Jongste aktiwiteit:

Uitkoms – Silwer

Uitkoms – Silwer

 

Droomverlore gly my skraal hand oor die sysagte trourok wat teen my hangkas hang. Mamma het geen detail en moeite ontsien om my droomrok te maak nie.

 

Drie maande gelede het ek en Nikolai, my verloofde van amper twee jaar, op ons huweliksdatum besluit; 21 April 2022. Dis op my geboortedag, oor vyf weke van nou af. Mamushka het dadelik aan die werk gespring met hierdie droomrok nadat ek, een aand na ete, vir haar uitknipsels daarvan gewys het. Mamushka, my arme, arme mamma en Papochka … nou albei oorlede. Is dit maar drie dae gelede wat ons die boodskap ontvang het dat hul voertuig deur ‘n mortier getref is? Die verdomde oorlog. Chyort! Verdomp! Alles in my ruk in opstand teen die sinneloosheid hiervan.

 

“Katja! Het jy klaar gepak? Kom! Ivor is haastig!” bring Kezia se stem my terug na die hede. Ek gryp die trourok en rol dit in ‘n vinnige beweging op om saam met die laaste kledingstuk in my rugsak te druk. “Ek kom!” antwoord ek my suster.

 

Buite is die lug grou en my grootword dorpie, Vynnytsia, is skaars herkenbaar. Dit word reeds vir ‘n week lank onophoudelik gebombardeer. Aanvanklik het ek my verset teen my suster en haar vriend se plan om te vlug via Ternopil na Lviv, vanwaar ons te voet oor die grens sal gaan na my tante in Slowakye. Nikolai se besluit om by die weermag aan te sluit het egter die deurslag gegee. Ek het eenvoudig nie kans gesien om alleen in my ouerhuis, tussen die puin, agter te bly nie.

 

Ivor se Lada Niva is oorlaai. Daar is reeds nog twee van sy vriende wat angstig sit en wag dat ons moet vertrek. My rugsak kry ‘n plek op die dakrak en Ivor spaar nie die rewolusies met ons wegtrek nie. Die trane glip stil oor my wange wanneer ons verby Nikolai se woonstel ry … Sal ek hom ooit weer sien?

 

Na ‘n uitmergelende rit, 128 kilometer, vier ure van uitswaai vir kraters en voertuigwrakke, bereik ons Ternopil. Hier lyk dit niks beter as in ons tuisdorp nie. Die geboue is onherkenbare ruïnes en ‘n doodsreuk hang swaar oor die eens mooi ou dorp.

 

Ineens is daar ‘n oorverdowende geskal van sirenes. Dit beteken net een ding. Die Russe loots ‘n lugaanval! Ivor se Lada Niva word tot die uiterste beproef. Die volgende oomblik suis my ore en keer ek instinktief  met my hande voor my oë om te keer. Die ruite spat aan skerwe om ons. Die motor tref die sypaadjie en begin rol. Ek hoor my eie stem roep na Kezia. ‘n Allesoorheersende pyn skiet soos vlamme deur my linker sy. Die motor kom uiteindelik tot stilstand. “Kezia? Ivor?” prewel ek. Ivor se nek hang vreemd skeef. ‘n Histerie styg tussen die pynnewels in my op. Een blik na Ivor se vriende is genoeg om te sien dat hulle ook nie die ongeluk oorleef het nie.

 

Kezia kreun en ek probeer orent kom, maar iets pen my vas. Die pyn is ondraaglik. Ek moes my bewussyn verloor het, want tussen die newels deur hoor ek nou my sussie snik-roep na my. “Katja! My liefste Katja? Maak asseblief jou oë oop?” roep sy. Ek beur weer vorentoe, maar sak terug teen die sitplek toe Kezia my skouers ferm terugdruk. Dan sien ek dit. ‘n Staal pen het die voertuig deurboor en dwarsdeur my buik gesteek. Die histerie in my sterf ‘n eie dood toe die besef tot my deurdring … hier gaan ek sterf.

 

“Kezia, sussie, jy moet nou … baie mooi luister …” stotter-prewel ek tussen pynnewels deur.

“Ek dink nie … ek gaan dit … maak nie … Kyk in my … rugsak … my trourok… Trou asseblief … na die oorlog … met Nikolai? Ruil ons … identiteitsdokumente om?”

 

“Nee! Katja, bly by my … ons gaan jou hier uitkry! Vasbyt, my sussie, ek gaan hulp soek!” soebat Kezia. Ek klem haar hand vas. Dis sinneloos om met haar te probeer redeneer, maar ek wurg die woorde uit: “Belowe my … jy sal met Nikolai trou?”

 

My identiese tweelingsuster se geskokte uitdrukking is die laaste wat ek sien voordat ‘n salige swart wolk oor my daal en ek in vergetelheid wegraak.

 

 

© Retha van Deventer, Maart 2025.

(707 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed