winter in die Wes-Kaap
die winterwind huil oor kaal gebarste aarde
slaan vas teen toe ruite
poele lugspieëling water
wink blink in ver paadjies daar buite
buite mens en dier se bereik
‘n boer val smekend in die stof
sy oë moeg na die hemel gestaar
tog kyk hy op bring hy steeds lof
sy woorde deur die wind gedra
“Here al het ek als verloor
mislukte oes geen skaap meer oor
nogtans sal ek bly glo.”
Habakuk se gebed stort oor sy lippe
wagtend vir genade van bo
reën en trane drup oor dorre klippe
‘n wolk verskyn uit die niet
so groot soos ‘n mensehand
strome van seën word uitgegiet
oor ons mense oor ons land
©Evanthe 2017
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus As seisoene vir ons draai projek