
Inferno
Gebeure van lank, lank gelede begin die Oniks Labirint te affekteer. Die Kommandant van die Beskermers en die Heler is die oudste Feë daar – en hulle is net vyf-en-dertig. Steeds was die Drake Hof besig om te strek, die mag van die ander Howe te toets lank voor die vyftig jaar van vrede eindelik verby gaan wees.
Dis die groot rede hoekom die Hof wat in die Oniks Labirint met ‘n ander moet bande smee. Dis hoekom Brandon, Hertog van die Hof, verloof is aan ‘n prinses van die Eggo Labirint.
Daphne weet al die redes hoekom sy nie met die man wat sy lief het kan wees nie – hy is ‘n ridder op ‘n wit perd wat die prinses van die draak moet red – maar dit beteken nie dat dit nie seer maak nie.
Sy haat sy gesiglose verloofde van die oomblik toe dit aangekondig is dat hy gaan trou. Sy het nie eens gaan kyk hoe die vrou lyk die aand van die verlowingspartytjie nie, sy’t eerder haar diens as Beskermer gedoen om die Oniks Labirint veilig te hou.
Maar nou…
Daphne kon nie weg kyk van die wulpse klein blondinetjie langs Brandon nie. Sy dra ‘n pienk aandrok in ‘n skakering wat haar volwasse en vroulik, onskuldig en jonk alles op een slag laat lyk. Dit was ‘n oulike, sagte voorkoms wat Daphne net nooit kan reg kry nie. Sy sal net ongemaklik wees in al daardie lae chiffon.
In elk geval hou sy daarvan om ‘n gevaarlike Beskermer te wees wat meesal net leer klere dra wat haar warm hou en sterk genoeg is om die harde werk van gevegte te weerstaan. Daar is nie eens plek vir ‘n versteekte wapen in die prinses se rok nie…
‘Gerugte het die rondte gemaak,’ sê haar kommandant deur hul verstand-skakel. ‘Dis hoekom Prinses Calliope nou hier woon. Niemand wil die ooreenkoms sien deurval nie.’
Daphne hoef nie te vra waaroor die gerugte is nie – almal weet teen nou dat Leanne ‘n Muse Feë is en dat net die soen van iemand wat werklik die Hertog lief het – en vir wie hy lief is – hom kon red.
Almal spekuleer hieroor. Ten minste het Ruhan vir Henri uit die Oniks Labirint gevat – of sy het sy skinderende tong uitgesny.
‘As een van die min vroulike Beskermers is jy gekies om die Prinses te bewaak,’ gaan haar kommandant voort deur die verstand-skakel.
Daphne krimp amper ineen. Sy knik kortaf en hou haar gesig neutraal.
Sy is dankbaar dat haar kommandant haar net een keer bejammerend aankyk voordat sy vertrek.
Partykeer is dit maar aaklig om ‘n Beskermer te wees.
#
Daphne word bewend wakker, ‘n dun sweet laag orals op haar. Haar beddegoed is deurtrek met sweet.
Gelukkig is sy alleen in haar kamer. Die Elfies het dit klankdig gemaak – selfs vir die verstand – nadat sy ontslae geraak het van die Muse Fee wat hulle vir hul bloed vermoor het.
Die koorsdrome word al hoe erger. So-ook die Koors. Beelde van Brandon flikker nog voor haar.
Sedert sy uitgevind het dat sy en Brandon aan die Lewensmaat Koors ly, is dit net ‘n vloek.
O, dit word gesê dat die Koors jou presies vertel met wie jy bestem is om mee te wees en dus word troues blitsig gehou. Dit was ‘n seën.
Tensy jy deur die Koors – en liefde – aan iemand gebind word waarmee jy geen besigheid het om eers om eerstenaam basis te wees nie. As enigiemand – behalwe die wat reeds weet en nie omgee solank dit nie die Hof in gevaar bring nie – uitvind, sal sy vir verraad verbrand word.
Selfs die gedagte aan so ‘n afskuwelike einde is nie genoeg om haar af te koel nie.
Daphne sluk swaar.
Elke dag word dit net moeiliker en moeilker om selfbeheersing toe te pas. Veral na die soen wat sy met Brandon gedeel het… om hom van ‘n Muse Fee te red, natuurlik.
Daphne sug.
Sy kan net sowel opstaan. Sy sal net nog meer onnoembare drome hê as sy verder probeer slaap.
#
“Verrassing” is nie ‘n sterk genoeg woord om haar gevoelens te beskryf toe sy die besoeker in Prinses Calliope se kamer die volgende oggend sien nie.
‘n Draak Nimf – onmiskenbaar met haar kort koper hare en oë wat vlamme hou, gesmeerde omlyner en al – staan en grinnik langs die vistenk. Selfs die visse bly weg van haar af.
Daphne het geen idee hoe iemand van die Drake Hof die Oniks Labirint kon binnekom nie, maar dit was baie erger as die Feetjie Katte wat vir ‘n ruk die tonnels deurwandel het.
‘Ontspan, Beskermer. Blaze is my gas,’ sê Prinses Calliope paaiend. Sy lyk nes die vorige aand: sag en oulik. Hierdie keer dra sy ‘n rok oortrek met lilas en donker pers musieknote.
Daphne kan nie haar spiere ontspan nie: sy is reg vir ‘n geveg. Drake word geken aan hul eetgewoontes wat bediendes insluit, die bymekaarmaak van goud en… hul aandrang op maagde as offerandes. Sy hou die prinses dop, seker daarvan dat die dowwe dingetjie nie besef dat die Draak Nimf daar is om haar te ontvoer nie.
Die koperharige meisie lag skielik kliphard.
‘Wat?’ vra die prinses en kyk van een na die ander.
‘Die Beskermer dink ek is hier om jou weg te steel. Dis op jou gesig geskryf,’ sê sy vir Daphne en grinnik.
‘Hoekom sal jy so iets dink?’ vra Prinses Calliope, duidelik verbaas.
Daphne kners op haar tande.
‘Seker al die stories wat sy gehoor het oor die boosheid van drake,’ antwoord die Draak Nimf en trek haar klere, wat baie soos ‘n Beskermer s’n lyk, reg. ‘Jy kan ontspan. Ons doen nie meer dinge op die ou manier nie.’
Iets in haar stem laat Daphne dink dat hulle veel meer as net die reg om knegte te eet verloor het. Maar sy vra nie vrae nie. Haar werk was om die prinses te beskerm, nie om vriende te maak nie.
‘Blaze is hier om oor die prys te praat wat al die Howe belowe het om die Drake Hof te betaal in ruil vir vrede. Dit moet hernieu word.’
‘Die vorige keer was die prys vyftig maagde bedek met soveel goud as wat hulle kon dra. Maar nou…’ Blaze haal haar skouers op.
‘Een vrou vir elke jaar?’ vra Daphne verbaas.
‘Die ooreenkoms het nie gesê dat dit spesifiek vrouens moes wees nie – mans is net so goed,’ antwoord Blaze, lagliggies in haar oë.
‘Het jy enige voorstelle?’ vra die prinses vir Blaze.
‘Baie. Maar nie een wat jy sal van hou nie.’
‘Wat is jou opinie, Beskermer?’ vra die prinses.
‘Beskermers het nie opinies nie.’
‘Oulik – en belaglik,’ sê Blaze.
Daphne voel lus om die grinnik van haar gesig af te vee met ‘n vuishou.
Prinses Calliope sug. ‘Ek neem aan niemand anders mag weet dat julle nie meer dinge op die ou manier doen nie?’
Blaze knip haar oog vir die prinses. ‘Jy weet dit.’
‘Ek kan jou self-spelende musiekinstrumente aanbied wat gesondheid aan jou Hof sal gee,’ sê die prinses met iets wild in haar oë.
‘Mooi musiek en goeie gesondheid beteken nie baie as jy nie genoeg het om te eet of genoeg knegte het om skoon te maak nie,’ antwoord Blaze.
‘Daar is baie Chihuahua groote rotte in die Labirint…’ sê Daphne voordat sy haarself kon keer.
Blaze lag. ‘Rotte is lekker. Iets wat drake graag eet. Maar hulle is moeilik om te vang.’
‘Tensy jy ‘n spesiale fluit het wat hulle na jou sal lok…’ sê Prinses Calliope.
‘Knegte?’ druk Blaze.
‘Ek sal met Brandon praat. Het ons ‘n ooreenkoms?’ vra die prinses.
Blaze hou vir Daphne dop. ‘Net as ek privaat met hierdie Beskermer kan praat.’
Prinses Calliope kyk verbaas van een na die ander. Maar sy lyk nie agterdogtig nie. Daphne daarteen, hoor verskeie alarms afgaan.
‘Akkoord,’ sê die prinses.
Hulle skud blad.
‘Daar is ‘n hele paar Beskermers buite,’ sê Blaze en hou vir Daphne dop.
‘Dan sal ek gaan en hierdie ooreenkoms met die Hertog deel,’ sê die prinses en vertrek.
Daphne wag vir die Draak Nimf om eerste te beweeg.
‘Net sodat jy weet: my pa is die Koning van die Drake Hof. Hy het my gestuur om als uittesorteer voordat dit ‘n probleem kan word.’
‘Goed om te weet.’ Daphne kners op haar tande; nou kan sy nie die Draak Nimf van kant maak sonder om baie moeilikheid op die hals te haal nie.
‘My posisie gee my mag. En insig. Jy ly aan die Koors.’
Daphne word ontkant gevang.
‘Jou aura is nie naastenby so misterieus soos jy dink ie.’
Daphne sluk.
‘Dit helder op elke keer wat Brandon genoem word. Daar gaan dit weer…’
‘Wat wil jy hê?’
‘My Hof het baie oor die eeue verloor. Het jy geweet dat my voorvaders in drake kon verander?’ Blaze haal haar skouers op. ‘Nie naastenby so indrukwekkend soos die vloek wat hulle vrygelaat het op al die Feë wat in die Labirint woon nie. Dis iets wat ons al probeer beteul vir oor ‘n eeu. Maar as ek so na jou kyk, was ons maar baie onsuksesvol.’
‘Wat?’ Daphne voel verlore.
‘Die Koors. Dis ‘n vloek.’
Daphne voel al lankal dat dit so is. Maar…
‘Dis veronderstel om jou te vertel wie jou ware liefde is.’
‘A, nee. Dis geskep om chaos in die Howe te veroorsaak. Ja, dit maak gevoelens wat reeds daar is sterker, maar dis net ‘n lekker newe-effek.’
‘Jy wil sê dat my lewe in gedrang is oor ‘n lawwe vloek wat bedoel is as vermaak vir jou Hof?’ sis Daphne en probeer hard om aan die laaste vlenters van haar selfbeheersing te klou.
‘Ja. Wow!’ sê Blaze toe Daphne ‘n dreigende tree nader vat. ‘Daar is ‘n manier om jou te genees. Albei van julle.’
‘Wat? Hoekom sal jy dit doen?’
‘Dis deel van die ooreenkoms, al weet niemand dit nie.’
‘Hoekom?’
‘Sy sien die brandmerk op my gesig? Natuurlik doen jy – dis swart en duidelik. Dis die terugslag van die vloek. Dit mag dalk met elke Hof se emosies karring, maar dit maak myne dood.’
‘Dan hoe gaan jy dit stop?’
‘Vlamme en lawa van die middel van die aarde.’
Daphne sê dit nie, maar die Draak Nimf klink van haar verstand af.
‘Moenie jouself daaroor bekommer nie. Dis net vir my soort bedoel. Maar –’
‘n Gil sny deur die lug. Dit klink soos die prinses.
Blaze swets en volg Daphne by die vertrek uit.
Die lewendige steen vat hulle direk na die tuine toe.
Koperharige Feë veg met vier Beskermers wat die Prinses beskerm. Brandon lê op die grond. Hopelik is hy net bewusteloos.
‘Is hierdie jou idee van onderhandeling?’ vra Daphne vir Blaze.
‘Nee! Hulle is swernote van my Hof wat steeds in die ou maniere glo.’
Daphne glo haar.
Saam vat hulle die mag rebelle aan. Om te veg was nog altyd tweede natuur vir Daphne. Dis een van die redes hoekom sy gekies was om ‘n Beskermer te wees. Sy is verbaas dat die Draak Nimf kan byhou, siende dat sy ‘n prinses is.
Sy het altyd gedink dat prinsesse pieperige klein goedjies is met drakemaniere: sy’t Calliope gesien as ‘n draak wat al die clichés pas toe sy gehoor het van die verlowing. Maar nou moet sy herdink. Blaze is ‘n vegter en Calliope is so gaaf soos sy mooi is.
Al die rebelle word eindelik gevangene geneem sonder dat Daphne eens uitasem is.
‘Jy’t goed geveg. Jy sal ‘n goeie Beskermer maak,’ sê sy vir Blaze terwyl die ander Beskermers die gevangenes weg vat.
‘Dankie.’ Sy lyk asof sy nog nooit so ‘n kompliment ontvang het nie.
‘Regtig?’ vra die kommandant deur die verstand-skakel. ‘Moet jy altyd baklei?’
Daphne maak asof sy haar nie kan hoor nie.
‘Prinses Calliope, laat my toe om jou na die Heler te vergesel,’ sê die kommandant hardop.
‘Maar Brandon – ’ Die prinses bly stil toe die Hertog kreun.
Blaze hurk langs hom en kyk na sy kop. ‘Ek sal hom versorg.’
‘Dankie. O, hy het ingestem,’ sê die prinses soos die kommandant haar weglei.
‘Sal hy regtig?’ vra Daphne toe hulle alleen is.
‘Ja.’
Brandon spring op, duidelik verward.
‘Ontspan. Hulle is weg. Almal is veilig,’ sê Daphne.
Hy frons soos hy van Daphne na Blaze kyk.
‘Blaze kan ons met ons ander probleem help,’ sê sy saggies.
‘As julle my hande sal vashou,’ gebied die Draak Nimf.
‘Nee,’ sê Brandon.
‘Hoekom?’ vra Daphne verward.
‘Ek wil jou nie verloor nie,’ antwoord hy terwyl hy in haar oë kyk.
‘Jy sal nie,’ sê Blaze. ‘Alles wat jy voel is eg. Ek gaan net die vloek verwyder. Die Koors,’ verduidelik sy.
Hulle vat Blaze se hande. Hulle verstrengel hul vingers toe hulle mekaar se ander hand vat.
‘Moenie dit weerstaan nie. Laat die toorkrag oor jou spoel,’ sê die Draak Nimf, haar oë nie meer ‘n knetterende vuur nie, maar ‘n inferno.
Dit voel asof iets uit Daphne se wese getrek word; beelde van Brandon flikker in die vuur voordat dit verdwyn.
Toe is dit verby.
‘Klaar,’ sê Blaze en los Daphne se hand.
‘Dankie.’
‘Seker. Ek gaan nou. Onthou om jul offerandes te stuur.’
‘Jy gaan alleen?’ vra Daphne sonder om iets oor die ander een se misie te sê.
‘Ja.’
‘Sterkte.’
‘Jy ook.’
‘Waaroor was dit?’ vra Brandon terwyl die Oniks Labirint vir Blaze heel insluk.
‘Geheime.’
‘En ons?’
‘Ons is vry van die Koors.’
‘En ek is steeds verloof.’
Daphne se glimlag verdwyn. Sy kyk af na hul verstrengelde vingers.
‘Ek is lief vir jou.’
Sy kyk op. Brandon se oë is vol sterk emosie.
‘Verstaan jy?’
Daphne knik.
Hy los haar hand en loop weg.
Daphne snak na asem wat sy nie eens geweet het sy nodig het nie.
Hy is lief vir haar.
Maar die Hof kom eerste. Plig, eer en hul Hof kom eerste.
Blaze het hulle dalk van die Koors gered, maar die ware prys vir vrede moet nog betaal word: Daphne moet vir Brandon opgee.
Binne huil sy en verlaat die tuin om by die ander Beskermers aan te sluit. Die Draak het sy prys gevat.
##
Hierdie is die vierde verhaal in my reeks “Verhale van die Oniks Labirint”. Soos altyd gaan dit oor die Feë en hulle wêreld binne ons eie. Kommentaar is altyd welkom.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.