
Soos swaar klippe.
Lien Meiring het haar arms op die plaashek geplaas, haar blik oor die uitgestrekte koringlande laat gly. Die laatmiddagson het die koring soos goud laat skyn, maar die glans het nie tot haar gemoed deurgedring nie. Gewoonlik sou die geur van vars grond en die warm sonlig haar siel streel, maar vandag was anders. Die herinnering aan Jan se harde woorde het soos ’n klip in haar maag bly lê.
Jan, die eienaar van Koningslaagte, het vroeër die dag sy ontevredenheid teenoor haar uitgebulder. Sy kobaltblou oë het soos dolke op haar gerus, sy stem was fel en skerp, net soos sy oordeel oor haar werk.
“Hoe het jy dit verkeerd gekry?!” het hy geskree, sy stem het die stilte van die plaas deurboor. “Jy was verantwoordelik vir die bemesting, Lien! Ek gaan my hele oes verloor! Hoe gaan ek die skade herstel?”
Sy het stilgebly, te verslae om te antwoord. Hoe kon sy iets verkeerd gedoen het? Sy het haar hart en siel in daardie werk gesit, elke instruksie met sorg gevolg. Maar tog het die waarheid haar soos ’n rowwe wind platgevee.
Nou het haar vingers styf om die plaashek geklem, die wit kneukels het haar gemoed weerspieël; spanning, onsekerheid, en ’n onmeetbare skuldgevoel. Die wêreld om haar het voortgegaan soos altyd, maar sy het gevoel asof sy vasgevang was in ’n storm van selfverwyt.
Terwyl die son stadig oor die horison weggesak het, het sy moedeloos aan haar terugkeer na die stad gedink. Die laaste paar weke op die plaas was bedoel om praktiese ervaring op te doen, om haar akademiese kennis te toets, maar nou was dit niks meer as ’n mislukking nie.
Terug by die universiteit het sy probeer om weer in haar studies in te val, maar die herinnering aan Jan se harde woorde het haar haar gedagtes telkens teruggejaag na die plaas, na daardie verskriklike gevoel van onmag.
In die kafeteria het haar vriendin Annie haar een middag dopgehou. “Lien, jy lyk verskriklik af, wat gaan aan?” het sy gesê, haar stem vol besorgdheid.
Lien het skaars aan haar kos geraak, haar gedagtes was duidelik heeltemal elders. Sy het opgekyk, haar oë vol somber dieptes.
“Ek het gefaal, Annie,” het sy gesug. “Ek weet nie waar ek verkeerd gegaan het nie, maar die oes… dit was ’n ramp! Ek het die verantwoordelikheid daarvan aanvaar en nou, nou… alles is verlore.”
Annie het haar hand op Lien se arm gesit. “Jy kan mos nie vir alles blameer word nie, Lien. Soms loop dinge net verkeerd, selfs al het jy alles reg gedoen.”
Die woorde wat veronderstel was om troos te bring, maar dit was soos ’n sagte bries teen ’n storm. Die skuldgevoelens het soos ’n growwe mantel aan haar bly kleef. Hoe kon sy haarself maar nie net vergewe nie?
Dae het verbygegaan, maar die gewig van daardie mislukking het haar bly druk. Een middag, terwyl sy in die universiteitsbiblioteek gesit en studeer het, het haar selfoon onverwags gelui. Sy het gekyk na die skerm, en het haar asem skerp ingetrek toe sy die naam ‘Jan’ op die skerm sien verskyn het.
Met ’n huiwering het sy geantwoord.
“Lien, ek wil nie pla nie, maar ek is in die stad en moet dringend met jou praat. Kan ons dalk iewers vir koffie ontmoet?” Sy kon sy spanning deur die telefoon hoor.
Met ’n kloppende hart het sy ingestem. Hulle het later die middag by ’n klein kafee ontmoet. Lien het reeds by die venster gesit, haar oë het afgetrokke na die besige straat buite gestaar. Toe Jan uiteindelik daar opdaag, kon sy die ongemak op sy gesig sien. Sy het haarself voorberei vir nog kritiek, nog skuld.
“Lien,” het hy begin, sy stem was sagter as voorheen, amper huiwerig. “Ek is hier omdat ek moet bieg. Na ons laaste gesprek het ek die vervaardiger van die bemesting gekontak. Daar was ’n fout in die samestelling. Dit was nie jou skuld nie.”
Sy het hom stom aangekyk, asof sy nie kon begryp wat hy net gesê het nie. “Wat bedoel jy?” het sy sag gevra.
Jan het ’n verslag oor die tafel na haar toe geskuif. “Hier is die bewys. Die mengsel wat ons gebruik het, was verkeerd geformuleer. Jy het niks verkeerd gedoen nie, Lien. Ek is jammer dat ek jou die skuld gegee het.”
Lien het na die dokument gestaar, die woorde het stadig ingesink. Skielik het die gewig van skuld wat sy so lank gedra het, begin verdwyn. Dit was nie haar skuld nie. Dit was nooit haar skuld nie. Haar oë het vir ’n oomblik gesluit, en toe sy dit weer oopmaak, het sy vir Jan gekyk, ’n mengsel van verligting en emosie in haar oë.
“Ek het myself so blameer,” het sy fluisterend gesê. “Ek het gedink ek het alles verwoes.”
Jan het sag geglimlag. “Jy het niks verkeerd gedoen nie. Vergewe my, Lien? Ek het jou ’n vreeslike onreg aangedoen.”
In daardie oomblik het sy die waarheid aanvaar, en die swaar las van onregverdige skuld het stadig van haar skouers af gegly.
Hoe maklik maak ons soms ons eie harte swaar met laste wat nie ons s’n is nie, het Lien gedink. Jan se woorde het soos klippe op die grond geval, maar ek het hulle opgetel en in my binneste begin saam dra. Miskien is dit wat ons doen, keer op keer – ons dra skuld wat nooit aan ons behoort het nie, oortuig dat dinge anders sou wees as ons maar net anders opgetree het. Maar die lewe is nie altyd binne ons eie beheer nie en sommige dinge moet eenvoudig net laat gaan word.
Lien het besef dat sommige laste eenvoudig neergesit moet word.
©MarleneErasmus
19/08/2024
(950 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek