SUID
Suid
Hier sekel Bolandberge, hier groei varings teen ‘n kop
maar elders – waar hul vry voel – raak zebras
weg oor rante onder dawerend’ galop.
Die gompou en die korhaan skarrel tussen gras
benee die Kgalagadi hemel hoog daarbo.
Teen die middag brand elk klip in die Karoo . . .
en Namakwaland se dor en vaal
lê as voorspel tot haar blomverhaal.
Garieprivier en bitterbos
kom skemer – is die jakkals los
Tsistikamma groensmarag net voor die sekelmaan verskyn.
By Potberg waar die eland loop (land van aasvoëls,
land van hoop) is die son aan die verdwyn.
En ‘n malgas vlieg terug huis toe, uit die blou en koue see
oor die weskus met sy suidoos wat so waai – waar branders
al vir eeue breek, teen die strand by Lambertsbaai
© C. Shaw
17 Mei 2016
5 Kommentare
-
neels
Carma op haar beste
-
Kiekies
Agge toggie tog....ek wil iets kommentaar, maar geen woorde weerklank die manjefiekheid van hierdie uitmuntende gedig nie.
-
Koekekranka
Hierdie is nou asemsnak mooi! Pragtig pas nog beter, maar die siel roep dit as uitstekend!
-
Ronel Janse van Vuuren
Pragtig. Ek hou veral van die teenstellings hier: "en Namakwaland se dor en vaal lê as voorspel tot haar blomverhaal"
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Teenstellings projek