Sy klee haar met die lente
die Sandveld gooi haar lentekas se deure oop
en heel die vaalte word in kleur en geur gedoop
sy dra sout op haar lippe
ek proe sout op haar wang
sy laat sewe pelikane
bo Saldanhabaai hang
sy sprei daisies aan die voete van ’n rots en krans
sy maak ’n witkruisarend teen die blou swerfdans
lila bloei viooltjies
in die sand neffens klip
en pienk kroon haar vygies
waar hul oor rante glip
sy’t ’n truitjie, ’n kousie, ’n fluweeltjie-bloubek
dis die son wat haar gousblom se kelke oopvlek
daar by Langebaan se see
voel ek die weswind waai
oor die meer by die strand
vlieg sy haar witborskraai
en vir sover my oog kan sien tot hier waar ek staan
trek sy ’n bont sarong oor lend’ en skouers aan
© Carma Shaw
28 Julie 2018
2:33
4 Kommentare
-
-

Loretta Szikra
Wow Carma dis so pragtig. Jy maak my sommer lus vir die lente! 😊
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Callie Vermeulen
Pragtig Carma - ek beleef elke kleur en tree-trap saam met jou.