Wolraad Woltemade (Silwer)
‘n winterwoes noordwester het daardie dag gewaai
die skip De Jonge Thomas het sy laaste seil gedraai
die golwe was verwoestend die aanskouers was geskok
wat eers ‘n avontuur was word die dood in Tafelbaai
die soldate op die strand kon magteloos net staan
die strome was te sterk om die see in te gaan
en in die vroeë oggendmis deur die branders en die skuim
breek die skip in twee as die waters oor hom slaan
dis te veel vir die bemanning dié waterdood wat dreig
en ‘n skok vir jonge Christiaan toe hy sy pa op Vonk sien ry
‘n goeie boer en vader wie kos vir sy seun wou bring
nou ‘n lewensredder wie die see in moet dring
sonder om te aarsel het hy sy perd se kop geswaai
strandaf gegallop en die deinings ingedraai
hy prewel sy gebede en hy hou sy hande hoog
in ‘n see van verwoesting reageer hy in geloof
so red hy veertien manne twee twee op ‘n slag
en in die agste reddingspoging met hul laaste greintjie krag
verloor man en perd die stryd
in die breking van die dag
dit is ‘n bitter beker wat die noodlot vir hom skink
as hy bibberend in vrees aanskou hoe sy pa en perd verdrink
in ‘n oomblik van verbystering jeens die wreedheid van die see
is die pa held van ‘n jong seun aan die mensdom oorgegee
Wolraad Woltemade het die ewigheid betreë
A Fourie (Seirdna)
3 Kommentare
-
Riaan Palmer
Dit bly so 'n hartseer verhaal. Uitstekende weergegee in digvorm!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2021 – OOP-projek