Steeds kaalvoet, swanger en minderwaardig
(Woordtelling : 997)
Meestal hou ek nie my asem op wanneer politici praat nie, want gewoonlik moet jy eers hul woorde gaan ontleed en ten minste drie maal vir die waarheid toets voor jy dit kan glo, maar toe President Ramaphosa sê dat “ʼn vrou se plek nie net in die huis is nie”, het my ore kierts regop in afwagting gaan staan!
Dit was een mooi Sondagoggend toe ek na ʼn onderhoud met ʼn vroulike predikant oor RSG luister. Sy het reguit gesê dat sy baie minder as haar manlike eweknieë verdien, al moet sy buiten haar pligte as predikant, ook die pligte nakom wat gewoonlik op die predikant se eggenoot, se skouers val. Sonder ekstra vergoeding natuurlik. My bloeddruk het sommer met ʼn hele paar grade gestyg, want ek het geen tyd vir nonsens nie. Wat goed is vir die een, is goed vir die ander, maak nie saak wat jou kleur, geur, lengte of geslag is nie. Dieselfde ding gebeur ook in die onderwys, en wie weet waar nog oral.
En natuurlik het Ano haar mond daaroor oopgemaak en dit het hul huwelik tot op die rand van ʼn bed-en-tafel skeiding gebring. Tot haar skok het sy agtergekom dat Hubby in die stilligheid ʼn baie seksistiese wese is. Hy kan dit natuurlik vanuit die Bybel staaf dat die man die heerser oor die vrou is, en daarom is die man belangriker. Die vrou daarenteen, is minderwaardig, nie so ʼn goeie leier nie, en hoort eintlik kaalvoet, swanger en in die kombuis. Dit is net baie jammer dat hy hier nie die Groot Prys gewen het nie, want Ano mag miskien van kaalvoet hou, maar die kombuis is niks meer as ʼn onmisbare ergernis in ʼn huis nie, en sy ʼn baie duidelike strepie getrek oor die hoeveelheid swangerskappe wat daai lyf gewillig sou verduur.
Die verskoning waarom mans meer as hul vroulike eweknie behoort te verdien, is omdat sy ʼn vrou is. Dit is vernederend om gesien te word as “minder as”, bloot omdat jy ʼn baarmoeder het en jou babas kan borsvoed. En ag ja, vroue se IK is natuurlik nie so hoog soos syne nie. Nog ʼn lamlendige verskoning is dat vroue nie die broodwinner van die huishouding is nie, ongeag die feit dat sowat 40% van alle huwelike in die skeihof opeindig en talle huishoudings uit net ʼn ma en kroos bestaan.
Die ewig-stygende lewenskoste veroorsaak dat baie min vroue nog die voorreg om “net” tuis te bly en die kinders te versorg. Dit opsigself is dit reeds ʼn voltydse werk – waarvoor sy nie noodwendig vergoeding ontvang nie. Dikwels is daardie sakgeldjie wat in haar rigting gestoot word, niks minder as ʼn belediging nie, siende dat sy nie net die voltydse versorger is nie, maar ook die rol van verpleegster, dieetkundige, finansiële beplanner, aktiwiteit koördineerder, opvoedkundige, sielkundige, trooster, verhoudings terapeut, spirituele leier, kleremaker, en nog vele ander rolle, moet vertolk. In kort, jy kan nie ʼn tuisbly ma met ʼn salaris vergoed nie. In die meeste gevalle word die vrou gedwing om buite die huis te gaan werk net sodat die gesin darem kop bo water kan hou.
Vrouens is wel van nature meer geneig om ondersteunende beroepe soos verpligting en onderrig te volg, terwyl mans meer dikwels in konstruksie, ingenieurswese en beroepsgebaseerde poste belangstel. Maar tog is daar heelwat mans wat hulself in ʼn tradisionele vroulike beroep bevind, en net soveel vrouens wat hulself in die tradisionele manlike beroepswêreld uitleef. Dit het niks met geslag te doen nie, maar veel eerder met persoonlikheid. Om van ʼn vrou met natuurlike leierseienskappe te verwag om eerder ʼn ander se toonnaels te verf, sal haar binne ure teen die mure uitdryf.
Ek wil amper vra wat het al hierdie goed nou met die prys van eiers te doen? Wanneer ʼn man en vrou dieselfde kursus by dieselfde universiteit voltooi het, dieselfde tipe pos by dieselfde firma aanvaar, is dit nie logies dat hulle ewe veel betaal moet word nie? Skynbaar nie. Al die verskonings wat hierbo genoem was, word gou uitgehaal en afgestof. Verder word vrouens word nog steeds as seksobjekte gesien. Iets wat altyd mooi te lyk, wat die huis moet skoon hou, sorg dat daar drie maal per dag lekker kos op die tafel verskyn, en almal se nukke en grille in stilte moet verduur. Dan is jy ʼn goeie vrou.
Ano is nie ʼn goeie vrou nie en meestal vol neuk. Sy het ook geen brownie-punte by die grootouers verdien toe sy daarop aangedring het dat wanneer Sus lekkergoed kry, Boet dieselfde sal ontvang nie. Sulke nonsens sou nie onder hierdie dak verduur word nie. En jy gee nie vir een ʼn kind ʼn dubbele verjaardaggeskenk omdat hy die familienaam dra nie. Dit is nie sy skuld dat sy ouers so besluit het nie, of dalk saggies daarin gedwing was nie.
Vir diegene wat dit nog nie weet nie, mans is nie klein godjies wat van kop tot tone bedien moet word nie, al wil sommiges hulself so gedra. Op die oog af lyk dit asof die jonger geslag meer geneig is om die vrou as hul eweknie te sien, en nie iemand wat minder as haar maklike eweknie moet verdien nie.
ʼn Studie in 2018 deur die Wêreld Ekonomiese Forum, het voorspel dat dit meer as 200 jaar sou neem om die gaping in verdienste te vernou. In Suid-Afrika verdien mans nagenoeg 22,7 persent meer as vroue in dieselfde permanente pos, en 39 persent meer vir dieselfde deeltydse pos. Hierdie syfers maak dit duidelik dat vroue verseker nie so gelyk geag word as wat die samelewing graag voorgee nie.
Mnr. Ramaphosa, ons almal sal almal al vergete onder die kluite lê want 200 jaar is baie lank. Wie weet hoe lank dit werklik sal neem om die geslagte gelyke regte en voorregte te gee. Wie weet hoe lank dit sal neem voor mense om ophou om teen ander te diskrimineer, net omdat hulle anders lyk, en daarom sommer ook “minder werd” is.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2023 OOP projek