Pa
Pa, vandag verlang ek na die plaas
en na die tye toe ek laas
saam met pa kon kraal toe stap
om koeie te gaan melk
van die nuwe kalf se bies te tap
en hanslammers te voer
ek kry die reuk van kraalmis
en die water in die dam
as dit uitloop in die leivoor
waar ons erdwurms kon vang
die geur van vars lusern
en die soetdoring se gom
ek sou weer saam met pa
wou gaan waatlemoene pluk
goudgeel ryp spanspek
en groenmielies vir my ma
met die soet geur van die grond
ai, ek verlang na pa
ek wil weer een keer ná die reen
in die blou jeep saam met pa
op modderpaadjies ry
en deur waterpoele plas
die bergpas op in donkiegear
op soek na salie en rabas
pa’t my van die veld geleer
van droogtes en van reën
saam het ons die sterre getel
en stories opgemaak
“enigiets is moontlik
as jy in jouself kan glo”
pa, in jou hart was jy ewig kind
met jou gedagtes in die wind
en die lag in jou oë
as iewers die reën uitsak
jou stem sal ek vir altyd hoor
jy’s die hartklop in my oor
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.