Vreugde in die more
Vreugde in die môre
Die westerkim bloei met die magiese magenta van die sterwende son
tik… tik… tik… tik sleepvoet sekondes stadig een vir een
vir oulaas gryp sonstraalvingers vergeefs vir ʼn vashouplek
skielik is ek stoksielalleen… en ek ween.
Ek huil oor ʼn dag wat verby is
ek huil oor ʼn lewe vermors
ek huil oor my hart wat begraaf is
ses voet diep in die aarde se kors.
As die maan haar lig saggies oor my bed uitgooi
en die sterre skelm-skelm vir my knipoog
as die nag se skadu’s drogbeelde optower
huil ek steeds, maar my trane is droog.
Maar as die môre my met rooidagbelofte kom groet
en doudruppels skittersilwer op die vroegoggend gras
trek ek my grou grys hartseer jas van my skouers af
en bêre dit in gister se verslete tas.
©Stephan Uys 2018/08/25
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.