Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Verkleurmannetjie

Deur Johan van Rensburg
Datum gepubliseer: 8 Februarie 2022 Aantal woorde: 1956 640 Kere gelees 19

Verkleurmannetjie

Almal ken die dorp Potchefstroom in die Noordwes Provinsie. Selfs jý wat nou hier lees. Maar ken jy die Kroeg “Dorsland”, aan die buitewyke van Potchefstroom?

Wel dis waar ek, Wouter Verster, die kroegman is. Ek is ‘n dertigjarige alleenloper. Ek is ‘n hele vier voet ses, vriendelik van geaardheid, soms oorvriendelik, maar ongelukkig nie veel vir die oog nie. My persoonlikheid maak op vir my tekortkominge. Ek ken goeie grappe, alhoewel ‘n goeie grap selde my omset per dag verhoog. Vra maar enige “mellow man”. Hy tip eerder a wulpse meisie met ‘n mooi smile as ‘n middeljarige oujonkêrel.

Die min tips pla my egter nie.

Die rede is eenvoudig: Ek is nie werklik Wouter Verster nie. Bêre hierdie feit iewers in jou agterkop.

Ja, dis maar hoe die lewe is. Ek meen ek het myself heeltemal onderskat. Ek het altyd gedink ek sal goed doen as Geskiedenis Onderwyser, of Sport Onderwyser. Toe ek wéér my oë uitveë staan “Kaptein” op die lapel van my blou uniform.

Hoe dít gebeur het, is nog ‘n saak van duistere oorsprong!

Hier ís ek nou. Privaat Speurder van beroep. ‘n volle tien jaar nou al. My hele lewe leef ek onder ‘n dekmantel. Dan het ek hierdie naam, dan daardie beroep. Wat ‘n klug is my lewe nie! Heeltemal identiteitloos dobber ek op hierdie aarde rond vir onbeperkte tye. Ek het die kuns bemeester om verskeie beroepe redelik goed te kan doen, en my klerekas wissel soos die kleure van ‘n verkleurmannetjie.

Om ‘n lang storie kort te maak: dit is hoe ek operate: ‘n kliënt neem my in diens wanneer ‘n raaiselagtige saak hom slapelose nagte besorg. Ek werk onder ‘n dekmantel en bekom die nodige inligting wat die kliënt weer soete drome laat droom.

En ék word ryklik beloon vir my gebrek aan identiteit.

Om die aap nou uit die mou te laat: Die bestuur van Dorsland het my genader om ondersoek in te stel nadat al hoe meer geldelike verliese gelei word, al is die kroeg byna elke aand van hoek tot kant volgepak.
Na ‘n eie interne ondersoek kon die kloutjie steeds nie by die oor gekry word nie, en my ekspertees is ingeroep.

En dáár is die nuwe ek gebore. My nuwe identiteit: Wouter Verster, 30 jaar oud. Enkellopende. Eertydse alkoholis wat probeer om ‘n nuwe blaadjie om te slaan. Ek doen aansoek vir die “foppos” van “kroegman”, wat net vir my geskep is.

En so wrintiewaar, na twee weke hét ek die belhamel vasgetrek. Die verslag sit ek nou net en klaar tik. Nou kan die bestuur van Dorsland weer snags rustiger slaap. My verklaring is volledig, met foto’s en al, geneem deur my spesiale penkamera. Mý kort geheue kon nooit die orders onthou nie, sien, ek moes ál die orders tot in die fýnste detail neerskryf. Met my pén. Die Kámerapen.

Die skuldiges was toe twee aanvallige kroegkelnerinne. Hulle het “gunsies” verruil vir sjarmante jong manne. Het hier en daar ‘n drankie (of drie) laat deurglip sonder om op te lui vir ‘n gunsies terug…sal nie kan sê waste gunsies presies nie…my pen kan nie waarsê nie.

Nou kan ek en my vrou gaan sit met ons tone in die sand, en ‘n bier in die hand.

Ja, die verkleurmannetjie hét toe ‘n vrou.

Ons geniet albei die voordele van die pakket wat die maatskappy bied. Nie dat hulle hulle lewensverhaal voor jou voete gaan neergooi om te vertrap nie, maar as jy diep genoeg delf sal jy vind dat elke hoëprofiel speurder wat sy sout werd was iewers van die verhoog af verdwyn het.

In ons kringe het ons ‘n naam vir so ‘n ou. Hy is Burned.

Ek is burned.

