
Oums se meisiekind
Narissa woon in Modderpoort –
daar waar die beeste áldag wei
deur die lang gras van die Vrystaat
en in paadjies by haar huis verby.
Hoe blou is tog haar ogies
en haar haartjies fyn en blond;
haar lippies alte rosig,
haar wange soensag en gerond.
Sy het ’n babasussie
(die kleine Luandé)
en wanneer sy haar vashou
maak dit haar hart oneindig bly.
Selina pas haar mooi op
en leer haar Sothowoorde sê;
soms word sy geabba,
soms in haar bedjie neergelê.
Sy ken al die dierename
daar’s van elk ’n prentjie in haar boek
en ghomo is haar gunst’ling dier
waarna sy tussen blaaie soek.
Haar beste maats is haar twee poppe
sy stoot hul in haar draadkar rond;
sy noem hul Gabby en Selina
en trek hul aan in rokkies bont.
Soms ry sy saam met Pappa
of help vir Mamma in die huis;
sy pluk graag vir almal blomme
om te sê: jy’s welkom tuis.
Maar aan die einde van ’n lang dag
is dit mos tyd dat sy moet bad
en wat is dan nou lekkerder
as borrels in die water
en druppeltjies wat spat.
*
Narissa woon in Modderpoort
daar waar die beeste heeldag wei
in paadjies deur die lang gras
en reg voor haar huis verby.
© Carma Shaw
16 Januarie 2019
3:36
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
Pragtige gedig vir 'n pragtige dogtertjie!