Jongste aktiwiteit:

Slegs vir babas

lekker slaap my engeltjie
die donker is nou hier
daar buite word die hemelruim
met sterretjies versier

êrens speel daar feetjies
en kabouters in die nag
in jou soetste droompies
sal jy hoor hoe hulle lag

vergeet maar van die duiweltjies
want pappa sal hul vang
mamma sal hul stertjies knoop
en hul aan doringtakkies hang

en spokies is nie regtig nie
dis net gordyntjies wat so swaai
en die takkies voor die venster
wat in die windjie roer en waai

en heksies is net dogtertjies
wat op besempies wil wieg
en met ‘n katjie en ‘n kookpot
oor witte wolkies heen wil vlieg

so, lekker slaap my engelkind
die maan skyn silwersag
en môre as jy wakker word
sal ‘n sonstraal vir jou wag

© Carma Shaw
7 Maart 2015




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed