Jongste aktiwiteit:

Sokker in die Bosveld

Sokker in die Bosveld
Charlie miskruier wou nog altyd ‘n sokkerspeler wees, maar waar kry hy tog ‘n sokkerbal hier in die Bosveld?
Eendag loop hy deur die bos en sien ‘n groot hoop mis in die paadjie lê, in die middel daarvan lê ‘n perfekte ronde balletjie! Charlie duik Kop eerste in en rol dit uit. Uiteindelik! ‘n Sokkerbal! Hy roep al sy maters: “Julle! Kom kyk, ek het ‘n sokkerbal gekry!” Net daar en dan reel hulle ‘n groot wedstryd vir die diere van die Bosveld.
Charlie kies vir spiertier Mike Mier, en die spoedvraat Luke akkedis. Soos blits het hy ‘n hele span vol met van die beste spelers in die Bosveld. Vandag se wedstryd is teen die apies en hulle is baie goed.
“Prrrrrrt!” blaas die fluitjie en die wedstryd begin. Charlie is baie opgewonde, sy span kook! Maar o wee, die bal word al hoe groter en groter soos die grond daaraan bly vasklou en niemand kom dit eers agter nie.
Die spanne is nou gelykop. Daar is nog net ‘n minuut of twee oor. Charlie kry die bal, hy dribbel dit eers een kant toe en toe weer ander kant toe soos ‘n regte sokker ster. Die skare juig!
Charlie het die bal nou net waar hy dit wil hê. Hy skop! “Eina!” Skree hy en sy toon swel sommer dadelik op, maar die bal bly net daar lê! Die son het dit so hard soos klip gebak! Die fluitjie blaas! Die wedstryd is verby. “Ageneeeee, Charlie!”
Die diere raak eers stil en dan bars hul uit van die lag. Die Bobbejane en seekoeie lag so hard hulle rol op die grond rond. Ou skilpad haak skoon binne in sy dop vas. Zebra verloor amper sy strepe.
Charlie kry so skaam hy probeer die misbal gryp en wegdra, maar dit is te swaar, hy kan dit skaars optel. Charlie draai om en begin dit stoot, hy hou die bal vas met sy agterpote en stoot dit met sy voorpote, hy steun en hy kreun, en uiteindelik begin dit rol.
In die verte hoor hy nog die gelag! Hy hou aan stoot, en stop net so nou en dan om te sien of hy nog in die rigting van die groot Maroela boom gaan. Na ure se harde werk is hy daar. Die sweet tap hom af. Hy stop en kyk rond, hy luister. Daar is niemand naby nie, en hy kan ook nie meer die ander diere hoor lag nie.
Charlie begin om ‘n gat te grawe. Hy gaan die misbal so diep onder die grond begrawe dat niemand dit ooit weer sien nie. Hy grawe, pas die bal, grawe weer, pas die bal, sonder ophou! Nog bietjie aan die linkerkant en dan weer aan die regterkant. Uiteindelik sak die misbal in die gat in.
Charlie begin net om die grond weer bo-oor te stoot om die gat toe te maak toe hoor hy iets! Hy kyk op en daar staan Tienkie! Tienkie is die mooiste en gewildste miskruier in die Bosveld!
“Hello Charlie! Wat maak jy?”
“Uh, uh, niks!” Sê Charlie en begin sommer weer bloos!
“Ag, kom nou Charlie, dit lyk nie vir my soos niks nie!”
Tienkie was nie by die wedstryd nie, sy het by haar ouma gaan kuier en is oppad huis toe.
Charlie, dink vinnig “Ek begrawe die mis!” blaker hy uit.
“Hoekom?”
“Dit stink!”
“Maar ek ruik dan niks!”
“Ja, dit is omdat ek dit eers in die grond gerol het!”
“My magtie! Dit is briljant!” Roep Tienkie uit.
“Uh, ek weet! Uh, hoekom?” sê Charlie verbaas.
“Jy sien, as ons die mis in die grond rol, dan word dit hard en droog aan die buite kant maar bly sag aan die binnekant. Ons kan dan die kos en eiers daarin bere en die bal begrawe. Dit ruik ook na niks so die meerkatte sal dit nooit kan kry nie.
Jy is briljant!”
Tienkie roep opgewonde “Hi julle, Kom kyk, Maak gou!
Al die diere kom aan gehardloop. Almal praat gelyk: “Wat? Wat gaan aan? Wat het Charlie nou alweer aangevang?
Charlie kan voel hoe sy wange rooi word. Hy kruip sommer onder die misbal in die gat weg.
Trots se Tienkie “Charlie het ‘n manier gekry om ons kos en eiers veilig te bewaar en te beskerm teen almal wat dit altyd wil steel! Hy is briljant! Hy is ‘n held!”
“Hoerraaaa vir Charlie!” juig die diere.
Charlie loer onder die misbal uit en glimlag skaam, terwyl hy sy seer toon in die grond boor.
“Ag, dit was niks!” sê hy, en Tienkie gee hom ‘n klapsoen op sy neus!
Nou bloos Charlie eers.
Hy wou maar eintlik net ‘n sokkerspeler gewees het!

Retha Weir




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed