Sorry nê
“Jy staan nou op jou knieë en smeek vir ʼn pakslae”. As jy nie hierdie woorde gehoor het as kind nie, was jy óf stroopsoet óf jou ouers het nie Afrikaans gepraat nie óf jy is na 1994 gebore toe mense, diere en kinders almal regte gekry het.
Ek het nie baie hierdie woorde gehoor nie, om die eenvoudige rede – in my familie pas ons gesegdes aan, maak ons ons eie op of gebruik die wat ons êrens hoor. So kom ‘jy krap nou met ʼn stok waar dit nie jeuk nie’ êrens oor ons pad, moet my nie vra waar, wanneer en hoe nie. Indien ons dit by iemand geleen het en ek nou nie na behore krediet gee waar dit hoort nie, vra ek nederig verskoning, maar ek weet eerlikwaar nie wie of wat hiermee opgekom nie.
Ewenwel, as my ma of pa vir my gesê het ek krap nou met ʼn stok waar dit nie jeuk nie, het ek geweet … soos ʼn rugbyspeler weet as die skeidsregter sê “final warning”… as jy dit nou weer doen pluk hy ʼn kaart uit die sak … ek het geweet … as ek dit nou weer doen pluk ma die skoen of pa die belt af of die houtlepel uit die laai…
In my kinderdae het niemand ʼn reg gehad nie, nie op vakansie of bonus of werk of kos of enige iets nie, en kinders se ore is oopgemaak so by die agterwêrelde langs. Dit is seker daaroor dat my boetie en my sussie en ek in die tronk sit vir verkragting. Ja, toemaar, die enigste ding wat ek verkrag is die waarheid. Ons is goeie landsburgers want niemand van ons gaan ligtelik met die landswette om nie, ons gatte het gebrand as ons enige reëls oortree het. Ons het respek vir gesag geleer. Jammer aan al die kenners en welbelese mense, ons het toe nie getraumatiseerde, wanaangepaste, uitvaagsels van die samelewing geword omdat ons so af en dan gefoeter is nie, net die teenoorgestelde. Maar wag, laat ek ophou krap met ʼn stok waar dit nie jeuk nie, lyfstraf is ʼn sensitiewe saak.
My vriend sê eendag vir my “Daai ou is so onnosel as jy vir hom ʼn klip gooi bring hy vir jou ʼn stok” en net daar word dit ook een van ons familie se optel-sê-goed. Laat ons nou nie hare kloof oor skinder, slegsê, beledig of regte skendings nie, party mense is regtig nie baie slim nie. Is dit dan ook nie ironies dat dit juis die minder intelligente outjies onder ons is wat juis altyd met ʼn stok krap waar dit nie jeuk nie? Hulle krap met daai stok wat hulle opgetel het toe hulle die klip wat jy in die bos gegooi het gaan soek het.. en kán hulle krap!
Soos daai siellose, siek ding wat, toe daar ʼn groot tragedie by ʼn skool plaasvind, kinders dood, beseer, verlam en ʼn gemeenskap in skok en rou is, vorendag kom met “Dis goed dat die blanke kinders vrek, hulle ouers moet ook vrek en hulle honde en hulle katte ook.” Probeer hy nie eers die klip soek nie, gryp hy sy ou krom, stomp gekrapte stok en karring daar waar dit nog nooit gejeuk het of ooit sal jeuk nie … vir wat?
En daardie entiteit wat, toe iemand ʼn klip in die bos gooi op Twitter oor die Engelse wat nog nooit enige restitusie vir die Afrikaners aangebied het na die verskroeide-aarde en konsentrasiekampe traumas nie, reageer met: “Wat is jy? ʼn Fransman, Duitser, Hollander? Jy het geen identiteit nie. Jy praat ʼn kombuistaal. Jy is ʼn boer en mens kry oral in die wêreld boere – jy is niks. Jy het ons land kom steel en ons gaan dit terugvat sonder restitusie.” In watter bos het hy na die klip gaan soek? Daarom dat hy toe nie die klip kon kry nie en sommer ʼn ou stok optel en kom krap op ʼn heel ander plek as waar dit jeuk … vir wat?
Miskien moet ek net verduidelik oor die ‘vir wat’ ook. Ek is grootgeworre toe Afrikaans nog Afrikaans was en Engels die taal van die vyand. As jy kon sê “Yes” en “No” en “Bogger jou” kon jy genoeg Engels praat. Ag ja, toe verander alles. Almal kry regte, Engels word die amptelike lands- en besigheidstaal en nou praat die millenniums, dis nou wat hulle my kinders se geslag noem, so brabbel Fanagalo Afrikaans. ‘Hoekom’ is nou ‘vir wat’ en ons maak dit toe ook maar deel van ons familie-dialek, net sodat ons mekaar beter kan verstaan.
Om terug te kom na mense wat met stokke krap. Daar is ʼn groepie wat my krap met ʼn stok waar ek glad nie jeuk nie. Diegene wat hulself uitgee en voorgee as kampvegters vir die Afrikaner, sy volk en taal en kultuur. Mens en as hulle begin met ‘hierdie grond wat deurdrenk is van boerebloed’ en ‘die boerenasie moet die wapen opneem’ en sulke twak (wat al drie honderd keer gepruim is) karring hulle behoorlik ongemanierd met ʼn jukskei waar dit vanmelewe se tyd laas gejeuk het. Ek wens hulle wil hulle perde opsaal, sanna vat en met hulle kakieklere in hulle mmmmm … maai in ry en sommer daar afsaal en daar bly. Vir tien minute in die kollig maak hulle volk en taal en geskiedenis goedkoop… vir wat? Ag ja, en dan praat ek nie van die skare wat met die driekleur in die hand hierdie mense napraat en voor hulle hardekool takke op die pad gooi sodat die redders van die volk met hulle perde die poorte kan inry nie… vir wat? Asof daar nie genoeg varke, met ʼn hoofletter V, in die land is nie. Varke? Nee wag ek moet verduidelik …
My pa het desjare opgekom met “jy’s soos ʼn vark, loop net heeldag en kak soek” – die nuwer weergawe vervang vark met miskruier. Ja ek weet dis kras, sorry nê? Maar soms moet mens ʼn shuffel a bloody spade noem, dis al taal wat sommiges verstaan soos die varke (en miskruiers). Hulle hele bestaan wentel daarom om jy-weet-wat te soek, en hulle sal dit doen deur alles wat beweeg te krap met hulle stokke waar dit nie jeuk nie … dit wat nie beweeg nie, skop hulle tot dit beweeg … en krap dit ook. Jy kan probeer redelik met hulle wees, mooi praat, redeneer, maar om de dood krap wil hulle krap en jy-weet-wat wil hulle soek.
Ek weet ek kan ook nou beskuldig word van ‘n gekrap met stokke waar dit nie jeuk nie, maar hierdie stokke was nie eens op ʼn tyd klippe in die bos nie. Nee, hierdie is stokke wat ek uit die hande geruk het van ander wat dit gebruik om te slaan … en nie op die agterstewe om my maniere te leer nie …. nee oor die hart waar die letsels regtig diep lê en die seer sweer en borrel en kook … sodat ek ook ʼn vark wil wees en wil stokke soek om mee terug te slaan … nee, dit is nie ʼn klip in die bos nie …
Maar ek is nie ʼn vark nie, daarvoor het my ma en pa gesorg, hulle het my nie met ʼn stok gekrap nie, hulle het hom gebruik om my maniere te leer … maak die boude warm dan gaan die ore en verstand oop … en daarom tel ek nie stokke vir klippe op nie.
Maar ongelukkig was almal nie so gelukkig om sulke goeie ouers soos ek te hê nie …. en daarom het ek besluit … ek gaan daai stokke by daai varke (en miskruiers) afvat en hulle, die stokke, een vir bleddie een in die reënboog gooi sodat dit tussen al daai kleure deur rimpels maak en daai skeidings afbreek wat die kleure so kleur-by-kleur van mekaar afhou. …. vir wat? Ek hoop dat daar ‘n sal dag aanbreek dat elke vark (en miskruier ) wat nie die verskil tussen ʼn klip en ʼn stok ken nie…. nie meer jy-weet-wat gaan kry om in te krap nie, al soek hulle hoe hard en lank… en daai dag sal hy of sy opgee en hul goed vat en padgee uit ons reënboog uit…. want ons wat verstand het wil hulle nie hier hê nie … sorry nê?
PS. Ek hoor daar is ‘n belangrike ou in ʼn ander land wat lief is om klippe in die bos te gooi en dan sommer self eerder ‘n stok terug te bring …. blykbaar nie die skerpste potlood in die boksie nie …. en dan krap hy onophoudelik my sy stok oral waar dit nie jeuk nie. Sy nuutste krappery is oor ʼn muur of iets … miskien sal die varke (en miskruiers) in ons reënboog gelukkiger daar by hom wees … waar mure gebou word om seker te maak die kleure van die reënboog bly elkeen op sy eie … vasgekeer tussen hoë mure …. onnosel en oningelig for ever en ever …. eish dis nou sorry nê?
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
Lekker gelees!!