AASVOëL-RESTAURANT (Brons)
AASVOëL-RESTAURANT
Ons vriendskap het uitgebloei
soos ‘n keel-af skaap
in die droë Karoo
en wantroue lê doer eenkant
soos ‘n brandsiek hond
sonder hoop;
die gif van jou woorde
het my aan die hart gebyt
en nou lek ek my wonde
soos ‘n afvlerk hoender
wat probeer nesskrop
in die mishoop
van teleurstelling –
en ek braak gal by myself
oor jou gebrek aan omgee;
my vertroue in ons vriendskap
word stuk-stuk uitmekaar geskeur
in die aasvoël-restaurant van ontnugtering
die karkas van ons diep gesprekke
tot op die been gevreet
deur die laggende hiënas van verraad
en die geraamte van ons vriendskap
vir altyd begrawe
in die genadelose duine van die Namib
en ek vind veel later rus
by die oase van ‘n skoon begin
sonder jou
ANNE-MARIE KOTZEE
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek