Jongste aktiwiteit:

RIDDERS VAN DIE YSTERPAD HOOFSTUK 1

HOOFSTUK 1

Die Desember middagson bak ongenadiglik op Kroonstad neer in 1969. In n rooi baksteen spoorweghuis het Maureen Meiring nou net die blink kosblik met sy koperdeksel op die tafel neergesit om hom te begin pak vir haar man, n spesiale klas drywer, se skof vannag Bloemfontein toe. Volgens die roep briefie wat die roepman vroeër deur die dag gebring het werk haar man vanaand trein 435, die Johannesburg Port Elizabeth passasierstrein en is hy vyf uur aan diens.

Maureen is n vrou van 38, donker hare met n pragtige figuur en is haar en groot Tiny Meiring se oudste seun, Jannie, in matriek met hulle meisiekind, Cathy, nou in st. agt.

Jannie trek baie op sy pa, groot gebou en ook n donkerkop. Hy is n uitblinker in sy vakke op skool en hy maak al wat n skooldogter is se bene jellie maar hy steur hom nie veel aan hulle nie. Hy en een van sy suster se vriendinne, Marcel, wat saam met haar in die klas is, kuier so bietjie oor en weer.

Cathy is n mooi meisie, ook n donkerkop wat baie op haar ma trek en self maar al wat skoolseun is se bene jellie maak. Haar held is weer Marcel se broer, Anton, wat so pas aangestel is as stasievoorman op Featherstone, net buitekant Kroonstad.
Maureen is n spoorwegdogter deur en deur wat haar hele lewe maar langs die ysterspoor was. Haar pa was ook n drywer, Paddy O’ Connor, n befoeterde ou man wat menige stoker laat wegloop het. Alhoewel hy van die skoolbanke af op die spoorweë as n stoker begin het was hy een van die sogenaamde oorlogsdrywers. Met die uitbreek van die tweede wêreld oorlog in 1939 het hy sy vrou en sewejarige dogter net so gelos om af te sit Noorde toe om teen die Italianers, en later die Duitsers, te gaan veg. Met sy terugkoms na die oorlog was Maureen n meisie van veertien en het hy weer n heenkome op die Suid-Afrikaanse Spoorweë gevind. Vir erkenning van die tyd in die weermag in Noord-Afrika is dit erken as diensjare op die spoorweë en aaneen geskakel met sy diens voor die oorlog. Dit het groot ongelukkigheid onder die manne, wat nie gaan veg het nie, veroorsaak. Met die aaneenskakeling van diens en weermagsdiens erkenning het Paddy, soos baie ander wat oorlog toe was, vinnig n drywer geword en het hy heelwat van die manne, wat nie Noorde toe was nie, in senioriteit gespring.

Haar moeder is kort na Paddy se terugkeer oorlede en het sy en haar pa maar in die eenvoudige spoorweghuis in Hoffestraat, nie ver van die Meirings af nie, aangegaan. Sy was maar die huishoudster wat vir hulle gesorg het, haar pa se blik gepak het en gesorg het dat hulle huis blinkskoon is soos sy by haar oorlede ma geleer het. Dit was voor die dae van poleerders en moes sy die blink blokkiesvloere op haar knieë poleer. Alhoewel die huis elektrisiteit gehad het was daar nog n koolstoof in met die warmwaterstelsel aan hierdie stoof gekoppel. Dit was haar werk om hierdie stoof aan die gang te hou en het sy soggens voor skool vuur gemaak maar moes sy as sy van die skool afkom maar weer die as uitkrap en van vooraf vuur maak. Huiswerk het sy maar saans gedoen.

Een maal n week het sy en Paddy dorp toe gegaan om vir die huis te gaan kry wat nodig is en as daar tussenin iets kort kom moes sy maar dorp toe loop om dit te kry.
Intussen moes sy nog tuin maak en wasgoed was en stryk ook maar hiermee het haar pa haar gehelp. Die wasgoed is met die hand gewas, daar was nie n wasmasjien nie, en het Paddy eers later n balie wasmasjien met rollers aangeskaf. As die wasgoed uit die balie gehaal is is hulle deur die rollers, wat met die hand gedraai is, gepers om die ergste water uit te pers. Dit is net met die ander huislike pligte wat hy nie n vinger verroer het nie, hy het geglo dit is n vrou se werk om huis te hou en te sorg dat alles reg is en moes sy noodgedwonge haar ma se plek inneem.

Haar ma se dood was vir haar n groot terugslag. Sy was n sterk gesonde vrou en het net een aand gaan slaap om nie weer op te staan nie. Paddy was die nag by die huis en sy sal nooit die verslaendheid op sy gesig vergeet toe hy vroegoggend in haar kamer ingekom het en by haar op die bed kom sit het nie.

Sy het dadelik besef dat iets drasties verkeerd is en het sy woorde haar geruk: “Maureen mamma is no longer with us. She went to heaven last night”.

Met die begrafnis het sy haar hart klaar uitgehuil en het sy saam met Paddy terug gekom huis toe om haar ma se plek in die O’ Connor huishouding te begin volstaan. Die Ierse bloed in haar het oorgevat en het sy haar plek as die vrou in die huis volwaardig vol gestaan en nooit haar skoolwerk daardeur verwaarloos nie.

Hulle huis was maar eenvoudig gemeubileer, Paddy het nie aan luukshede geglo nie. In die kombuis was n tafel en vier stoele en het elke kamer n bed en n hangkas gehad. Haar ma het darem n spieëltafel ook gehad. Die sitkamerstel was n eenvoudige stel bestaande uit n bank en vier stoele met n koffietafel. Hierdie meubels het Maureen egter met dieselfde liefde versorg soos haar ma dit versorg het.
Maureen glimlag by haarself soos haar gedagtes terugrol. Sy was in standerd 9 toe sy een middag van die skool af oppad was huis toe toe die swartkopman sy fiets langs haar tot stilstand gebring het en homself ewe galant voorgestel het as Tiny Meiring. Die blik en oorpak het hom verraai en het sy dadelik gweet hy is n stoker. Sy het maar net geglimlag en aangestap huis toe met hom wat ewe kordaat saamstap tot by die huis. Toe sy by die hekkie indraai het sy vir die eerste keer gepraat toe sy met n warm glimlag vir hom sê: “Ek is Maureen O’Connor en my pa sal jou lewendig skil as hy jou by my sien, jy beter spore maak voor hy jou sien”.

Tiny het n kragwoord geuiter en gemaak dat hy wegkom want Paddy O’Connor was n berugte karakter in Kroonstad loko.

Dit is n sagte glimlag wat om Maureen se momdhoeke kruip want sy moet tot vandag toe nog erken dat die man vlinders in haar maag laat vlinder het en haar bloedrooi laat bloos het die dag toe hy met sy fiets langs haar gestop het.

Tiny het haar later eers vertel dat hy haar n paar keer gesien het maar dat dit hom ook maar n rukkie gevat het voor hy die moed kon bymekaar skraap om met haar kennis te maak.

Tiny het homself egter nie laat afsit nie want hierdie donkerkop met die lang hare in n poniestert agter die kop gebind het in sy hart ingekruip en het hy sy dingetjies so begin uitwerk dat hy gereeld saam met haar begin huis toe stap het van die skool af as hy nie op die pad was nie. Hy het in Maureen se hart ook ingekruip en het sy dit maar gelate aanvaar. Sy was self ook maar dood verlief op hierdie donkerkop man. Die feit dat hy vyf jaar ouer as sy was het nie vir haar saak gemaak nie.
Hulle het naderhand begin gesels en mekaar so beter leer ken en het hulle erg oor mekaar geraak. Toe beland Tiny Meiring saam met Paddy O’Connor op die voetplaat nadat hy die hoeveelste stoker weggejaag het. Dit het Tiny se kaarte erg deurmekaar gekrap want hy was nou al mooi slim en het gereeld wanneer hy afteken op die rooster geloer waar Paddy is. Hulle was nou op hierdie stadium wat hulle so af en toe skelm n koeldrank in die stasiekafee gaan drink het as Paddy nog ver was. Hierdie luukse was nou verby en sou ander planne gemaak moes word.
Tiny het haar gereeld vertel dat die roepman hom met daardie eerste rit duidelik laat verstaan het vir wie hy stook en dat hy maar voor die tyd moet kom om seker te maak dat die lokomotief skitterblink is ander gaan Paddy die lewe vir hom moeilik maak want hy glo sy lokomotief moet skitterblink.

Met n glimlag begin Maureen brood sny vir n paar toebroodjies wat Cathy, wat intussen by haar ma kom sit het, begin smeer. Die sweet drup hulle af want die koolstoof maak die lewe in die kombuis op hierdie hittige dag nie makliker nie. Die heerlike geur uit die kospotte op die stoof vul egter die kombuis want Tiny moet darem n ordentlike ete kry voordat hy gaan werk, Maureen is nie verniet n uithalerkok nie.

Die toebroodjies klaar word dit in die blik gesit saam met n stukkie wors wat hy op die pad kan gaarmaak. Daar word seker gemaak dat sy koffie, suiker en melkpoeier houers vol is en met hulle in, word die binne deksel ingesit met Tiny se persoonlike goed, wat altyd saamgaan, en die blik toegemaak.

Intussen lê Tiny in die bed en rondrol. Die middaghitte is erg en is dit nie maklik om in die hitte te slaap nie. Met die vensters wyd oop kom al die straat geraas en geluide in die kamer in om jou verder wakker te hou, al probeer jy hoe hard om te slaap want daar lê n lang nag voor.

