Jongste aktiwiteit:

Vryheidsdag

Vryheidsdag, deur Stephan Uys

Dit is die middag van Vryheidsdag, en ek is besig om tuin te maak. Eintlik praat ek snert. Liefie en Silas is besig om tuin te maak, en ek observeer merendeels wat hulle doen. Jy sien, tuinmaak is nie eintlik my ding nie; tuinmaak is Liefie se ding. Mý ding op die middag van Vryheidsdag behels ook ʼn vurk, maar dit is nie ʼn tuinvurk nie, dit is ʼn braaivurk. Mý ding is vuurmaak, veel eerder as tuinmaak. My ding is vleisbraai, en nie om self onder die fel son gebraai te word terwyl jy met onkruid en bossies en molle en swamme en plantroes en luise en vele meer swoeg nie. Ja nee, mý ding het veel eerder met vuur en vleis te doen as met tuinmaak en sulke goete.
Terwyl ek die twee van hulle so staan en betrag, begin ek ook hond se gedagtes oor my tuinhulp Silas se beroepskeuse te kry. As ek kyk hoe Silas gereeld op die tuinvurk leun en aandagtig kyk hoe Liefie die werk doen wat ek hom betaal om te doen, wil dit vir my voorkom of tuinmaak ook nie juis Silas se ding is nie. Dit is ook nie my twee Bulle se ding nie. Die twee seuns het vroegoggend hier by ons gewerskaf in die tuin verbygestap, iets gebrom en toe verdwyn soos Paul Kruger se miljoene verdwyn het; almal weet hulle bestaan, maar niemand het ʼn idee waar hulle is nie. Ek en Liefie het al ʼn paar keer na hulle geroep en selfs een of twee keer gaan soek, maar hulle het spoorloos van die werf af verdwyn. Ek is natuurlik goed die duiwel in dat hulle my nie saamgevat het nie. Ek reken so in my eie stormagtige binneste dat dit ʼn uiters selfsugtige optrede van hulle was, en dat ek en die mannetjies nog ʼn indiepte gesprek gaan voer oor die konsep van “as een lid ly, dan ly die hele liggaam”. Net die gedagte aan hulle wat vry rondloop of êrens by vriende kuier terwyl ek in die warm son moet toekyk hoe Liefie en Silas werk, maak dat ek myself sommer weer van vooraf bejammer en vir hulle kwaad word.
Ons dogter, wat heelwat jonger as die twee lyfwegstekers is, het darem gebly om te ondersteun. Mens moet nooit die ondersteuningspan se rol minag of misken nie. My pragtige klein oogappeltjie kom elke nou en dan met drie glase vol lekker yskaswater daar aan. Nie lekker koue koeldrank nie, nee daar het Liefie ʼn stokkie voor gesteek. Die koeldrank veroorsaak glo ʼn fatsoenverandering by my. Liefie sê dat ek deesdae meer na ʼn sokkerbal begin lyk en nie meer soos ʼn rugbybal nie, en Liefie was klaar erg ontevrede met my rugbybal vorm.
Nou mag jy dalk vra hoekom ek en Silas dan hierso in die tuin werksaam is saam met Liefie op hierdie heilige middag van Vryheidsdag? Dis dan die een dag waarop Suid Afrikaners hul vryheid fier met braaivleis en bier, hierdie einste dag waarop ons saam tuinmaak! Jy sien dit gaan alles oor die keuses wat gemaak is, en natuurlik ook oor die ‘vryheid’ wat gemaakte keuses aan jou gee.
Silas het gekies om vandag te kom werk, want dit is die dag waarop hy gewoonlik inkom om te kom tuinmaak. Die feit dat dit Vryheidsdag was, het hom skynbaar nie gehinder nie, want ek het nog lekker agter Liefie se boud weggekruip vir die nuwe dag toe ek die man hoor roep by die motorhek. Ek was effens verbaas om Silas te sien, want ek was seker dat hy die dag nie sou kom werk nie. Silas het egter ʼn ekstra geldjie nodig, en het geweet ek sou hom ietsie ekstra gee as hy op ʼn vakansiedag kom werk. Silas het alles bereken en teen mekaar opgeweeg, en toe die keuse vrywillig gemaak om die dag te kom werk. Wat nie ek of Silas geweet het nie, is dat Liefie by die aanhoor van Silas se stem haar gedagtes in ʼn rigting ingestuur het wat vir ons die dag bitter blou sou maak.
Ja, terwyl ek niksvermoedende vir ʼn net so niksvermoedende Silas die hek oopmaak, sou ek nooit kon raai ek nooi die arme man in soos ʼn lam ter slagting nie. Dit was egter toe ek in die huis instap en Liefie klaar aangetrek in haar ‘tuinpakkie’ in die kombuis kry, dat ek die eerste keer onraad begin vermoed het. Silas was op hierdie stadium nog salig onbewus van enige ongerymdhede en was besig om al fluitende sy werksklere aan te trek.
Nou moet ek eers weer verduidelik. Silas is ʼn maraton-werker, hy is nie ʼn kortafstand atleet nie. Hy sal elke week inkom en ʼn ietsie in die tuin doen, nadat hy vir ʼn halwe dag net gras gesny het. Volgende week sal hy dan ʼn ander ietsie doen nadat hy weer die gras noukeurig gesny het, en so aan, en so voorts, tot hy stelselmatig weer by die eerste ietsie uitkom. Ek is gelukkig met Silas se werk, nie soseer oor die presiesie of die spoed van sy werk nie, maar omdat ek dit nie self hoef te doen nie. Liefie is ook merendeels gelukkig met hom want die erf lyk darem redelik skaflik en die man is so getrou soos Kersfees en Nuwe Jaar. Maar vandag het Liefie ander idees en ‘n heel ander werksprogram vir my en die arme Silas! Vandag het Liefie planne van tuinbou, en dit is planne wat wyd draai. Vandag gaan daar nie vir meer as ‘n halwe dag gras gesny word nie. So oor ʼn gejaagde ontbyt verduidelik sy vir my met ʼn stukkie toast in haar hand en diamante wat skitter in haar oë, presies als wat sy op hierdie Vryheidsdag sal gedoen wil hê, en ek voel sommer hoe die sooibrand in my keel opstoot. Liefie is meestal ʼn besadigde tipe mens, wat die perke van menswees en manwees verstaan en respekteer. Maar daar is tye wat sy totaal en al vergeet dat selfs die Liewe Vader meer as een dag nodig gehad het om alles reg te kry. Vandag is een van daardie dae waar Liefie se realiteitsmeter heryk moet word. Dinge begin donker lyk vir my, en dis toe dat ek oor keuses en hul gevolge begin besin.
Anders as Silas, word ek nie betaal vir my tuinwerk nie. Anders as Silas het ek nie die keuse gemaak om professioneel tuinwerk te doen nie. Nee, my fout was dat ek met Liefie getrou het. Nie dat ek spyt is oor ons troue nie, maar ek was al redelik gereeld spyt oor ons huwelik. Jy sien, Liefie spel huwelik anders as die meeste ander mense; sy spel dit so: “Hie-wil-ek… “, en dan moet ek gewoonlik my geliefde rusplek op die sitkamerbank opgee en Liefie se ‘hiewilek’ laat geskied. So het ek en die twee Bulle al ure lank die sitkamer van bakboord na stuurboord genavigeer terwyl Liefie haar lyf Admiraal hou en opdragte uitskree. Die uiteinde van hierdie sitkamer-skuiwery is gewoonlik Liefie wat in sak en as sit en haar lot beween oor die hoeveelheid in- en uitgange na ons sitkamer, asook die gebrek aan mure om meubels teen te skuif en skilderye (wat ons nie besit nie) teen op te hang. Ek lieg nou nie, maar ek het al die sitkamer en eetkamer van ʼn ‘open plan design’ na ʼn ‘not on the plan seperate lounge and diningroom’ verander met ʼn stuk drywall, net om te keer dat die TV en ander meubels nie by die voordeur uitspoel nie, so erg het sy gehuil. Ek het my keuse in die lewe gemaak toe ek Liefie gekies het; of dit nou vir botter of vir wors is, dit was my keuse. My keuse was vir liefde, Silas se keuse was vir geld; beide van ons het vandag al menigmaal ons keuse bevraagteken.
Silas besef alles werk nie volgens plan nie toe Liefie vir hom deur die kombuisvenster skree hy moet die grassnyer los en die graaf en tuinvurke bring, en sommer ook die hark, die snoeiskêr, die kettingsaag, die kannetjie petrol, die kunsmis, die miergif en die koevoet. Terwyl ek na hom kyk sien ek hoe verander Silas se liggaamshouding van ‘some extra easy money’ na ‘what on earth did I do to myself’. Die man krimp met omtrent twee duim in lente, en sy skouers gaan hang amper op sy heupe. Ek kry die man amper jammer, maar die jammerte wat ek oor my self voel laat nie juis spasie vir jammerte oor ander se hartseer en pyn nie. Toe Silas met die volgepakte kruiwa om die hoek kom, is Liefie al besig om ʼn nuwe bedding met die twintig meter tuinslang uit te lê – een met sulke mooi kurwes soos ʼn vrou met ʼn voller figuur, of dalk soos ʼn man wat van fatsoen verander het. Ek sien Silas bekyk die stuk gras wat uitgehaal moet word en ek kan sommer sien hoe bereken hy sy gras sny tyd teenoor sy tuinwerk tyd ratio. Aan sy gesig kan ek sien hy besef hy gaan van nou af voor etenstyd klaar gras gesny hê, en hy sal moet herbereken aan die hoeveelheid tuinwerk wat hy weekliks moet doen, as hy alles in ʼn maand wil gedoen kry. ʼn Effense gevoel van jammerte begin in my deur te skemer, maar ek gooi dit toe met ʼn dik laag selfbejammering en bitterheid oor ʼn verloregaande vakansiedag.
Skaars het sy die tuinslang mooi presies gedrapeer of sy vestig my aandag aan ons dooie boom in die middel van die tuin. Tot hede en vandag toe kon ek vir haar sê ek wag dat die boom eers mooi droog word voor ek die stam kan kap en die boom kan verwyder. Maar vandag het Liefie lank genoeg gewag vir die boom om te verdroog, en ek word verduidelik as daardie boom nie teen sononder op die grond lê nie, lê ek nie vanaand langs haar nie. Ek besin nog die keuse aan my gestel, toe wys sy na die heining. So mettertyd het Silas dit bietjie dik laat uitgroei, en Liefie besluit sy wil dit heelwat teruggesny hê en sommer ook effe laer maak, terwyl ons nou besig is. Beide ek en Silas wil nog vir haar verduidelik dat dit gedurende die gewone tuinwerk gedoen kan word, maar Liefie se ore hoor niks, en haar hart het geen simpatie nie. Ek is nog besig om haar ywer te stop, toe trek sy die garage se deur oop en wys met trots vir my en Silas die saailinge wat sy die vorige dag by die kwekery gekry het; glo teen ʼn winskoop want die plantjies moes eintlik al uitgeplant geword het en dit wil lyk of hulle besig is om te begin vrek as gevolg van beperkte grond vir hul wortels. Een ding het ek al in my twintig jaar plus saam met Liefie geleer, en dit is dat geen dier of plant sal vrek terwyl sy aan diens is nie! Ek besef my dag is in sy ‘daardie ding wat jy aan boute draai’ in en voel ek wil sommer uitbars in trane. Silas kry dit egter reg om een van sy pragtige breë glimlagte te gee en vir Liefie te verseker dat sy glad nie te veel verwag nie en dat ons alles sal doen net soos sy dit wil hê. Ek berou daardie dag voor die kansel toe die predikant my gevra het of ek “Ja” antwoord – as mens net toe geweet het wat mens nou weet!
Nou ja, ek het maar die kettingsaag gegryp en begin saag aan die boom wat nou al so ses jaar gelede gevrek het. Skynbaar was ses jaar toe genoeg tyd om mooi droog te word, want twee ure later is ek darem seker dat ek vanaand langs Liefie gaan slaap, en te oordeel aan die pyn in my skouers en nek gaan ek vir seker niks anders wil doen as slaap nie. Ek is heimlik al erg bekommerd of ek deur hierdie erge pyn sal kan slaap. So tussendeur die staan en kyk vir Liefie het Silas ook al mooi fluks gevorder met die nuwe bedding. Liefie sit plat op haar boude in die nuwe bedding en maak seker elke graswortel is uitgehaal voor sy met tere liefde en so sorgvuldig soos ʼn snydokter ʼn gaatjie maak, kompos insit en dan ʼn saailing in die gaatjie plant.
Terwyl ek so na die glimlag van vreugde en plesier op Liefie se gesig kyk, sien ek skielik dieselfde in Silas se gesig. Dis toe nie die tuinvurk wat moeg geword het nie, dit was al die tyd Liefie se vreugde om tuin te maak wat die man se aandag so aftrek van sy werk. Ek sit die saag neer en stap oor na hulle toe. “Silas, gaan help my vrou met die plantjies, ek sal die laaste stukkie gou omspit.” Silas laat hom nie twee keer nooi nie en gaan sit reg langs Liefie plat op sy boude en begin sorgvuldig met sy sterk hande deur die grond krap, op soek na enige grasse en wortels wat straks agtergebly het, voor hy sorgvuldig ʼn gat in die vars grond maak.
Terwyl ek begin spit, herbesin ek die woord ‘vryheid’. Ek is vry om te kies wat ek wil doen, en wat ek nie wil doen nie. Ek het gekies om Silas vry te maak van tuin spit, sodat hy sy liefde vir plante saam met my vrou kan uitleef. Is dit dan nie waaroor ‘Vryheidsdag’ gaan nie? Is ons nie elkeen veronderstel om die vryheid van keuse te hê oor wat ons wil doen met ons lewe nie? Terwyl ek daar staan en die tuinvurk laat asem skep sê ek so in die stilligheid vir die Groot Tuinier dankie vir die vryheid wat Hy aan ons gegee het.

©Stephan Uys 2018/05/01




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed