Wag is nie vir sussies
Teen die tyd moet ek al ‘n Meestersgraad hê in wag.
My pad met wag het al jare gelede begin. Ek moes omtrent 27 gewees het toe die woord die eerste keer my pad gekruis het.
Ek praat nou nie van wag vir kos, of wag jou beurt af, of wag ek is nou besig nie. Nee, ek praat van wag vir daardie droom, of ideale wat brandend in jou binneste bly. Die drome wat jou ‘n unieke wese maak en jou begeester op hierdie aarde. Dit is langsame tydperk wat elke area van jou lewe toets; en nou, na amper 30 jaar, wag ek nog.
As kind wou ek altyd die wêreld sien, wou lugwaardin word maar my lengte het teen my getel. Die Suid Afrikaanse Lugdiens se aansluitingsvorms was alreeds reg om gestuur te word. Ek het Duits geneem as derde taal om internasionaal te kon vlieg, maar als was tevergeefs. Ek was helaas te kort. Maak nie saak hoe lank ek gewag het nie ek wou net nie langer word nie. Daardie droom het lank gevat om dood te gaan. Eintlik, as ek eerlik moet wees, is dit nog lewend.
Op 27 wou ek graag verder gaan studeer as pastorale sielkundige maar die woord wag het sy opwagting gemaak in daardie soeke. Skrifte het gedurigdeur opgekom oor wag. Woord is ontvang oor wag en ek het gewag. Toe het ek geglo dat God se tyd perfek sal wees. Ek wou ook graag Israel besoek maar ek moes wag. Nie getoi-toi soos my mede landsburgers nie. Nee, gewag soos ‘n gehoorsame gelowige dat God die deure sou oopmaak.
Die woord wag was later soos ‘n kniehalter wat my met weersin gevul het. Toe ons die besigheid verloor moes ons wag vir nuwe geleenthede. Dit het nooit gekom nie. Ons het als verloor en op die ou einde is die huwelik ook daarmee heen. Daar was geen towerstaffie wat ons lewens kom aanraak en dit verander het nie. Die wagtydperk het my geleer om met niks klaar te kom. Selfs kos. Wie het nou kos en krag en ‘n dak oor jou kop nodig as jy moet wag, in elk geval? Wag het so ‘n geestelike konsep geword waarmee mense jou wil sus. Indien jy nie wag nie dan voel dit jy is die een wat die pad byster raak. Jy is die een wat die fout maak om oorhaastig te wees. Terwyl jy eintlik net wil oorleef en jou menswaardigheid wil terug kry, maar nee, jy moet wag.
Wag terwyl jy honger het.
Wag terwyl jy in donkerte sit.
Toe word ek opstandig om sodoende net weer die wêreld in die oë te kan kyk. Want sien, daardie wag breek jou af, geestelik emosioneel en fisies. Jy gaan dood van binne en haal net fisies asem. Niemand gee dan om hoe jy geleidelik sterf van binne nie. As ‘n goeie Christen moet jy wag totdat… maar daardie totdat gebeur nie. Jy pleeg sonde omdat jy ongeduldig word. Omdat jy God bevraagteken.
Die ander deel daarvan, daar word op jou neergekyk omdat jy, volgens dieselfde kritiese mense, niks doen om jou daaruit te kry nie. Maar jy het niks om iets te doen mee nie! Maak ‘n lening, moes ons menigmaal hoor, of gebruik daardie kredietkaart. Nee, ek het nie ‘n kredietkaart nie. Onthou ek het als verloor. Ek is geswartlys en toe bankrot verklaar. So verduidelik vir my watter kredietkaart moet ek gebruik om iets te begin?
Dit is dan wat die mense stil word, oplaas het hulle nie antwoorde nie en stap weg. Agterna moet jy hoor… hulle wil nie gehelp word nie. RERIG? Dit is om van naar te word.
As skrywer wag ek vir my deurbraak. In die proses skryf ek en het ek al heelwat geleer van die boekwêreld.
My finansiele onafhanklikheid is nog iets waarop ek moet wag. Elke moontlike deur vir werk slaan in my gesig toe. Verkoop Avon, sal iemand sê… dit sal jou net R300 kos om die eerste goed aan te koop… Nuus flits, ek het nie R300 nie. Jammer, dan kan ek nie help nie. Verkoop Herbalife, dit kos net R500. Ek het nie R500 nie. Ag sit dit op jou kredietkaart… rollende oë. Jy sal die geld vinnig terug maak. Dit is sulke tye wat ek dan in vreemde tale wil praat. Wat verstaan mense dan nie?
Vir drie jaar het ek huise verkoop, sonder sukses en gestop. Want dit kos geld om ‘n agent te wees.
“Jou deurbraak is om die deur. Jy moet net wag en glo,” hoor ek nog steeds.
Ek het die drome eenkant gesit maar dit is moeilik. My pad met wag duidelik nog nie op ‘n einde nie. Wat ek nog moet leer, weet nugter. Maar ons wag. Want dit defineer my geloof en my gehoorsaamheid.
So glo mense.
Wag is voorwaar nie vir sussies nie.
©Lynelle Clark 2019
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
Jy kan dit weer se! Joyce Meyer praat mos van 'waiting well' maar dis nie iets waarmee mens gebore word nie.