom sit die drie by hom. Hy verduidelik dat hy ‘n privaatspeurder is wat vir Herman Lategan ondersoek het. Herman het hulle patente reg op die konsentraat van die kaktus probeer steel en hy het hom vasgetrek. Hy is bewus van die gebruike van die konsentraat en hoeveel lewens daarmee gered kan word. “Ek het ongelukkig ‘n sample nodig om vir Herman behoorlik aan die pen te laat ry,” verduidelik hy. Die gesprek duur lank en hy antwoord geduldig al hulle vrae en gee ook vir hulle die bewyse van wie hy is. Dit is belangrik om hulle vertroue te wen.

Uiteindelik klim Hannes is sy voertuig, die botteltjies met die konsentraat veilig in sy motor, sorgvuldig toegemaak. Hy grynslag. Dit was maklik! Nou kan hy verdere toetse laat doen om die presiese samestelling van hierdie konsentraat te bepaal. Hy weet dis nie net ekstrak van die kaktusplante nie. Daar is ander chemiese stowwe by. Dis jammer dat hy Herman Lategan uit die weg moes laat ruim voordat hy die laaste inligting kon kry, maar hy was bang sy vrae gaan meer agterdog wek. Hy het Herman Lategan per toeval ontmoet, maar vertrou die man nie heeltemal nie. Daar is ‘n klomp oorsese ouens wat angstig wag op hierdie konsentraat want dit kan sekere kankers baie suksesvol behandel. Hy gaan skatryk wees! Hierna kan hy ernstig oorweeg om af te tree.

Ben, Sandra en Ronel hou die motor dop. Dan lig Ben sy geweer wat hy onder een van die piekniekkomberse weggesteek het. Hy korrel en skiet sekuur. Hulle sien hoe Hannes se kar heen en weer swaai en tot stilstand kom as beide die agterwiele getref word. Sandra tel haar selfoon op en sê saaklik. “Kolonel, julle kan inbeweeg. Operasie Kaktus is met sukses voltooi.” Alles gebeur nou vinnig. Hannes se kar word omsingel deur verskeie ongemerkte voertuie en hy word al swetsend in hegtenis geneem.

Kolonel Herman Lategan kom na die drie jongmense toe. “Julle was puik! Die hele plaas opset het perfek gewerk om Hannes van Wyk, meester in industrieële spioenasie vas te trek. Julle is werklik ‘n aanwins vir intelligensie diens! Ek kan nie glo hy het die storie oor die kaktus se konsentraat gekoop nie! En dan het hy sowaar geglo dat hy my uit die weg geruim het! Julle het voorwaar julle rolle oortuigend gespeel!”

Ben kyk na die ander twee en as hulle knik antwoord hy baie ferm. “Kolonel Lategan, dit was ‘n eer om saam met u te werk. U weet dit het ongeveer drie jaar gevat om ons erfplasie te verander en vir die doel te ontwikkel. Ons het egter genoeg gehad van intelligensie diens. Die tyd hier het vir my en Ronel oortuig dat ons eerder hier wil voortgaan. Ons hou van ons laslappie mikro boerdery. Ons glo daar steek baie potensiaal daarin. Hy sit sy arm om Sandra se lyf. Ek weet Sandra is deksels goed as offisier, maar ek het haar gevra om met my te trou. Sy sal ook verkies om eerder hier te bly en saam op die plaas te boer. Sandra se oë is vol liefde as sy hom diep in die oë kyk voordat sy beaam wat hy gesê het.

Herman glimlag. “Ek moet erken. Ek het dit nogal verwag. Ek gaan julle mis, maar ek kan verstaan dat julle eerder hier wil bly. Ek sal julle help om julle bedankings in te dien en alle formaliteite af te handel.” Dan lag hy vrolik. “Ek dink julle skuld my een van die kaktusplantjies om te hou vir ‘n aandenking.” Hulle almal skaterlag as Sandra die plantjie aan hom oorhandig en ewe vrypostig byvoeg, “wil kolonel ‘n botteltjie of twee van ons unieke konsentraat ook hê?”




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed