geloof van ‘n vrou
geen oes op die land
alles swart verbrand
geen diere in die kraal
als gestroop en kaal
tog gierige hande bly
rondom my
eis nog meer
maak so seer
my kind kan ek nie meer vashou
nie beskerm teen honger en kou
optel as sy val of seerkry
sy is lankal nie meer by my
moes in die kerkhof agtergebly
ek gevangene maar tog vry
al eis die vryhand als van my
sal hy nooit my siel kan kry
verneder verniel
tog heel bly my siel
want geen mens se haat
sal dit ooit kan raak
bloedbevlek maar sneeuwit
als wat ek verloor het bly in my besit
ek weet so seker as wat ek leef
uit roet en as sal ‘n wit ibis sweef
die bouers sal weer terugkom
blomme sal weer blom
gesaaides weer opkom
kleinvee weer in die kampe wees
vroue weer kan leef sonder vrees
kinders weer kan speel en lag
‘n nasie opstaan na die slag
al is ons hoe verneder hoe verniel
behou ons ons ongeskonde siel
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Viooltjie
Baie goeie en netjiese werk, Elroux :-)