Uit die kombuis uit hoor hy Maureen werskaf en sy hart word na al die jare van getroude lewe steeds week as hy haar hoor. Vir hom was daar, vandat hy haar die eerste keer gesien het, nog net een vrou en dit was Maureen. Hy sal in sy lewe nooit vergeet toe hy haar die eerste keer gesien het nie. Hy was oppad na hulle nuwe huis toe wat hulle net betrek het, so n entjie hoër op as die huis waarin Paddy en Maureen in gebly het, toe hy die donkerkop meisie met die lang poniestert gewaar het met die boeketas oor die rug. Hy het vlinders in sy maag gekry en sy kop het aan die sing gegaan en het hy net daar besluit hy wil haar ontmoet. Dit het hom n rukkie geneem om die moed bymekaar te skraap om langs haar te stop en homself voor te stel. Sy het maar net geglimlag en het sy die eerste keet met hom gepraat toe sy by die hekkie ingedraai het en hom vertel het wie sy is. Dit het Tiny nie afgesit nie en was dit naderhand n gewoonte dat hy saam met haar van die skool af loop as hy in is. Baiekeer moes hy sy slaap daarvoor onderbreek. Nog later het hulle so af en toe n koeldrank in die stasiekafee gaan drink en het hulle n rukkie handjies vasgehou as hulle by die huis kom van die kafee af. Toe beland hy saam met Paddy en is sy kaarte heel deurmekaar gekrap.

Hy kon nou wel nog steeds met haar loop van die skool af maar kon hy nie meer saam met haar tot by die hekkie loop nie uit vrees dat Paddy hom sal sien.
Tiny se pa was ook een van daardie manne wat deur die depressie en die groot droogte in die dertigerjare maar moes padgee van die plaas af om n heenkome op die spoorweë te kom vind. Hy het as n arbeider in een van die spoorbaanspanne begin om “beater” te slaan en het later n ploegbaas geword waarvan die benaming later verander is na baanmeester. Tiny was die jongste van vyf seuns en het die Meiring seuns maar almal spoorweë toe gekom nadat hulle uit die skool uit is.

Sy ouer vier broers het almal stasievoormanne geword en later stasiemeesters, Tiny is die enigste een wat voetplaat toe gekom het om n drywer te word.

Tiny het op die harde manier begin, eers as skoonmaker en was dit hulle werk om die lokomtiewe in die lokoloods skoon te maak. Daarna het hy deur die verskillende stappe gevorder, eers asputte toe waar die lokomotiewe se vure skoongemaak word. Harde werk want die stokers het nie genade gehad nie en was die vuurkiste oorlopens vol klinkers as die lokomotiewe van die ritte af terugkeer loko toe om gereed gemaak te word vir die volgende rit.

Daarna was dit punteman en nou is jy darem al n meneer. Die punteman het saam met die loodsmanne gewerk om die lokomotiewe asputte en koolsteier toe te neem om vure skoon te maak en kole onder die koolsteier te vat. Daarna is daar water gevat en is die lokomotiewe gestal in die loods tot dit tyd word vir hulle volgende rit. Die punteman moet ook toesien dat die lokomotiewe in die loods se vure aan die gang bly en die ketels vol water.

Na n jaar is Tiny klas toe en na drie weke klas loop was hy n stoker. Die jong stokertjies het egter omtrent nog n jaar op die rangeerlokomotiewe gestook voordat hy pad toe is as n hooflynstoker. Die tyd op die rangeer was nie sleg nie want die drywers op die rangeer was meesal geslaagde stokers, dit is manne wat alreeds hulle drywerseksamens afgelê het en op drywers aanstellings gewag het. Gemaklike jong manne met geen streke nie. Die lekker van op die rangeer stook was ook die gereelde ure wat hulle gewerk het. dit was twaalf uur skofte maar die oortyd was altyd welkom.

Die hooflyndrywers was egter n ander storie, veral die senior drywers en dan manne soos Paddy O’Connor. Daardie jare was Kroonstad se hooftrekkrag die klas 15CA en 15AR lokomotiewe. Hulle het nie meganiese stokers gehad nie en moes n stoker buig om hulle vraatsige vure met die graaf te stook. Die luukse van meganiese stokers het eers later jare met die aankoms van die klas 23 en klas 15F lokomotiewe gekom. Vereeniging toe was voor elektrifikasie ook hulle domein met n ewe swaar treindiens.

Die Bloemfontein lyn was op daardie stadium nog n enkellyn en was n rit Bloemfontein toe n lang uitmergelende rit soos daar gestaan word vir kruisings op hierdie lyn waarvoor die verkeer hopeloos te swaar geword het. Tot agtien ure weg van die huis af was alledaags en was dit net op die passasierstreine wat hulle op korter ure uitgedraai het.

Toe die verdubbelling egter voltooi is het dit baie makliker begin gaan en was die Bloemfontein ritte baie korter. Al enkellynritte wat oorgebly het was die Klerksdorp ritte en die Goudveldritte maar met n baie ligter treindiens was hierdie ritte nooit so uitmergelend nie.

Nog met die geluide uit die kombuis uit begin Tiny se ooglede weer swaar word, hy het darem die oggend geslaap en raak hy weg in daardie heerlike middagslapie wat mens so diep laat slaap en Maureen laat glimlag toe sy die gesnork uit die kamer hoor. Al snork Tiny hoe hard, al is hy die nag by die huis, pla dit haar nie. Hy is haar man en haar hele lewe wentel om hierdie groot man.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed