
Vryval
hoe vry is vertes in die niet
en al die sterre wat verskiet,
in hierdie huisgebonde
ankertog van tyd?
hoe vry is wolke wat kan sweef
tussen winde wat herleef,
wie vir wagtings
by ‘n bliksemstraal moet pleit?
hoe vry dan is ‘n vloeivallei
langs die hange van ‘n berg,
teen die onmeetbare kontoere
van die son?
hoe vry is varsgeplukte vrugte
uit ‘n bronbegiete boord,
in ‘n afgeleefde pakhuis
van beton?
hoe vry die toekoms van ‘n kind
in ‘n blikkombuis se winter,
kort van water
met ‘n kors gemufde brood…
wie nog hunker na vars liefde
en ‘n hongerhoop bly koester,
in sy vasklou
aan die vryvaltrein van dood?
Seirdna 21.06.2020
Neologismes in sinoniem
“ankertog” – reis wat vas is en nêrens heengaan nie
“wagtings” – oomblikke van rus
“vloeivallei” – ‘n vallei waarvan die lyne in die omgewing kosmeties inpas.
“bronbegiete” – toegevoeg met al die noodsaaklike bykomstighede
“blikkombuis” – kombuis in ‘n plakkerskamp
“vars liefde” – aaneenlopende, hernieude liefde
“vryvaltrein” – ‘n versnellende reis sonder stop
4 Kommentare
-
Viooltjie
Goeie werk, Sierdna. Die gedig lees lekker met goeie beelde en interessante nuutskeppings. Ek het dit baie geniet.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2020 – Vryheid projek