Uit stof (Silwer)
die vergete reste van stof en gas
wat geduldig deur die tydloosheid dryf
baar kolkend ʼn nuutskepping uit wat was:
ʼn ster en proto-planetêre skyf
waar rotse tot stand kom en bots en smelt
weerloos teenoor die gewelf se geweld
op die skepping se slagveld staan een bol
triomfantlik in voetvastheid en vog
gereed om eensaam vol lewe te tol
en uiteindelik die mensdom te wrog
wat wroeg, wat opbou en afbreek en dig
teen die kosmos se skaal; onbenullig
© Cobus Kruger, 2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir April 2025 – AARDE projek