Vir jare was ek ‘n hoë profiel misdaad speurder, maar moes van die voorgrond af verdwyn omdat daar ‘n prys op my kop was.
Dit was net te gevaarlik om aan te gaan in die veld. Ek het toegang tot te veel sake gehad en was elke tweede week in die hof om te getuig. Die misdaadwêreld is my nie goedgesind nie. Hulle soek my bloed. Daarom hang ek op hierdie oomblik identiteitloos in die lug en dra die beskerming van slegs die prokureergeneraal van die provinsie..

Ek het my goed verkoop en my vrou gevat en op ‘n klein dorpie op ‘n driemaande-basis in ‘n huurhuis ingetrek. Ek het ‘n goedkoop selfoon gekoop en beide ons bankrekenings gesluit. Ons het tweedehandse meubelwinkels genader vir meubels en klere en het ver gebly van vriende – en ons het die familie vaarwel gesê. Dis ‘n duur opoffering.

Ek het privaatondersoeke vir klein ondernemings begin doen om die pot aan die kook te hou. Dit was nie genoeg om mee te gaan vakansiehou nie, maar ons kon eet en die huur betaal. Die Maatskappy se check het ek net elke ses maande ontvang onder valse voorwaardes om Jan Taks onder my voete uit te hou.

My vrou is ‘n onderwyseres.

Ek wou niks daarvan hoor dat sy by ‘n publieke skool gaan skoolhou nie, want dan verskyn haar naam weer op die boeke van die staat, en ek kon dit nog nie waag nie – vir haar en my eie veiligheid. Sy pas derhalwe kinders tuis op, en kry genoeg geld in om darem haarself goed aan die kant te hou.

Ons het geen kinders nie. Hoe dan anders?

Hoe sal kinders kan aanpas by die ewige verhuisings wat ons bykans jaarliks moet ondergaan? Elke verskuiwing is ‘n trauma. Ons kannie anders nie. Dit was die regte besluit, so in die begin van ons verhouding geneem. Vir my en vir haar.

So, is dit dan werklik weer tyd om te verhuis. Daar is ‘n volgende opdrag. Iewers op ‘n Vrystaatse dorpie. Ongeruimdhede by die plaaslike Laerskool noop die Beheerliggaam om die hulp van ‘n ekspert ondersoekbeampte in te kry.

En almal weet seker wie die aanstelling vir die nuwe LO -onderwyser by die Laerskool Smithfield gekry het?

Niemand anders as meneer Wikus Viljoen nie.

Dis nou ek.

En so verwissel die verkleurmannetjie se identiteit weer.

My vrou huil as sy haar snotneusies koebaai soen. Dié vrou van my; sy staan deur dik en dun by my.

Ons pak ons goed in los kartondose. Ons gee die huur op. Ons betaal die laaste water – en – ligte rekening. En vat die pad Vrystaat toe. Smithfield toe.

Daar is toe twéé poste oop. Toe my vrou die skool sien is dit neusie verby. Ek voel sleg oor die trane wat gevloei het by die snotneusies. En toe gee ek in. Sy word aangestel as Afrikaanse juffrou.

Juffrou Viljoen.

Dit kan nie anders nie.

Sy glimlag van oor tot oor, ék het slapelose nagte. Ons bly in die skoolkoshuis woonstelle.

Nog ‘n problem steek sy kop uit. Ek is ‘n middeljarig, oorgewig…eintlik baie onfiks. En nou moet ek in my nuwe rol pás. Dis iets wat ek nog nie voorheen gedoen het nie. Ek Google hoe om fiks te word binne ‘n week.

Google trek net skewebek vir my.

Ek moet soggens wattertyd die eerste rugbyspan uitvat vir ‘n vyf kilometer drafsessie. Ek is halfdood toe ek klaar is, maar ek het al geleer om my “pose” te hou.

Tuis eet ek ses eiers vir ontbyt, en kots my longe uit!

My vrou blom.

In jare het ek haar nog nie so gelukkig gesien nie! Ek is ineens spyt dat ek haar al die jare by die huis gehou het.

Na twee weke het ek my “love handles” afgeskud. Ek voel beter as ooit tevore. Ek is lus vir die lewe en draf elke sonsopkoms met ‘n lied in my hart.

Die hoof “like” my. Die seuns “like” my.

Ek voel nie meer so identiteitloos nie.

Die lewe begin op ‘n vreemde manier vir my al hoe meer sin maak. Die ondersoek vorder stadig, die feite is min en ‘n onderwyser is so slim soos die houtjie van ‘n galg. Ek vra die Maatskappy nog ‘n maand uitstel vir die verlsag.

Ek begin wonder of ek nie hierdie onder dertien rugbyspan tot by Cruyven week kan stoot nie? Die potensiaal is defnitief daar, die seuns moet net konstant dieselfde ding doen – oefen; oefen; oefen!

Dis aan die einde van die vyfde week op Smithfield. Ek sal die dag nooit vergeet nie. ‘n Speek in my wiel het my wêreld onherstelbaar verander.

Jy wil seker ook weet wat?

Sien, my vrou kom toe die middag aan tafel effe bleek langs my sit. Sy het nuus ontvang.

Sy was swanger.

Die baie oefen en vars lug het die ding gedoen. Ons kyk mekaar aan en ons onthou. Ons belofte aan mekaar was dat sou so iets gebeur, ek my identiteitlosheid moet laat vaar.

“This was the point of no return”

“The pivotal point.”

Of wat ookal hulle so iets noem. Die verkleurmannetjie hang sy mantel op. Ek is nie meer identiteitloos nie – ek is nou ‘n pa.

Daardie aand ontmoet ek en my vrou die Beheerraad skelm. Ons bieg. Ek vlek die hele doel van my besoek oop. Die besluit is eenparig: Hul sal ons ware identiteit beskerm. En ons word permanent aangestel as onderwysers by Laerskool Smithfield.

Ek neem die span tot by die Cruyven week. Die stryd is fel. Pas staan en vloek langs die veld oor die ref nie weet wat hy doen nie. My kneukels staan wit in my hande soos ek die spel dophou van die paviljoen af. Dis nou of nooit. Nagte lank het ek kort kursusse oor die internet gedoen oor hoe om rugbykampioene te kweek. Ek het die riglyne stiptelik nagevolg en nie een dag van die sorgvuldig saamgestelde oefenprogram afgewyk nie. Selfs diete is aangepas en die seuns is in “tip-top shape”.

Langs my sit die Laerskool Smithfield se skoolhoof een sigaret na die ander uit skone senuagtigheid en rook. Aan die ander kant sit ‘n pa van die opposisie. Toe ek eenkeer my longe los skree oor ‘n fratsdrie kyk hy gesteurd in my rigting.

Daarna vang ek sy blik kort-kort in my rigting – so dat ek half ongemaklik raak.

Toe beserigstyd aanbreek draai die man hom sodat hy my vol in die gesig kan kyk. Hy sê hard, so sodat almal rondom my kan hoor:

“Maar ek ken jou mos! Jy is die *** wat my broer vir bedrog laat opsluit het!”

“Wat soek jý hier?”

Dis nou so stil op die paviljoen jy kan ‘n muis hoor piep.

My mond voel droog want ek onthou die smerige saak goed. Ek weet nie hoe om te reageer nie.

Dan skiet die skoolhoof langs my sy sigaretstompie met mening eenkant toe. “Jou sig is blykbaar aangetas, Hannes. Hierdie man is die beste sportafrigter in die Suide, het jy dan nog nooit van Wikus Viljoen gehoor nie? “ Hy lag hard vir sy eie grappie. “O defnitief nie, want dan sou jou span nie so swaar getrek het vandag nie!”

Die hele Beheerraad stem luiddrugtig saam met die hoof. Opponent sak terug in sy sitplek op die paviljoen. Hy kyk nog een maal skuins na my en blaas halfhartig die aftog. Hy gaap soos ‘n vis op droë grond.

Ek kyk dankbaar na die skoolhoof van Laerskool Smithfield. Dit word warm om my hart. En ek weet – ek het nes geskop. Ek hang nie langer identiteitloos rond nie – ek is die beste sportafrigter in die Suide, en ek is ‘n pa.

Ons wen daardie dag se semi-finaal. Eintlik moés ons wen. Daar is ‘n onreëlmatigheid in die punte samestelling ontdek. Die skoolhoof is nie bang nie, hy sal laat ondersoek instel….hy ken ‘n man wat kan…




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    8 Februarie 2022

    heerlik gelees

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 18
Kommentaar telling: 0

Johan van Rensburg 51 jaar oud te Stilfontein NW en skryf saam sy vrou graag gedigte, boeke en draaiboeke. Sport onderwyser en vrou wisk en wetenskap onderwyser te Christen skool. Begin in 2012 eers skryf na droom van God en eerste boek 2014 ..My gesprek met God. Daarna volg nog boeke nl NOMMER 28, Gekoopte Geluk, grendelgenot, 4 CANS, en War Zone.. Volgende boek reeds voltooi en vir publikasie is Greater Works..

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

SOLIDARITEIT – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 168 gaste aanlyn

Bydraes – Argief