Jongste aktiwiteit:

WAT KYK JY?

WAT KYK JY?

Wat kyk jy? Jy sleepvoet nuuskierig verby
en verrek skaamteloos jou skilpadnekkie
soos jy saamkyk en, nes talle ander, vermy
om te stop. Jy sê dis nie jou plek nie.

Waarna kyk jy? ’n Geruislose geraas en vreemde woeling,
gestamp en gestoot … gedempte gil.
Ongemaklik trap-trap jy uit voeling –
dis dalk als ’n siek grap – jy’t geen benul.

Waarom kyk jy dan?! Mog jou gewete pla
en daai raairuspe knaag deur die nag.
Want jy glo gerieflik dat iemand ánders wel sal vra;
oorbodig wees sal mos jou ego verkrag.

Waarom blý kyk jy? Jy help net dat die gis-kring groter raak:
Sensasiesoekers met slimfone speel skares mal.
Hoe lank wil jy nog wyfel of jou fluitjieblasery gaan saakmaak?
Hoe seker is jy ‘n ander omstander s’n het al?

Dit word laat! Jou getalm laat reeds baie seerkry.
Nóú skielik besorg almal waarom niemand iemand wou help.
Sodra die “show” oor is vlieg die sosiale gifpyle verby:
vingernaels vlam skerp; geveinsde oë ween oorstelp.

Hou op kyk! Hou op luier! Elkeen anders
verdig dieselfde flou verskoning as jy, sy en hy.
Jou blote belangstelling kon bloedbadbeplanners
keer. Verdomp, raak betrokke! Anders … wat kyk jy?

© Charlene Jordaan Kotzé (Junie 2022)
– Reeds geplaas in INKDIG 3, nou effens aangepas –

(Hierdie handel oor die sielkundige “omstander-effek”)




2 Kommentare

  • Koos Elsum

    Die gedig is gemeenskappe so goed verbeeld, ek gee kommetaar maar doen is min… Dankie vir deel Kommetaar: Ek is geen kenner vd tegniese aspekte vd digkuns nie, die volgende is net my eie leer proses so leer ons bymekaar 1. “ oorbodig wees mos jou ego sal verkrag” die reël sukkel ek om te plaas

    • Charlene Jordaan Kotzé

      Jammer ek antwoord nou eers, Koos. Ek kyk baie selde na kommentaar op my werke - ek is bloot te bang dat dit my stom en lam sal skok. Ek het 'n woord "en" uitgelaat in die frase wat jy noem, so dit maak dus kwalik sin. Ek gaan dit nou wysig. Dankie dat jy my daarop gewys het. As jy dit steeds nie kan interpreteer nie, help ek graag, maar ek wil jou as digter en leser nie onderskat nie. (Ek kan nie glo sulke foute glip deur na ek sestig keer die werk nagaan voor ek dit plaas nie - wys jou hoe pas die brein aan en verblind 'n mens vir jou eie foute. Nogmaals dankie vir die wenk.) Mooi week verder.

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed