Wat is jou opskrif?
Wat is jou opskrif?
Om mense onder opskrifte ingepas te kry, is soos om ‘n spul donsvere in ‘n sak te druk. Dit wil nie lê nie, dit wil nie pas nie en alles spring die wêreld vol. En op die ou end het jy hooikoors en hoofpyn.
Die opskrif op jou voorkop, is nie die opskrifte wat tussen jou hartsnare rondbons of in jou diep donker wese wegkruipertjie speel nie. Dis die yin en die yang van ons binne en buite. Maar die opskrif kan klou soos Aprilmaand se vlieë.
Ons almal pas net nie oral in nie. Dis ‘n gestamp en ‘n gestoot om daardie plekkie in die lewe te vul, en as jy eers daar is, is dit nie te sê dis die regte plek vir jou nie. Dis soos ‘n vaal muurblom op ‘n orgie – te laat besef sy is in verkeerde kamer.
Die een in is ‘n huwelik net omdat dit van die samelewing verwag word en nie omdat dit die hunkering na ‘n man in sy lewe bevredig nie. Die bleeksiel wat droom van ‘n oomblik in ‘n kwantumfisika-lesing, sit Saterdagmiddag langs Pa op die rugbypawiljoen. Die platkuif-gebrilde kind wat ritme-beneuk rondstaan by ‘n skoolsokkie, staan uit soos ‘n puisie op ‘n bikini-model se boud – bleek van buite en ineengekrimp van binne.
What you see is not always what you get. Nie een van ons baie kante pas altyd gelyk in die regte boksie nie. Daar waar die een kant in is, daar’s ‘n afwesigheid van ‘n ander. Wat is lig? Bloot ‘n afwesigheid van donkerte. Wat is koue? Bloot ‘n afwesigheid van hitte. Ons kan so ver gaan om te sê koue bestaan nie. Al wat ons voel is die afwesigheid van hitte. Jy kan so ver gaan om te sê jou buitekant bestaan nie, dis net ‘n afwesigheid van jou binneste.
So wys ons ‘n kant wat bloot die afwesigheid van ‘n ander kant is. Dis die soeke na daai ander kant wat maak dat ons nie soos ‘n spul klippe in ‘n sak val nie, maar sweef soos donsvere wat nie hul lê wil kry nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2023 - OOP projek