Goeiemôre met ‘n donkieprentjie
Goeiedaggie met ‘n donkieprentjie
Na aanleiding van my vorige skrewe, ‘Dis my Ding’, het ek dit goed gedink om ‘n opvolg op die tema te skryf. Ek sit vanoggend op die stoep, dis Woensdag, vullisdag, tuindiensdag en Klein Saterdag. Die krag is af.
Vanoggend vroeg het een gevra hoekom die krag af is. Verskeie het ‘goeiemôre’ gesê met prentjies van donkies met strooihoedjies of apies in weggooinappies. Stilweg het ek gewonder wat die diertjie met die môre te doen het. Dis seker maar daai mense se ding. Die krag is af, meneer, want jy woon in Suid Afrika, word flippin wakker! Ek vloek nie so vroeg in die oggend nie, maar rêrig! Die nodige ‘amen’ en ‘like-‘n-share’ was ook daar. Slaap die donnerse mense dan nooit?
Ja-nee, ons almal het ons ding. My honde het ‘n ding oor bene, die VSA het hul eie blondekuif-ding (en ook nog baie ander dinge), die grassnyer se ding is vol en Suid Afrika se ding is donker.
Ek wou nog lees oor Eskom se plan om voor die einde van die week verligting sal bring, maar toe is ons kragloos. My leeslus is geblus deur eksterne faktore, of dan die afwesigheid van eksterne faktore. Dit het gelyk na ‘n goeie grap, voor Vrydag, ek het amper gelag.
Ek het min opinies maar die wat ek wel het is myne. Ek hou hulle vir myself. Mense met opinies steek gewoonlik hul neuse in ander mense se opinies of hul opinies in ander mense se neuse. Ek steek nie maklik nie, my opinie is privaat. As gevolg hiervan vind ek dit frustrerend-amusant en absoluut irriterend hoe party hul opinies sosiaal bekend maak. Dis nie die bekendmaking wat my pla nie, maar die aanname dat ek saam stem. Hoe durf hulle my intelligensie en persoonlike opinie so onderskat? In hierdie eeu van kennis en verligting, ons donker land uitgesluit, beskou ek myself as redelik ingelig. Moet asseblief nie jou opinie in my neus op druk nie ek het my eie, dankie. My neus is in elke geval nie ‘n plek vir opinies nie. Ja, ja, goeiemôre aan elke donkie en dolfyntjie ook.
Die tuindienste is amper klaar. Dit gaan seker nou-nou weer reën. Die vars geur van gesnyde gras meng met ‘n lawaaierige blaasmasjien. Ek wonder wat die vent op sy CV inskryf, blaasmasjienoperateur of miskien lugverplasingsapparaattegnikus. Dit hang af van sy opinie van homself, maar dis sy eie ding.
Ek ruik die gras, geen opinies daar nie, en ek dink aan die oningeligde. Ek wonder oor diegene wat in plekke bly waar daar nie elektrisiteit is nie. Ek praat van landelike bevolking nie mense in stede met beurtkrag nie. Daar is wel mense in stede wat oningelig is en verligting nodig het, soos diegene wat vra hoekom die krag af is. Ek praat nie van hulle nie. Daar’s nie pille vir onnoselheid nie, maar ek dwaal af.
Wat van die oningeligde mense wat gewoond is aan lampe en kerse? Hulle wat vuur maak om water te kook en gaan slaap as die son sak, soos hoenders. Ek wonder hoe hulle voel oor sekere dinge. Hulle het sekerlik nie opinies oor Trump en Eskom of selfs beurtkrag nie. Langs die kookvuur of onder die kombers, as daar ‘n kombers is, is daar nie sterk gevoelens oor ‘lekker doeks’ met ‘n diertjieprentjie daarby nie. In die oggend as die son op ‘n Woensdag opkom word hul vullis nie verwyder nie en hul tuin word nie gediens nie. Hul opinies is geskoei volgens hul omstandighede. Al ons opinies word geskoei volgens ons omstandighede. My opinies is anders want my omstandighede is anders, maar ek wonder steeds.
Ons sit maar almal in ‘n mindere of ‘n meerdere mate in die donker. Ons is almal in ‘n mate oningelig, of jy nou krag het of nie. Ek wonder net of ons onsself as ‘n eenheid of as individue gaan laat hoor. Gaan ons hierdie ding ons ding maak of gaan ons net terugsit en windmasjienoperateurs wees?
My opinie is dat ons elkeen ons merk moet maak. ‘n Merk gebasseer op jou ingeligdheid, of afwesigheid daarvan, maar ‘n beslisde merk. Ek het meer opinies oor die aangeleentheid maar ek hou hulle liefs vir myself. Ek sê maar net en dis my opinie, my ding, maar ek wil dit in niemand se neus opdruk nie. Liewer stilbly en my ding doen. Ek wens julle ‘n prettige daggie met ‘n (donker) donkieprentjie toe.
Grootvissie
Februarie 2019
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.