Jongste aktiwiteit:

DIE LAASTE WALS

DIE LAASTE WALS

 Geskryf deur Fanus Strydom

1236 woorde

 

 

Anna Conradie sit vasgepen in ʼn hoërugstoel iewers langs ʼn tafel in ʼn groot vertrek. Sy is vaagweg bewus van sagte musiek iewers in die agtergrond en die dowwe flikkering van kerse hier en daar. Sy hoor mense om haar, maar meeste bly dofweg verskuil in die grysgrou skadu’s van die halfdonker vertrek.

By ʼn helder beligte tafel oorkant haar kan sy vaagweg die silhoeët van ʼn man in ʼn swart pak klere uitmaak en iemand in ʼn wasige wit rok langs hom. ‘n Vrou.

“Wie is hy?” dink sy verbouereerd. “En sy…wie is sy?”

Sy strem haar oë om te probeer sien wie die persoon is, maar die wasige dowwigheid om haar maak dit moeilik en gou begin die ou-bekende pyn weer klop in haar slape. Sy laat sak haar kop maar weer vooroor op haar bors en voel ʼn druppel spoeg by haar een mondhoek uitloop. Sy probeer haar hand oplig om dit af te vee, maar haar arms bly net bewegingloos langs haar sye hang.

Paniek pak haar beet en sy haal begin hortend asem haal. Sy strem haar in om die man oorkant haar onder oë te hou, want hy bly die heeltyd kyk na haar en dit maak haar erg ongemaklik. As sy tog net kon opstaan om die kamer te verlaat, maar sy bly net sit asof versteen. Haar bene en arms wil eenvoudig nie saamwerk nie. Dis asof die man haar hipnotiseer met sy heeltydse gekyk na haar. Sy probeer iets sê, maar die woorde droog onhoorbaar weg iewers diep onder in haar brandende keel.

“Mpfhh…” probeer sy die aandag trek van die persoon langs haar, maar die musiek doof haar pleidooie uit.

Sy probeer haar kop draai om hulp te kry van iewers af, maar selfs dit is onmoontlik vir haar. Niemand hoor haar nie.

“Waar is ek?! Wat gaan aan?!” dink sy vreesbevange en rol haar oë desperaat in haar kop.

Maar niemand reageer nie. Dis asof hulle haar nie eers raaksien nie. Net die man wat nou weer bly staar na haar.

Dan staan hy stadig op en kom doelgerig aangestap in haar rigting.

 

“Here, help my!” prewel sy saggies en knip haar oë verbete in die hoop om wakker te word vanuit die nagmerrie.

Maar dis te laat, want hy staan reeds reg voor haar.

“Sien julle hom dan nie?!” roep sy stomstil om hulp en skud haar kop stadig heen en weer.

 

Die man steek twee, groot hande na haar toe uit. Hy is groot gebou en fris en sy besef dat sy  geen verweer het teen sy portuur nie. Toe hy sy arms aan weerskante onder haar armholtes indruk en haar stewig om die lyf vasvat, probeer sy een laaste maal desperaat om hulp roep, maar niemand hoor haar nie. Niemand kom haar tot hulp nie. Inteendeel, hulle bly net stilweg toekyk soos gewillige medepligtiges. Party neem selfs die gebeure op hulle selfone op en al wat sy sien is die liggies van die fone oral om haar. Agter die fone is die anonieme gesigte donker en onherkenbaar.

Sonder moeite trek hy haar vanuit haar stoel uit op en hou haar vir ʼn oomblik in sy uitgestrekte arms soos ʼn lam ter slagting. Dan trek hy haar styf teen hom vas en druk haar kop neer op sy groot, breë skouer. Sy hang in sy arms met haar voete ʼn entjie bo die grond. Hulpeloos soos ʼn lappop en totaal  onbevoeg om iets te doen. Sy sluit haar oë by die besef van haar magteloosheid en laat die man toe om met haar te maak wat hy wil.

Om haar begin die mense stadig handeklap. Hier en daar dink sy selfs sy hoor iemand saggies snik, asof hulle huil. Hoekom doen hulle dan niks om haar te help nie?!

 

“Ag, Here help my asseblief!” prewel sy teen die man se skouer vas, maar die klank verdwyn saam met haar eie vreesbevange trane in sy baadjiepak in.

 

Hy begin stadig met haar oor die vloer ronddans en draai haar eers díe kant toe dan daai kant toe, asof hy haar vertoon aan sy medepligtiges. Die gedraaiery maak haar dronk en sy wil opgooi, maar selfs dit is vir haar onmoontlik. Uitgeput en hulpeloos sak sy dan maar teen sy borskas vas en laat hom toe om sy gang te gaan met haar.

 

Oomblikke tevore het Chris Conradie en sy nuwe bruid by die onthaalsaal ingestap. Die eerste persoon waarna hy gesoek het was sy ma, Anna.

Hulle het haar rystoel staangemaak langs die bruidstafel en haar so gemaklik as moontlik probeer maak. Niemand het gedink dat sy die bruilof sou kon bywoon nie, maar sy het vasgebyt soos die ystervrou en ma wat sy altyd was.

Die motorneuronsiekte het haar laasjaar so onverwags beetgekry en in ʼn japtrap was sy totaal uitgemergel en onherkenbaar vasgekeer in haar eie, pynlike alleenwereld. Daar was niks wat enige-iemand meer vir haar kon doen nie. Somtyds het sy hulle nog herken, maar meeste van die tyd het sy eenvoudig weggesmelt in haar eie, verlore verlatenheid in. Die laaste keer wat sy hom herken het, was toe hy en Marietjie vir haar gaan sê het dat hulle wil trou. Sy was so bly en vir ʼn oomblik het die opgewondeheid helder in haar oë gestraal.

“Belowe my jy sal met my dans daardie aand…” het sy vir hom gesê.

“Ek belowe, Ma.” het hy geantwoord.

Nou hang die uitgemergelde vrou wat eens op ʼn tyd sy ma was amper leweloos in sy arms waar hy stadig met haar oor die dansvloer rondbeweeg. Soos ʼn lappop.

 

“Mamma, ek is lief vir Ma…” fluister hy saggies teen haar agterkop vas en druk sy gesig in haar vaal, ylerige haartjies in om sy trane weg te steek.

Vir ʼn oomblik dink hy hy voel haar reageer, dink hy hy hoor haar iets terug sê, maar dan verslap sy weer in sy stewige arms. Hy tel haar saggies effens hoër op om seker te maak haar kaal voete sleep nie oor die grond nie. Om hulle klap die mense saggies hande en huil onbeskaamd oor die tere toneel voor hulle.

Oor die luidsprekers sing Jim Reeves die woorde van “The Last Waltz”.

 

Dit was Anna se gunsteling, veral toe haar man Gert nog geleef het en hulle sommer so op die ingewing van die oomblik om die kombuistafel daarop gedans het. Vir ʼn oomblik dink sy sy hoor die woorde en melodie van ʼn oubekende lied, maar dan vervaag die klank weer vinnig in die niet in. Vir ʼn oomblik dink sy sy hoor die stem van haar geliefde seun Chris wat vir haar sê hy’s lief vir haar, maar dan hang sy maar net weer in die arms van die vreemde man. Onbeholpe en verlate. Soos ʼn lappop.

 

Tien dae later, op Anna Conradie se begrafnisdiens, het hulle haar kis ingedra op die maat van “The Last Waltz”.

Op die groot skerm bokant die preekstoel het die video gespeel van Chris en sy ma se laaste wals op sy en Marietjie se troue ʼn week vantevore. Die keer was die vertrek helder belig en die gesigte van al die ou-bekendes duidelik sigbaar en ontsteld oor die roerende toneel.

Net Anna het slapend stil en beeldskoon wit bly wieg in haar kis op die maat van die laaste wals die ewigheid in.

 

©Fanus Strydom




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed