Spore
“Tussen treine.
Tussen stasies.
Lê daar basies, net die leë spore”
Ai daardie pragtige lirieke van Richard van der Westhuizen laat my gedagtes wye draaie loop.
Treine het oor die jare diep spore ook in die Afrikanerkultuur getrap. Sedert die vroegste jare al maak ons liedjies oor treine – Die trein na Pretoria, Die trein na Matjiesfontein, Pennies op die spoor, Tussen treine, dis maar net dÍe waaraan ek onmiddellik kan dink.
Watter Suidwester wat in die sestiger- en sewentigerjare in die Kaap skoolgegaan het, het dan nie ook een of ander tyd treingery nie.
Keetmanshoop se stasie is so deel van herinneringe uit my kinderdae soos die plek waar ek grootgeword het. Die wit gebou met bankies op die breë stoep waar ons ure om vir treine moes sit en wag wat altyddeur maar laat was. Jy vra nie hoe laat kom die trein nie, jy vra hoe laat kom die sesuur-trein. Want die afstande was vêr en die wêreld tussenin kaal en verlate met hulp wat gronpad langs moes kom as ‘n trein onklaar sou raak.
Die reis vanaf Keetmanshoop tot in Stellenbosch het twee dae en twee nagte geduur en heelwat langer vir my maats wat van Swakopmund en Windhoek af moes aankom. Vir my was die reis al ‘n dag of twee korter.
Daar moes padkos gepak word vir die hele tyd, of ten minste vir die grootste deel van die tyd sodat die sakgeld bietjie gerek kon word en alles darem nie op etes spandeer word nie. Piekniekkos soos vleisbolletjies, vars brood met plaasbotter, kaas, konfyt en fyn biltong, vye van die boom af en ‘n lemoen of twee in die winter. En dan was daar diegene wat sommer ‘n heel skaapkop of gekookte skaapnek in die kosmandjie gehad het! En het ons dan gesmul.
Tot dit op is dan kan ons met die suinige omdraai van sente in die eetwa gaan eet wanneer die kelner die etensuur met sy tingeling aankondig, al met die gang af en weer terug. Swaar silwer eetgerei en wit porselein, egte afrikanerkos in styl – sop, gebraaide skaap of bees met groente en dan die grootste lekkerte, gebakte poeding met vla. Soos die Suid-Afrikaanse Spoorweë in daardie jare kón, oorgeërf uit die Engelse kolonialistiese era.
Dieselfde met die slaapgoed. Hulle kom maak jou bank vir jou gereed vir die nag met gestyfde spierwit lakens en komberse, mits jy daarvoor kon betaal. Ons het meesal maar sommer reggekom met ‘n slaapsak en dan moes die klipharde groen “kameeldrol” maar doen as kopkussing. Maar partykeer in die winter het ons maar oog toegeknyp en betaal vir die beddegoed want dit word koud op daai trein snags oor die Suidwes- en Karoovlaktes.
En as die kelner vroegmore met sy tingeling en koffie die gang afkom en met sy sleutel teen die deur klop, dan oorweeg jy soms om maar net kop toe te trek en verder te slaap want daar word maar laat snags gekuier, maar daai was gratis en jy het maar gevat. Lekker moerkoffie soos in die ou tyd nog getrek met ‘n koffiesak in die geel enamelketel oor die stoof.
Die kondukteur was ‘n streng oom – geen laat gekuiery tussen seuns en meisies nie. En daar was nie kans vir skelmstreke nie want hy het ‘n sleutel van jou kompartementdeur gehad en as hy onraad vermoed, word die deur sonder omhaal oopgesluit. Ek vermoed die oom het self nie baie slaap in die nag gekry nie want hy moes maar seker op diens bly om onheilighede af te weer. Hy was immers verantwoordelik vir ‘n swetterjoel hoogs hormoonbelaaide tieners se kuisheid en soberheid in die afwesigheid van hulle ouers.
Maar vir my was die heel mooiste die somersnagte as ons in ‘n donker kompartement sit om oor die maanverligte vlaktes te staar of na die helder sterre te kyk wat met donkermaan soos duisende liggies in die hemel skitter. En dan soek ons na spookligte in die donker, wat ons onself wysgemaak het regtig bestaan – heel waarskynlik maar ‘n motor wat op ‘n eensame grondpad iewers heen oppad was.
Ure lank het jy in jou bed gelê en luister na die reelmatige klopslag van die treinwiele op die spoor tot die eentonigheid daarvan jou uiteindelik aan die slaap sus, net om weer wakker te word as die trein fluit om sy aankoms op die volgende stasie aan te kondig.
Daardie jare was daar nog van stoomlokomotiewe gebruik gemaak, en hoewel sy besonderse fluit en die uitblaas van die stoom vandag nog in my kop vassteek, het die swart roet alles bemors en moes ons die vensters toehou, al was dit ook hoe verstikkend warm. Dan was ons altyd bly as Suidwes se diesel lokomotief uiteindelik kon oorneem op die pad huis toe en die lug skoon en suiwer by die oop venster kon inkom.
Maar vandag het die romantiek van treinry weggeval met ons gejaagde leefwyse. Namibiese kinders gaan selde nog in die Kaap skool toe, en indien wel gaan hulle met die vliegtuig of die bus. Ou spoorwegstasietjies het in onbruik en vervalle geraak want selfs die goederetreine loop minder gereeld. Goedere word liefs met swaar vragmotors per pad gestuur om vinniger hulle bestemming te bereik. Historiese ou spoorwegstasies is vandag óf luukse hotelle óf museums, ás hulle behoue gebly het en nie met verloop van tyd tot murasies verval het nie. En daarmee saam is ‘n nog era van my onthoutyd afgesluit en verewig deel van die verlede.
En die wete kom lê met ‘n seer gevoel in my gemoed oor die lewe wat onder ons uitloop soos die tyd week na week met verbysterende spoed verbysnel. Dan besef ek, mens moet doen wat jy jouself ten doel gestel het solank as wat jy nog kan, want jy gaan nie vir altyd die kans hê nie.
En ek weet met ‘n seker weet, dat ek nog weer moet treinry net om daai onthou weer uit te haal en soos ‘n glas duur vonkelwyn op my tong suinig slukkie vir slukkie te proe.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.