VERGIFNIS 1805 WOORDE
Swiep-swiep-swiep suis duiwevlerke saggies, hoog bo sy kop. Soos ‘n enkele organisme rek en krimp, maal en beur hulle weer al hoër, net om skielik weer te duik en swiep. Frikkie Basson staan wydsbeen op sy netjiese grasperk, hande agter sy heupe. Hy balanseer onbewustelik sy boepens deur sy rug agteroor te krom. Sy wedvlugduiwe is sy eerste liefde. Vir húlle is geen moeite te veel nie. Klokslag 05:30 elke oggend gee hy vir hulle vars water en maak die duiwehokke skoon. Die laatsomer lug is vandag helder blou en hy verlustig hom aan hoe hulle grys en wit vlerke in die son flikker. Bella is sy spog hen. Hy het haar onlangs by ‘n klublid gekoop en sy kom uit ‘n uitstekende bloedlyn. Skielik vang sy oog die bont romp van sy buurvrou. Sy sit onder haar boom tussen die potte vrolike saailinge. Skandalig, dink hy. Hy loer na sy polshorlosie. Skaars 11:30 in die oggend en sy sit al met ‘n glas witwyn, ‘n bak kaaskrulle en ‘n storieboek in die koelte. Haar wilde bos krulhare word in toom gehou deur ‘n gehekelde kopband. Antoinette se huis lyk net so deurmekaar soos sy. Sy glo huis skoonmaak is net ‘n onnodige mors van tyd en ‘n paar dae later lyk alles maar net weer so deurmekaar. Sy kan altyd aan baie beter dinge dink om met haar tyd te doen.
“Môre Buurvrou! Die laaste van ons goeie weer, nê?” groet hy.
Antoinette kyk op. “Nes jy daar sê, Buurman. Middagete”, beduie sy met haar vinger na die kaaskrulle. Sy krap Stoffel saggies agter sy ore en sit ‘n boekmerk in haar boek. “Ek het ‘n lekker vars melktert. Sélf gekoop” spot sy. “Kom so 15:00 oor, dan maak ek vir ons koffie”.
Frikkie dink eers vinnig. “Dit sal lekker wees, dankie Antoinette. Hoekom het jy my nie gesê nie? Ek het ‘n heerlike resep vir melktert en kon een vir jou saam gebring het”. Hy groet met sy regterhand en draai huis se kant toe. “Sélf gebak”, praat hy saggies met homself.
Antoinette sit hulle bekers koffie op die kombuistafel neer. Frikkie bly rondkyk. Die kombuis het bont gordyntjies en is vol snuisterhede, maar alles is darem blinkskoon. Hy kyk of hy haar vadoeke kan sien. Gelukkig is hulle ook silwerskoon. Hy ontspan merkbaar. Stoffel, haar gemmerkat, lê in ‘n sonkol. Seker die beste stoel in die huis, dink Frikkie. Hy weet Stoffel hou nie van hom nie. Antoinette het al gesê dat Stoffel baie territoriaal is, al het sy hom laat sterriliseer. Kyk net hoe gluur hy vir hom, wat Frikkie is aan. Só, al asof hy iets is wat die kat ingedra het. Frikkie glimlag vir sy eie pittigheid.
Antoinette merk op hoe Frikkie na Stoffel kyk. “Moet jou nie aan hom steur nie. Stoffel besit kaart en transport van hierdie eiendom en ék, is sy kosbare slaaf. Sy sny die melktert in agt skywe en skep vir hulle elkeen ‘n skyfie in. “Sukkel jy ook so met miere, Buurman? Mens kan nie waag om ‘n krummeltjie te laat lê nie”.
“Ek mandjie my duiwe einde van die week. Ons klub laat almal by Drie Susters los” sê Frikkie opgewonde. Ek kan nie wag om te sien hoe Bella gaan vaar nie. Hulle is so 200 km op die vlerk en ek sien uit daarna om uit te vind hoe lank dit neem voor my eerstes begin inklok”.
“Dit klink interessant Buurman. Ek sal duime vashou vir jou duiwe. Ek hoor daar het nuwe mense ingetrek by nommer vyf. Jongmense, sonder kinders. Lyk of hulle heeldag werk, want niemand sien hulle nie. Ek sal gaan kennismaak sodra my uitstalling verby is. Sy raak ernstig en steek die potlood wat agter haar oor was, deur ‘n bolla hare wat sy ingedagte bo-op haar kop gedraai het. Die sperdatum vir my kunsuitstalling is om die draai. Ek gaan myself dood moet werk om alles betyds klaar te kry. Die olieverf moet genoeg tyd hê om behoorlik droog te word. Ek weet nie of dit van al die stres is nie, maar ek het nou al vir weke ‘n allervreeslike lus vir sjokoladebruintjies. Het jy nie dalk ‘n lekker resep daarvoor ook nie?” vra sy hoopvol.
Antoinette het ook geen benul van wedvlugduiwe nie, besluit Frikkie. “Ek sal na my skedule moet kyk en vir jou bak as ek tyd kry”, sê hy darem. Hy beur orent en stoot die houtstoel vorentoe. “Nou ja” sug hy. ”Dankie vir die koffie. Ek sal moet wikkel, my draftyd begin 16:30”.
Die volgende oggend 05.30 is Frikkie by sy duiwehokke. Hy luister na hulle diep gekoer en trek die warm slaapreuk van donsvere en mielies diep in sy longe. Hy sal die luike net na ontbyt oopmaak sodat hulle weer bietjie kan vlieg. Vandag maak hy van 09:00 tot 12:00 ordéntlik huisskoon.
Net na 12:00 gaan Frikkie buitentoe. Oudergewoonte bewonder hy eers sy netjiese groen grasperk. “Wat de….?” Op die grasperk lê ‘n bondel bloederige vere. Hy hardloop daarheen en val op sy knieë. “Nee! Nee! Nee!” Frikkie word eers vuurwarm en dan begin hy sweet. ‘n Naarheid oorval hom en hy moet plat gaan lê. “Bella! Bêêlla!”. Dit kan nie wees nie! Dit voel of hy droom. Hoe het dít gebeur? ‘n Witwarm woede begin in hom opstoot. Antionette en haar Stoffel! Dit kan nie anders nie. Hy draai daardie kat se nek met sy kaal hande om! Al sy drome is daarmee heen. Sonder dat hy dit besef, is die res van die dag se roetine ook daarmee heen. ‘n Swaar, swart gevoel kom lê op sy gemoed.
Daardie nag maak Frikkie nie ‘n oog toe nie. Hy lê en rondrol. Hy kan nie die beeld van ‘n bebloede Bella uit sy geestesoog kry nie. Net voor dagbreek soek hy op die internet rond. Aldicarb, besluit hy. Dit is slegs verkrygbaar op die swartmark. Hy kyk ook na resepte vir katbederfies. Hy sal vir die tuinman sê daar is ‘n rotteplaag in sy huis se dak.
Die volgende week oorhandig die tuinmaan ‘n klein pakkie. “Meneer moet maar versigtig wees met hierdie goed. Hou dit vêr weg van Meneer se hande en eetgoeters”. Frikkie gaan koop ‘n ‘funky’ eetbakkie vir Stoffel. Hy sal vir Antoinette sjokoladebruintjies bak. Hy kan nie vir haar kwaad wees nie. Bella se dood was nie haar skuld nie. Die aldicarb sal hy saam met Stoffel se bederfies bak. Hy meng die bestanddele met ‘n plastiek lepel en vurk, in ‘n polistireenbakkie. Net om ekstra versigtig te wees, plaas hy drie velle bakpapier op die bakplaat.
Frikkie neem die gebak vroegaand na Antoinette. Hy dink nie eens aan sy drafroetine nie. “Ek het sommer vir Stoffel ook ‘n ou bederfie gebak. Gee dit vir hom netso in sy nuwe bakkie”.
“Ai, dankie Buurman, dit is gaaf van jou. Dit gaan nou heerlik smaak!” sê Antoinette. “Stoffel gaan ook in sy noppies wees. Ek wens ek kon jou innooi vir ‘n koppie koffie, maar ek skilder nou soos ‘n besetene om betyds klaar te kry”.
Frikkie is nog besig om sy voordeur oop te sluit, toe hy skielik tot besinning kom. “O hemeltjie tog! Wat op aarde het jou besiel Frik Basson!” Die arme Stoffel. ‘n Gifdood is iets aller verskriklik! Hy moet dadelik vir Antoinette bel en sê daar is iets verkeerd met sy gebak. Hulle moet dit asseblief nie eet nie. Hy sal later iets uitdink vir ‘n verskoning. Antoinette se selfoon lui en lui. Hy los nie ‘n stem boodskap nie, maar hardloop so vining as wat hy kan terug na Antoinette se huis toe. Hy lui die voordeurklokkie, oor en oor. Daar brand ligte in haar solderateljee en iewers in die huis speel Mozart se Die Zauberflüte. Hy lui die voordeurklokkie nog ‘n paar keer, tervergeefs. Skielik tref ‘n nare gedagte hom. Antoinette het ‘n enorme eetlus. Sê nou net sy het ook aan Stoffel se bederfies geproe en hulle lê albei dood op die kombuisvloer? Miskien moet hy die nooddienste of die polisie bel. Maar hoe gaan hy die situasie aan hulle verduidelik sonder om homself te inkrimineer?
Daardie nag maak Frikkie weer nie ‘n oog toe nie. Hy kan nie glo dat hy so ‘n onnosele ding aangevang het nie. Antoinette sou hom mos dadelik verdink het as Stoffel iets oorgekom het. Hy weet arme Bella het ‘n wrede dood gesterf, maar hy moes nie kwaad met kwaad vergeld het nie. Hy sal Stoffel vergewe. Dié het seker maar net gedoen wat katte van nature doen. Om alles te kroon hoor hy nou ‘n vreemde, onaardige geraas. Dit is ‘n gegrom en ‘n geknor met vreeslike skreeklanke. Slaap is nou heeltemal buite die kwessie.
Die volgende oggend is Frikkie vroeg by Antionette se huis. Hy lui die voordeurklokkie dringend, twee keer na mekaar. Hy hoor voetstappe en sekondes later staan Antoinette in lewende lywe voor hom. Haar hare wild en in alle rigtings, met Stoffel agter op haar hakke.
“Antoinette! Jou liewe ding!” Frikkie wil haar om die hals val, maar sy staan verskrik een treë agteruit.
“Kom gou binne. Ek maak ‘n vinnige koppie koffie voor ek weer verder werk”, nooi sy hom binne. Hoe is jy dan vanoggend so vroeg, Buurman? Moet jy nie besig wees met jou duiwe nie?”
“Uuum…ja”, sê Frikkie verleë. “Ek wou net kom kyk het of jy en Stoffel okei is na gisternag se vreeslike geraas”
Koffiebeker in die hand sê Antoinette “Die nuwe intrekkers moet beslis ‘n kat hê. Stoffel het maar net sy grondgebied beskerm”. Stoffel lê gemaklik op haar skoot. Sy vryf die spinnende kat agter sy ore. “Hy is so ‘n liewe, ou lui kat. Vang nooit eers meer ‘n muis of ‘n voël nie”.
“Het julle van die sjokoladebruintjies en bederfies geëet? vra Frikkie versigtig.
Antoinette sit haar hand voor haar oë. “Ek weet nie hoe om jou in die oë te kyk nie, Buurman. Ek voel so aaklig daaroor. My kop was net gefokus op my skilderwerk. Ek het al jou gebak op die kombuisrak vergeet en toe ek om middernag daarvan onthou, was alles oortrek van die dekselse miere. Ek dink sjokolade mag giftig wees vir miere, want daar het hordes dooie miere rondom die gebak gelê”.
Baie verlig sê Frikkie dat hy sommer vanmiddag nog vir haar en Stoffel gaan bak.
“Hoe het jou duiwe toe gevaar, Buurman?”
Frikkie vertel dat Bella verlede week wreed vermoor is. Hy het nie lus gehad om sy duiwe te laat vlieg nie. Frikkie hou vir Stoffel dop. Nog voordat Antoinette iets kon sê, maak Stoffel sy een oog luierig oop. Frikkie kan sweer die kat voel vir hom jammer. Só, al asof hy wil sê, “Buurman, van nou af staan jy en die duiwe g’n kat se kans nie”.
Rika Gerryts
3 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Mei 2024 - OOP projek