
Taal se begraafplaas.
Taal se begraafplaas.
As jy vandag die aanhaling gebruik “So waar as padda manel dra” sal paar van die jonger mense jou skeef aankyk. Waar hoor jy nog mense wat praat van babbeljoentjie of waterlander? Babbeljoentjie verwys na hemelbed of bed met gordyne om. Waterlander is ’n term wat gebruik is vir ’n traan. Dit is beslis nie meer in gebruik nie, maar dit gee ’n baie mooi beeld van ’n traan wat soos ’n druppel water uit ’n fontein vloei.
Babbeljoentjie en waterlander is maar twee woorde wat nie meer bekend is in ons daaglikse taalgebruik nie. Dit laat my wonder waarom woorde uitsterf.
Dr. Donovan Lawrence, ’n senior lektor in Taalkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland het in sy studies gesê dat sommige woorde in onbruik raak omdat die referent waarna die woord verwys nie meer gebruik word nie. Nog woorde wat nie meer so bekend is nie, is beeldradio, tiekieboks en katlagter. Hierdie woorde staan bekend as argaïese woorde en staan ook bekend as verouderd as hulle ingesluit word in ’n woordeboek.
Volgens Donovan het sy oupa ook die woord ametig gebruik. Deesdae sal mense eerder die woord aamborstig gebruik as ametig. Ons grootouers het graag gepraat van meester as hulle na ’n onderwyser verwys het. Dikwels is ’n vrou wat jonger was as nig aangespreek. Die ouderwetse term vir televisie was algemeen bekend as beeldradio.
Waarom verdwyn sekere woorde?
Tegnologie is beslis een van die faktore wat hiervoor blameer kan word. Daar is ook die sosiopolitieke faktor wat ’n rol gespeel het. Toe apartheid van die toneel af verdwyn het, het sekere woorde ook verdwyn. Woorde waaraan ek kan dink, is: tuisland of dompas. Die dompas het inligting soos ’n persoon se naam, foto, vingerafdruk en werkstatus bevat. Mense van sekere rasse moet dompasse dra en was verplig om dit aan polisie te toon as hulle daarna gevra is. Dit was ’n uiters vernederende reël en het op onderdrukking gedui.
Kan uitsterwing van woorde gekeer word?
Met taalontwikkeling ontstaan daar nuwe woorde. As ouer woorde dan in onbruik verval, is dit dikwels maar net die verloop van natuurlike verandering. Hierdie verandering is dikwels ook onvermydelik.
In die meer formele teoretiese taalkunde bestudeer navorsers semantiek om te verstaan hoe woorde betekenis dra. Hulle kyk ook hoe en waar woorde in ’n taalstelsel inpas. Aan die ander kant, in die praktiese toepassing van taal, is dit die leksikograwe of woordeboekmakers wat hiermee werk.
Een so ’n woordeboekmaker is Fred Pheiffer. Fred is betrokke by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Volgens hom kan woorde nie uitsterf as hulle opgeteken is in woordeboeke nie. Indien woorde nie opgeteken is vir die nageslag nie, sterf hulle uit saam met die mense wat hulle gebruik het vir kommunikasie.
Met die vrylike gebruik van internet en digitale boeke is argaïese woorde nog vrylik beskikbaar om te gebruik.
Dit is almal van ons wat ’n verantwoordelikheid het om te verhoed dat sekere woorde nie meer gebruik word nie. Hier kan ons vir onsself vra: wat beteken ons taal vir ons?
Watter rol speel skrywers?
Skrywers kan help om woorde in gebruik te hou. Alhoewel sommige woorde in ’n graf beland het, kan hierdie woorde weer nuwe lewe kry. Daar word egter nie van skrywers verwag om taallesse aan hulle lesers te bied nie, hulle grootste doel is om akkuraat te skryf met interessante woordgebruik. Ou skrywers soos C.J. Langenhoven, Jan F.E. Cilliers en Totius tel onder die skrywers wat argaïese woorde vir die nageslag neergepen het.
Waarom roep sommige woorde nostalgie op?
Sekere woorde herinner ons aan gelukkige oomblikke en kan ’n nostalgiese gevoel opwek. Dink maar aan jou kinderdae, spesiale geleenthede of tydperke in jou lewe.
Ons onthou dikwels baie selektief as ons aan ons verlede dink. Elke mens hunker op ’n stadium na die goeie ou tyd.
Laat ons almal saam daarna streef om ons mooi, ou taal bewaar.
©MarleneErasmus
18/05/2024
(646 woorde)
Bronne:
www.viva-afrikaans.org
www.uj.ac.za/members/dr-donovan-lawrence/
www.af.wikipedia.org/wiki/Taal
https://www.litnet.co.za/waar-le-die-uitklophou-vir-afrikaans/
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Mei 2024 - OOP projek