Jongste aktiwiteit:

SKERMSPEL

SKERMSPEL

Hoë boom, weet jy wat het jy gedoen vandag?
Jy’t ’n jong boom se takkies gekraak
want jy’s so behep met mag –
jou ketterbek loei en laster lukraak.

Onheilspellend glim jou vlymskerp blare;
deurklief my gebeente en sny my selfidee
flenters tot selfs die twýfel etter uit my are
en my hol laat. Sosiaal verleë.

Jy ken my net agter my Facebook rookmis;
jou giftong twiet gretig; vingers verloor beheer
en kraak klakkeloos af na hartelus.
Jou windgat waaiery maak oral seer.

Wie het jóú gebloei dat jy so bitterwater drup?
Dis duidelik dat jy eintlik steeds soek na jouself.
Kom, vind jou sielerus hier by my oop krip
van waters waar rus is, en hou op delf

deur wroegwoorde te “post” omdat jy binne leeg is:
Mag is ’n monsterpion in ’n dwaas se hand.
Jou koning wil ander se drome vir homself vat, so jou koningin gaan “per ongeluk” die Insta-speletjie skaakmat.

Ja, die hoogste bome vang die meeste wind;
doodsruiters word strydrosse; en kastele maak arrogante skuiwe.
Maar soms val stormwinde vas in maniese buie.
Pas dan op: Trots is dalk jou biskop se eie galgband.

© Charlene Jordaan Kotzé (Junie 2022)
[Reeds gepubliseer in INKSPRAAK 3; nou effens aangepas – Desember 2022]




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed