Waar seemeeue draai
tussen seeduin en woestyn –
‘n spikkel aan die skedelkus-
‘n plekkie klein
waar jy in vrede kan kom rus,
waar jy die stilte hóór,
die ruising van die see
jou mateloos bekoor
en van sy kalmte aan jou gee
waar die noordduin en die suidduin
tot by Solitude se draai
jou uitnooi asem te kom skep
jou moeë gees te kom herlaai
dalk te bid vir nog ‘n kans
‘n wegdraai van verkeerde weë
en op die deining van die see
saam met die winde te kom dans
waar op helder sonskyndae
met laaggety ‘n eensaam reier
onder die wye lug en ‘n see nog wyer
tussen rotspoele kom wei
en seeswaels in hul honderde
op hoë winde ry
op die branders in die helder lig
‘n duisend sterre skitter
waar in die laat namiddagson
die branders op die strand kom speel
prentjies in die sand kom skryf
in karmosyn en geel
die vensters vriendelik knipoog
in die kaatsing van die lig
asof hulle jou wil binne nooi
om in die vriendskap te kom deel
waar vissers nog ‘n laaste maal
‘n vissie probeer skaai
vir sy gesin ‘n koningsmaal
of vir vanaand se braai
hoor ek jou stem in die seegedruis
voel jou asem in die wind se waai
waar ‘n enkel seemeeu draai en draai
lê jy, o Hentiesbaai
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.