~ Winter heks ~
in gletsers van haar bevrore hart
keep sy woorde uit kristal
woorde van blou
van bleekwit kou
(die Antarktika in sy oë steeds die pasaangeër
van haar sneeubedekte treë)
en sy dans
sy dans mosaiek patrone onder ‘n vol blou maan
sy vriesbrand teen kromgetrekte seders (soos elke Junie)
molm teen gebroke lag,
teen kepe van bitterals om sy mond
(slegs haar gedagtes die herwonne geboortegrond
van verlore somer sonne)
en sy dans
sy dans mosaiek patrone onder ‘n vol blou maan
soos elke jaar, kwas sy ingesakte klowe en somber kranse
met swartryp en silwer kaggelroet
nie omdat sy wil nie
maar oor sy moet
(hy was immer eens haar lank verwagte lente)
en sy dans
sy dans mosaiek patrone onder ‘n vol blou maan.
© Almarie Truter
4 Kommentare
-
-
Toom
Goed so! Na die afgelope europese winter vries ek saam. Ek ken daai ding! Baie mooi uiteengesit. Dankie. GvT
-
Kiekies
Fabulooslike werk!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Sjoe n lae buiging voor hierdie briljante gedig!!! PUIK gepen!!!