Weerloos
my soeke na die onbepaalbare
is nêrens.
daardie nêrens wat oral is, êrens
uitgevee uit my hart
afgestof tussen spinnerakke
géén window cleaner, spirits of gewone seep
maak die sig binnetoe helder
tussen rottemis en vullis is daar spore van iets wat eens was
die naaste aan die antwoord
op die deurmekaar soeke
na moeilike antwoorde
maklike vrae
ewig raak die sirkel se omtreklyne verder weg
die middelpunt dans sy riel en
steek stof op
die padkaart geel, verdroog krummel in stukke
konfettie op my vellies se sole
verby die flenter riempies
sokkies vol gate
papierdorings
skerp klippe dring deur
beweer húl ideologie is die ware “testament”
neé, die énigste “openbaring”
dikgat geleerdes met hul togas
pruike, skynheilige stellings
“my geleerde kollegas, my lordship”
sien vakansiehuise, oorsese toere
‘n golf game vir ‘n dag wanneer
daar weer uitstel is
my soeke
‘n spel waar die siel droog hang
souttrane, in huisloosheid
laat dit in die wind wegval, verkrummel
die énigste hoop die lewelose draadhakkie waaraan ek hang
wanneer die wind waai trek my
sirkel sy omtrek
hang dit aan die beweerde middelpunt
van alle lewelose smeking:
“God, hélp my”.
(© labri)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.