Vandag is my pa 60 (17 Maart 2019)
Vandag is my pa 60.
Hy is oud. Ek meet dit nie in jare nie, my ouma is immers al oor 80 … nee, hy is oud van leef. Oud van stresse wat ek eers nou in hom begin raaksien. Oud van siektes en kwale. Oud van kinders en kleinkinders. Oud van staande bly en nooit mag omval nie.
Ek is lief vir my pa. Sonder om minder lief te wees vir my ma, is hy naas my kinders die waardevolste mens in my lewe en dit is eintlik uit selfsug dat ek elke aand bid dat hy gespaar moet bly. Ek kan nie sonder hom lewe nie. Nie nou al nie. Ek is nie reg daarvoor nie.
Die band wat ek met hom het kan ek net verstaan gemeet aan die band wat ek met een van my eie kinders het. ’n Diep gewortelde verstaan van siel en menswees; van hart tot handeling eenders. Die enigste mense wat dink soos mekaar.
Hierdie band moet nie verwar word met liefde nie. Ek het my kinders ewe lief. Ek het my ma net so lief. Maar ek verstaan haar nie en ek verstaan nie al my kinders nie. Vir wie hulle in wese is, het ek ’n menslik gebrekkige begrip. En ek werk aan die verhoudings en die bande met elk van hulle want in kosbaarheid hang die skaal ewe laag.
Ek wil nie soos ander kinders sê ek het dit of dat by my pa geleer nie. Ek het al die ditte en datte by my moeder geleer. Nee, ek is te veel soos my pa, daar waar ons eenders handel het ek dit van hom ge-erf en waarvoor ek die meeste dankbaar is, is die erf van sy hart. Die goedgunstigheid en die manier waarop hy liefde wys -nie deur dit te sê nie, maar deur diensbaar en behulpsaam te wees.
Ek is dankbaar vir onvoorwaardelike liefde, vir hande wat altyd reg staan om te help, vir goedheid en guns. Ek is lief vir my pappa.
4 Kommentare
-
-

Ronnie
Ag my mensie moet nie so alleen voel nie ... ek dink net jou ma se ma verstaan haar .... baie mooi geskryf ... wys vir jou pa.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
Ek hoop hy het hierdie stukkie gelees.